Toe BMW die Mini uit die dood laat herrys, hier rondom die aanbreek van die nuwe eeu, het hy aanvanklik met ’n tradisionele tweedeurluikrug volstaan. Maar toe die tweede geslag ’n dekade gelede uit die aanleg ry, het BMW besluit om verskeie weergawes te bou. Daar is die Clubman, ’n sesdeur-stasiewa waarvan die agterdeure na links en regs oopswaai; die Paceman is ’n roadster met ’n afslaandak; en dan is daar die Countryman soos die een wat ons hier toets.

Aangesien die wêreld deesdae sportnuts-betotteld is, is die Countryman die slimmer keuse uit die Mini-stal. BMW het beslis ’n wenresep beet, maar wat is anders aan die John Cooper Works?

Hierdie spesiale weergawe kry ’n frisser lyf met groter inlate voorlangs wat lug insuig om die enjin te voer én die skyfremme vir die voorwiele af te koel. Hy het ook vaartbelynde spatlyste onderlangs en ’n agterbuffer met ’n windverspreider om die Mini se sleursyfer te verlaag. Selfs die syspieëltjies is vaartbelyn en die 18”-wielvellings (opsionele 19”-vellings is beskikbaar) en drukvlerk op die agterdeur rond die voorkoms af. En jy moet natuurlik nie die Union Jack-motief in die remligte vergeet nie!

Sterkste nóg

Die vorige geslag John Cooper Works-Mini’s het ’n 1,6 l-turbopetrolenjin gebruik. Hy was sterk genoeg om 160 kW en 280 Nm op te wek, maar nou is daar ’n 2 l-bulletjie onder die enjinkap. Dis die grootste enjin wat nóg in ’n Mini gebruik is – buiten die spesiale X-Raid JCW-tydrenmotors wat tot onlangs deur die Mini ALL4-span in die Dakar-tydren gebruik is waarin sessilinder-turbodiesels gebruik is. Die 2 l-enjin kom uit Duitsland en is ook beskikbaar in die basismodel-Countryman en Countryman S.

Om die John Cooper-kenteken te verdien moes die enjin aangehelp word deur ’n groter luginlaat, ’n groter turboaanjaer, unieke suiers en suierstange, reëlbare klepverstelling en BMW se befaamde reëlbare nokas-manipulasie aan die in- en uitlaatkant van die silinderkoppe. Die omvattende veranderings lei tot merkwaardige werkverrigtingsyfers: 225 kW en 450 Nm – onderskeidelik 32% en 28% méér as sy voorganger.

Maar dit beteken nie jy word by die vulstasie gestraf nie. Mini beweer hy’t ’n verbruiksyfer van slegs 7,9 l/100 km en koolstofdioksiedvrystelling van slegs 155 g/km. Die enjinkrag word na die padoppervlak herlei deur ’n agtspoed- outomatiese ratkas en allewielaandrywing. Daar is ook ’n meganiese ewenaarslot op die voorste as wat keer dat die Countryman die pad byster raak wanneer jy hard versnel.

Om die Countryman se bakwerk stewig te hou met al daai krag is daar ’n spar óór die enjin vasgesweis en dubbele versterkings ónder die enjin. En om die haastige Mini tot stilstand te bring is daar 360 mm-skyfremme voorlangs en 330 mm-weergawes agterlangs – en almal van hulle word vasgeklem deur viersilinder-knypers.

ROOI RENSTREPE. Die John Cooper Works-kentekens verklaar dat hierdie model minstens twee vlakke verhewe is bo gewone Mini’s. Pasop, hy’s giftig!

Agter die stuur

Met die bekendstelling was daar ongelukkig nie ’n geleentheid om die allewielaandrywing op ’n grondpad te toets nie, maar ons is darem vermaak deur ’n gebrul uit die dubbele uitlaatstelsel. Selfs al luier jy rustig deur dorpstrate, is jy deurentyd daarvan bewus dat die ALL4-stelsel al die beskikbare wringkrag na die voorwiele stuur, iets wat help om brandstof te bespaar. Dis slegs wanneer die stelsel opmerk dat die voorwiele gly dat krag na ál vier wiele gestuur sal word.

Jy kan die kragverdeling monitor op die raakskerm op die middelkonsole, waar jy duidelik kan sien in watter modus die Countryman is. Jy het nie eens ’n grondpad nodig om te sien hoe krag na die agteras gestuur word nie, want as jy die petrolpedaal wegtrap by ’n verkeerslig, is daar genoeg krag om die voorwiele te laat tol en die agterwiele te laat inskop.

Slotsom

Die John Cooper Works-kenteken was nog altyd beperk tot diegene wat hou van werkverrigting met ’n goeie skeut renbaan-DNS. En daar is genoeg John Cooper-kentekens oral op die bakwerk en in die binneruim om voetgangers en passasiers te herinner dat hierdie ’n baie spesiale ryding is. Die Countryman JCW hoort op ’n renbaan, maar hy behoort ook goed te presteer op ’n grondpad mits jy die 19 duim-vellings los en eerder by die meer sinlike 18 duim-wiele bly.

Nuwe rygoed
Mededingers

SPESIFIKASIES

Model: Mini John Cooper Works ALL4 Countryman

Enjin: 1 998 cc, viersilinderturbopetrol

Krag: 225 kW @ 5 000 r.p.m.

Wringkrag: 450 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas: 8 spoed-outomaties

Topspoed: 250 km/h

Bagasieruim: 216-912 l

Tenk: 50 l

Diensplan: 3 jaar/75 000 km

Veiligheidsgradering: * * * * * (EuroNCAP)

Prys: R708 000