Is daar Tupperware in die kombuis, Grasshoppers in die skoenekas en ’n Weed Eater in die Wendyhuis? Dan’s die kanse goed daar’s ’n Polo in die motorhuis. Dis waarskynlik ’n witte, want Jan Rap ry mos ene. En sy maat? Hy ry ook ’n witte.

As jy die volgende keer in spitsverkeer voortkruie, kyk ’n bietjie na die Polo’s rondom jou. Dis soos om skape by ’n Karookraal te tel... jy gaan voel hoe jou oë swaar word en sommer nou-nou klap jou ken teen jou bors. ’n Sekonde later gaan ’n ou in ’n rooi Polo GTI agter jou vir jou toet om die gaping voor jou toe te maak.

Europeërs het ’n gans ander verhouding met hulle Polo’s as ons. ’n Groot swart of ’n silwer Audi, Mercedes of BMW is die motor van die huis. Die Polo is ’n werkesel – op gelyke voet met die skottelgoedwasser of die tuimeldroër. Dis ’n betroubare toestel waaraan geen emosionele waarde geheg word nie.

Hier by ons is die Polo koning. Toe die geliefde Citi Golf in 2009 die doodskoot gekry het, is dit in 2010 vervang deur die Polo Vivo (basies die vierde geslag Polo) en sedertdien was dit elke maand die topverkoper onder passasiersmotors. Die vyfde geslag Polo, wat in dieselfde aanleg in Uitenhage gebou is, was die naasbeste verkoper.

Nou is daar ’n sesde geslag, wat beteken (en nou moet jy kophou): Polo no. 5 word die nuwe Polo Vivo. Ja, Volkswagen het basies die afgelope agt jaar se suksesresep gekloon. Maar vir die resep om nie te flop nie, moet Polo no. 6 deksels goed wees.

En dit is: Polo no. 6 is ’n dekselse goeie motortjie. Hy lyk ’n bietjie anders as sy voorganger – meer sportief met skerper lyne. Ook minder soos ’n broodrolletjie vars uit die oond, want hy’s ’n rapsie langer, breër en laer.

En dit is: Polo no. 6 is ’n dekselse goeie motortjie.

Maar dis op tegnologiese gebied, veral wat sy nuwe geslag enjins, ratkaste en elektronika betref, waar hy nou as kaptein van die eerste span op die veld draf.

Dis moeilik om te glo dat ’n 999 cc-driesilinder-enjintjie (daar’s ’n 70 kW- en ’n 85 kW-model) so rats kan voel. Selfs die kleinste van die twee turbo-aangejaagde TSI-enjins sal die Polo tot ’n topspoed van 187 km/h aanhits en binne 10,8 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel.

Die hele oefening word nog meer naatloos gemaak deur die toevoeging van ’n uitstekende sewespoed- outomatiese DSG-ratkas. Dit kos nou wel R16 000 meer as die handratmodelle, maar persoonlik dink ek dis elkeen van daai rande werd.

Die ritgehalte – en gebrek aan padgeraas – laat jou dink jy ry in ’n groter en veel duurder motor. Dieselfde bougehalte wat dit moontlik maak, slaan deur in die nuwe, moderne binneruim. Alle ritinligting word nou op ’n digitale instrumentepaneel vertoon terwyl die vermaak- en ander inligtingstelsels deur ’n groot raakskerm beheer word.

Jy kan jou motorpaaiement die stratosfeer injaag deur ’n verskeidenheid van bykomende opsies te kies, selfs een (bekend as Park Assist) waar jou Polo homself parallel parkeer.

Terloops, daar is ’n “Beats”-weergawe met ’n 300 W-klankstelsel waar die amp en subwoofer in die kattebak wegkruip. Die goeie nuus is dat jy die stingel met die peroxide-kuif wat jou dogter skelm op ’n date wil neem, sal hoor lank voordat hy jou gewaar.

Nog beter nuus is dat die nuwe Polo – ’n aansienlik moderner en verbeterde motor – slegs tussen R1 000 en R3 000 duurder is as die model wat hy vervang.

Sy heerskappy aan die toppunt van die treffersparade gaan nog lank voortduur.