foto’s Leon Botha

Danksy tegnologiese vooruitgang die laaste paar dekades is vandag se voertuie ekonomieser, veiliger en heelwat sterker as voorheen.

Die Audi Q3 is ’n sprekende voorbeeld hiervan. ’n Halwe eeu gelede het Audi se naasgrootste petrolenjin – die 1,5 l in die 1972-model Audi 60 – 114 Nm gelewer. Deesdae skop die Q3 se 1,4 l-petrolenjin meer as twee keer soveel krag uit, wat natuurlik beteken jy sleep met ’n groot glimlag tot in die kampplek.

Drie modelle van die Q3 is beskikbaar, almal met dieselfde petrolenjin (1 395 cc) wat 250 Nm en 110 kW uitskop. En al drie modelle het dieselfde seepgladde outomatiese ratkas.

Die prys van die goedkoopste en duurste model verskil met skaars R34 000, en as jy ’n bykomende R10 500 uithaal, kan jy die Q3 met die opsionele sleepstang toerus.

Wat sê die syfers? Volgens die boekie kan die Q3 ’n geremde woonwa van tot 2 000 kg sleep, maar dié gewig verskil op die spesifikasieplaatjie in die deur. Hierop staan jy word beperk tot 1 800 kg. As jy die brutovoertuigmassa (BVM) van 2 055 kg van die brutokombinasiemassa (BKM) van 3 855 kg aftrek, los dit jou inderdaad met ’n maksimum toegelate sleepvrag van 1,8 t.

Dit is egter net teoreties, want sy tarragewig is 1 435 kg, wat beteken die woonwa se BVM mag nie dié syfer oorskry nie. Daarby het die elektriese uitswaaistang ’n vragtoetsindeks van 12,6 kN. Dis gelykstaande aan 1 285 kg.

Jy is wel nie beperk tot dié gewig nie, maar dis die massa waarteen die stang se vragtoets uitgevoer is. Teen die bakwerk is ’n plakker wat sê die stang het ’n maksimum vertikale gewigsperk van 90 kg, terwyl die stang self vir 100 kg gesertifiseer is. Dis ook die maksimum wat ons wetgewing vir die neusgewig van jou woonwa toelaat.

Hierdie syfers is nommerpas vir ’n middelslag-padwoonwa. Ons haak ’n nuwe Sprite Swing met ’n BVM van 1 240 kg en kyk wat in die Q3 steek.

Gereed vir sleep

Hierdie is die tweede geslag van die Q3 en hy is effens groter as sy voorganger: 9,6 cm langer en 1,8 cm breër (ook die asafstand is 7,7 cm langer).

Wanneer ’n mens inklim, vóél die motor ook ruimer, en as dit by elektronika kom, steek hy nie af teen sy grootbroers nie – selfs nie die Q8 nie. Die pakruimte in die deure is só ruim jy kan omtrent jou hele arm daarin druk, en die mense op die agtersitplek kan ook nie kla nie: Buiten die pakplek in die deure is hier ook ’n langwerpige smal bakkie weerskante van die sitplek waarin die jong klomp inkleurpotlode of ekstra USB-stokkies kan bêre. Dís mos nou prakties.

Soos op die meeste nuwe nutsvoertuie het die Q3 ’n elektriese stang, in dié geval ’n Oris-Matic. Maar dis net die losknipmeganisme wat eintlik elektries is. Om die stang van agter die buffer af te laat uitswaai, trek jy ’n knoppie regs agter in die laairuimte.

Sodra jy dit doen, laat los die knip en die stang swaai halfpad uit. Nou moet jy hom met die hand verder om die buffer swaai en oplig totdat hy op sy plek inklik. Om die stang weer terug te slaan trek jy dieselfde knoppie en die haak swaai weer af, waarna jy hom die laaste ent agter die buffer instoot. (Dié knoppie werk nie wanneer die kar beweeg of as die luikrug toe is nie.)

Die los ligteproppastuk moet in die skaggedeelte van die stang ingeprop word sodat plaaslikvervaardigde woonwaens se ligteproppe hierin kan pas. Wanneer jy terugstoot na die wa toe en die truskerm wil gebruik, skakel sommer vroegtydig die Trailer View hierop aan. Nou wys ’n reguit lyn op die skerm weg van die stang af.

Soos jy die stuur draai, krom die lyn in die rigting waarheen jy terugstoot, en só kan jy sonder hulp tot teen die koppelstuk van die woonwa terugry. Sodra jy die woonwa koppel, weet die rekenaar dit en deaktiveer die Trailer View; ook die trusensors swyg dan wanneer jy met die wa terugstoot. In die agtergrond hou die Q3 boonop ’n ogie oor die woonwa se ligte. Wanneer jy die flikkerligte gebruik, flikker ’n dubbele groen pyltjie links in die instrumentepaneel.

Dit beteken alles werk soos dit moet. As dit nie dubbel so vinnig as die flikkerligte flits nie, makeer iets by die ligte. Die Q3 se sleepwa-stabiliseerstelsel is ’n integrale deel van sy elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC), wat inskop sodra jy vinniger as 65 km/h ry. Jy kan ook saam met die stelsel ’n stabiliseerder op jou wa gebruik, maar Audi waarsku ’n mens moenie vinniger as 80 km/h sleep nie.

Met ’n stabiliseerder is die perk 100 km/h.

Wat sê Pieter Crous, ons woonwasleepkenner?

Dis verbasend hoe gemaklik die Q3 ’n woonwa sleep in die stad. Jy weet omtrent nie van die wa nie, en dis moeilik om te glo die kar het so ’n klein enjin.

In baie outomatiese voertuie kan jy nie deurentyd sien in watter rat die kar is nie. In die Q3 het jy nie daardie probleem nie, selfs in die gewone Drive-modus. Boonop kry jy naas die elektroniese analoë meter ’n digitale spoedlesing. Omdat die Q3 met die voorwiele aangedryf word, verwag ’n mens die stuur gaan reguit trek as jy wegtrek met die stang effens gedraai, maar dit is glad nie die geval nie.

Op die snelweg ry hy heel gemaklik met die woonwa van amper ’n ton. Teen 110 km/h kies die ratkas vyfde rat en die toere is rondom 2 500 r.p.m. Die klein enjin behou die momentum van die sleepkombinsasie gemaklik, en jy kan selfs versnel as jy teen lang bulte moet uit. Jy kan hoor die enjin werk hard, maar hy sukkel beslis nié.

En die padhouvermoë, veral as jy kyk hoe hy in die draaie klou met die wa op die stert, is soos dié van ’n sportmotor. Die wind druk vandag hard van die kant af, maar ’n mens voel dit nie. Dis verbasend, veral as jy na die fisieke grootte en oppervlakte van die woonwa kyk. Die Q3 is eintlik ’n relatiewe ligte motor. Aanvanklik het ek nie gedink sy 250 Nm is voldoende nie, maar dis meer as genoeg en dit voel sterker as wat die syfers te kenne gee.

Die motor se versnelling van 80-120 km/h het my die meeste verras: slegs 13 s, wat goed vergelyk met heelwat sterker voertuie (dit was wel in die Sport-modus). Die brandstofverbruik is hoog, maar dis te verwagte omdat die petrolenjin moet uithaal en wys om te vergoed vir die grootte. Met sy syfer van 14,5 l/100 km (dit is 6,9 km/l) kan jy net meer as 400 km ver sleep vóór jy weer moet volmaak. Ek voel oor Audi soos oor Volkswagen: Elke keer wanneer ek met een sleep, is ek beïndruk.

Ek moet wel sê die Q3 dra ’n stewige prysetiket.

Die elektriese haak kruip agter die buffer weg. Wanneer jy dit wil gebruik, trek die knoppie in die laairuim en die haak swaai uit sodat jy die wa kan haak.
Die sleepding

Fabrikaat: Sprite Model Swing Jaarmodel 2019

BVM: 1 240 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets: 940 kg

Ry en Sleep het die nuwe Sprite Swing by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by  021 982 4670 as jy die Swing van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Sleeptoets
Sleeptoets
SPESIFIKASIES

Model: 35 TFSI S line S-tronic

Enjin: 4 silinder-turbopetrol

Krag: 110 kW

Wringkrag: 250 Nm

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Aandrywing: Voorwiele

Tenk: 64 l

Brandstofverbruik met woonwa: 14,5 l/100 km (6,9 km/l)

Reikafstand met woonwa: 442 km

Tarragewig: 1 435 kg

Gewig tydens toets (neusgewig van wa ingesluit): 1 900 kg

BVM: 2 055 kg

BKM: 3 855 kg

Kombinsasiemassa tydens toets: 2 840 kg

Sleepvermoë: 2 000 kg

Sleepstang se maksimum trekgewig D-waarde: 12,6 kN (1 285 kg)

Sleepstang se maksimum vertikale gewig: 90 kg

Is die stang verwyderbaar? Nee

Is daar plek vir ’n sakplaat? Nee

PRYS: R599 000

PRYS SOOS GETOETS: R782 750

Inligting

Afstand: 97,3 km

Gemiddelde spoed: 39 km/h (snelweë, agterpaaie en beboude gebiede)

Rytyd: 2 uur en 30 minute

Weer: 21 ºC, deels bewolk met ’n sterk suid-suidoostewind van 31 km/h.