Ons het skaars aan die berugte Van Zylspas begin ry, met net die rowwe ent pad voor die pas agter ons. Sonder selfoonontvangs en ’n satellietfoon (en ’n koppelaar) is ons letterlik gestrand, sowat 900 km noord van Windhoek in die hartjie van Kaokoland.

“Bel gou die AA,” probeer ek nog ’n grappie maak.

Van Zylspas is nie ’n bergpas wat jy sommer sonder handskoene – of ’n koppelaar – aanpak nie. Dis berug, legendaries en op plekke erg moeilik om te ry. Wat nou?

Ons kan seker terugdraai Okangwati toe, sowat 80 km noordoos (en vier uur se ry) van hier, maar daar sal ons beslis nie gehelp kan word nie. Die “vulstasie” op dié nedersetting pomp nog diesel met ’n handpomp uit oliedromme. Van herstelwerk is daar nie sprake nie. En onderdele vir ’n Geländewagen kan jy maar op jou maag skryf.

Dis berug, legendaries en op plekke erg moeilik om te ry. Wat nou?

Ek sleep die Geländewagen na ’n plat, sanderige plek langs die pad sodat ons onder die voertuig kan inseil. Die probleem is gou duidelik: Die rubbergedeelte van die hidrouliese koppelaarpyp het gebars. Waarskynlik die werk van ’n skerp klip.

 “Gaan jy sonder koppelaar die pas kan afry?” vra ek my swaer nadat ons die stukkende rubberpyp uitgehaal het.

Hy antwoord nie dadelik nie. “Ek gaan eers dink,” sê hy ná ’n ruk, en stap die bosse in.

Wit sand en palmbome

Toe ons groep van ses in twee voertuie, ’n Mitsubishi Pajero en ’n Mercedes-Benz Geländewagen, mekaar ’n paar dae vroeër suid van Etosha gekry het, was koppelaarprobleme die laaste ding in ons gedagtes.

Ek, my vrou, Charmelle, en seun, Jacques, van Pretoria sou saam met my swaer, Martin Laubscher, skoonsuster, Annelize, en hul dogter, Martinique, van Walvisbaai deur Kaokoland toer.

Op pad noord is die normaalweg dorre Kaokoland verbasend groen met geel blommetjies net waar jy kyk. En selfs in April is party paaie nog nat en verspoel.

Ons vakansie begin (amptelik) luilekker op die oewer van die Kunenerivier by die Kunene River Lodge in Ruacana, met Angola wat rustig aan die ander kant van die rivier lê en bak.

Sommer die eerste oggend, toe ons wakker word met die gekoer van rooioogtortelduiwe, besef ons dis ’n spesiale plek dié. Die plan is om hiervandaan rivierlangs te ry tot by die Epupa-waterval, maar hoewel dit nou al ophou reën het, is die pad steeds onbegaanbaar.

Die Kunene het ná die oorvloedige reën wyd geloop en die pad is plek-plek verswelg. Die eienaar van die lodge het die vorige dag probeer om die sowat 100 km rivierlangs na Epupa met ’n ou Samil 20-vragmotor te ry, maar is in sy spore gestuit.

Ons enigste keuse is nou om die makliker roete, binnelands om van Swartbooisdrif af, waar die Dorslandtrekkers die rivier oorgesteek het, oor Okangwati tot by die waterval te ry.

Die Epupa-waterval is ’n ervaring wat woorde nie eintlik kan omskryf nie. Hier tuimel die Kunene met ’n hoofval en ’n klomp sekondêre valle oor rooi granietrotse. Op eilande tussen die valle groei ’n paar kremetartbome, oënskynlik uit soliede rots. Asemrowend.

Ons kampplek by die Omarunga-kamp is amper te goed om waar te wees. Op wit sand, letterlik teenaan die Kunene, slaan ons tent op onder groot makalanipalms.


As die nood druk…

Ná twee nagte by die waterval vertrek ons na Van Zylspas, oor Okangwati en Otjitanda.

Sowat 15 km voor die pas by die dam (dis die enigste dam in die omgewing en mense wat die roete ken, praat almal net van die “dam”) besluit ons om te oornag sodat ons die volgende dag heeldag opsy kan sit vir die pas.

Hoewel die pas net sowat 11 km lank is, moet jy dit baie stadig en versigtig ry en soms padbou as jy nie jou voertuig wil seermaak nie. Ons vorder fluks aan die deel voor die pas tot die koppelaarprobleme ons vordering stuit.

Martin vaar die bosse in om ’n plan te bedink, Charmelle en Annelize slaan ’n tafel op en begin middagete aanmekaarslaan. Ons is omring deur klipkoppe, maar die onsekerheid hang swaar in die lug en ons neem maar min van dié bosagtige wildernisgebied in.

Ná ’n ruk is Martin terug – met ’n plan. Hy gaan die staalgedeelte van die koppelaarpyp herlei en op dié manier die gebarste rubbergedeelte omseil.

Ons is omring deur klipkoppe, maar die onsekerheid hang swaar in die lug en ons neem maar min van dié bosagtige wildernisgebied in.

Twee uur later, nadat die staalpyp by sy hegpunte losgemaak, ’n paar draaie reguit gebuig is en outomatiese ratkasolie nou in die plek van remvloeistof loop, is ons gereed vir die res van die pas. (Terloops, Martin se selfdoen-herstelwerk het tot aan die einde van die vakansie gehou.)

Ons ry sukkel-sukkel die pas af, met Jacques wat meestal voor loop en aanwysings gee sodat ons die groot klippe kan misry. Die pas is op heelwat plekke verspoel, en net waar ons kyk, is daar skerp klippe. Boonop is die ompaaie nog nie mooi oopgery nie.

Maar die berghange is oortrek met geel blomme en ons hou kort-kort stil vir ’n foto.


Skuifel-skuifel oor die pas

Uiteindelik kom ons by die Marienfluss-uitkykpunt aan, en almal is verlig om uiteindelik te kan bene rek. Die uitsig is verstommend mooi, die berge maak oop en ons weet die einde van die pas is net om die draai.
 
Hiervandaan is dit sowat 2 km tot die onderkant van die pas, maar in dié deel kry jy ook van die steilste stukke. Dis laestrek, eerste rat heelpad tot onder.

Omdat die Pajero ’n outomatiese ratkas het, moet ek redelik rem trap. Boonop is daar kort-kort ’n wiel wat nie meer grond raak nie, maar gly-gly en skuif-skuif kom ons veilig onder. (As jy die herstelwerk buite rekening laat, het dit ons twee en ’n half uur gevat om die pas te ry.)

Onder spoeg die pas ons uit op die Marienfluss, ’n grasvlakte tussen die Otjihipa- en die Hartmannberge wat jou noordwaarts na die Kunene terugvat.

Die Marienfluss is oortrek met lang gras ná die reën, maar nou en dan sien jy ook kolle sonder gras – die sogenaamde feetjiesirkels.

Noordwaarts tot by die Kunene is die pad sanderig en goed sinkplaat gery, maar as jy jou bande afblaas, vind jy gou ’n spoed waar die sinkplaat nie te veel pla nie. Ons ry met gemak teen 60 km/h.

Dis laestrek, eerste rat heelpad tot onder...

Twee aande lank kamp ons regs langs die Kunene by Kamp Syncro. Hier teen die rivier is daar genoeg skuilplek onder anabome teen die fel son. Selfs die nagte is warm, en ons gooi al die tentflappe oop.

Die oggend van die derde dag vertrek ons vroeg en ry terug deur die Marienfluss, verby die afdraai na Van Zylspas en oor die Rooidrompas.
Hoewel dit nie werklik ’n pas is nie, is die pad af en toe baie skurf en moet jy maar stadig oor die klippers. En moenie ’n petrolstasie by Rooidrom verwag nie. Al wat daar is, is ’n rooi geverfde drom.

Die pad is lank en die passasiers word maar moeg, maar die omgewing vergoed gelukkig daarvoor. Plek-plek is dit bebos met mopaniebome en doringveld. En in die ooptes, oortrek met gras, sien jy troppe springbokke en gemsbokke – en hier en daar ook Himba-beeste.


Al agter die olifante aan

Ons is nou redelik na aan ons volgende bestemming, Purros, in die middel van Kaokoland met sy uitgestrekte vlaktes, skurwe berge en (gewoonlik) droë rivierlope.

Maar omdat niemand in dié deel van die land kredietkaarte aanvaar nie, moet ons eers ’n draai van sowat 500 km op ’n paar onbeskofte paaie na Opuwo ry om geld te trek, en daarvandaan oor Sesfontein na Purros waar ons twee aande langs die Hoarusibrivier gaan kamp.

In dié deel van Namibië kan jy wild soos renosters, koedoes, sebras en kameelperde in hul natuurlike omgewing sien. Maar eintlik is ons hier vir die reuse van Kaokoland, die woestynolifante. (Nadat ons daar was, het ek gehoor mense het leeuspore in die rivier gekry. As ek dit geweet het, sou nie ek so maklik snags badkamer toe gestap het nie…)

Die kampplek by Purros het ses staanplekke, taamlik ver uit mekaar langs die rivier. Ons hoor by ander kampeerders van olifante in die rivierloop, maar sien niks.

Ná ontbyt die volgende dag ry ons stroomaf. Die rivier is net ’n smal lopie met ’n breë sandoewer en ons vorder flink. Nie ver nie of ons sien die eerste olifante – ’n trop met ’n kleintjie.

Ons ry verder rivieraf in die rigting van die Hoarusibpoort, en ná ’n ruk kry ons ’n trop van ses olifante. Hier het die rivier heelwat meer water en kan ons nie verby die olifante kom sonder om hulle te steur nie. Stadig kruie ons agter hulle aan terwyl hulle al etende in die rivier afstap.

Ná ’n ruk besluit Martin om die stroom oor te steek. Maar net aan die ander kant van die lopie sak sy voorwiele weg in die sagte, nat sand. Ek kry hom gou uitgesleep, maar ons besef ons sal versigtiger moet wees, veral op die nat dele.


Van haastigheid kom lastigheid

Ons kruie nog ’n ruk lank agter die olifante aan. Toe die grootpote ’n tydjie later in digte oewerbos inswenk, sien Martin sy kans om verby hulle te kom. Ek besluit om eerder deur die rivier te ry, en stuur Jacques te voet vooruit om die rivieroorgang te verken. Sonder sukkel kom ons daardeur, almal uiteindelik verby die olifante.

’n Klein entjie verder kom ons by die Hoarusibpoort, en weer moet Jacques seker maak die roete is begaanbaar. Wat ’n belewenis om so in die wildernis deur ’n poort te kan ry waardeur ’n rivier vloei.

Nog twee keer hierna moet ek Martin se voertuig uit die sagte sand sleep. Met dié uitslepery kom ek agter die kolle sagte sand is betreklik klein – jy loop nog op stewige grond, en val die volgende oomblik kniediep weg in ’n soort dryfsand.

Ná die tweede uitsleep neem ek die voortou en besluit om vinniger te ry om die probleem van die vasvallery te oorkom. Dis net jammer ’n mens kry nie pille vir onnoselheid nie…

Net sowat 2 km anderkant die poort val my kar vas tot op sy asse. As ek die kar in rat sit, begin al vier wiele tol nog voor ek die versneller kan trap. Nie ewenaarslotte of afgeblaasde bande gaan my hier uitkry nie.

Martin het intussen tot op stewiger sand gery en probeer my uittrek. Hy pluk só hard dat sy kar bokspring, maar die Pajero roer nie eens nie. Ons probeer die onderstel oopgrawe, maar met elke uitskepslag vloei net soveel sand weer terug. Jacques begin later ’n sloot grawe om die water van die Pajero te probeer weglei.

Nie ewenaarslotte of afgeblaasde bande gaan my hier uitkry nie.

Intussen begin ek en Martin om die Pajero op te domkrag, maar die klippe onder die domkrag word net weer in die sand ingedruk. Uiteindelik kry ek ’n groot klip op die rivieroewer wat ek nader rol en onder die domkrag sit. Die domkrag sak eers effens weg, maar steek toe vas, en ons kry die agterkant van die kar opgelig.

Hierna sit ons klippe onder die wiele in, en Jacques grawe die kar in ’n japtrap oop. Twee uur later, ná baie sweet en frustrasie, is die Pajero weer op droë grond. (As ons ’n lugsakdomkrag gehad het, sou ons onsself baie ergernis gespaar het.)

Ons ry traag terug na die “beskawing”, en probeer ons Kaokoland-avontuur so lank as moontlik uitrek. Die terugtog deur die Hoanibrivier, Sesfontein en Palmwag, en die mense wat ons teëgekom het, het bevestig wat ons al lankal vermoed: As Kaokoland jou eers byt, skud jy dit nie sommer af nie.


Wenke vir Kaokoland:
  • Ry drinkwater en brandstof vir die rit van Ruacana af tot by Sesfontein saam. As jy die Hartmannsvallei wil sien, neem nóg meer brandstof saam.
  • Wees selfversorgend, maar leef basies. Los die luukshede by die huis.
  • Moenie sonder ’n GPS met Tracks4Africa-kaarte gaan nie. Daar is net te veel afdraaipaadjies.
  • Neem kontant saam. Baie kampe en lodges aanvaar nie kredietkaarte nie.Ons was spyt ons het nie ’n lugsakdomkrag saamgeneem nie.
  • Wees goed toegerus om jou voertuig uit die moeilikheid te kry. Om met ’n enkelvoertuig te ry is ’n risiko.


Hierdie artikel kom uit ons argief ; dit is oorspronklik in WegRy gepubliseer.