foto’s Leon Botha

Quantum Leisure het raakgevat in die plaaslike mark,en ná skaars ’n jaar se besigheid moet dié vervaardiger skarrel om by te hou met die aanvraag.

Wanneer jy Quantum se waens van nader bekyk, verstaan jy hoekom. Die vakmanskap is uit die boonste rak.

Die sterkste eienskap van Quantum se produkte is die afwerking van die romp se buitenste laag. In teenstelling met die gebruiklike aluminium, gebruik Jurie Pienaar, die man agter die wenresep, veselglas – iets wat ook in Europa die tendens is.

Die sypanele, voor- en agterkant én die dak word uit ’n ononderbroke strook veselglas vervaardig. Jurie gebruik wel aluminiumen soliede, waterwerende hoëdigtheidhout in die struktuur waardie dak en kante bymekaarkom.

Die buitekombuis verskil ook heelwat van tradisionele padwaens s’n. Die toetswa se kombuis is regs van die deur ingerig,en wanneer ’n mens inklim, kry jy nog ’n verrassing na regs. Buiten die eilandbed aan die neuskant is daar ook ’n stapelbedagter. Dít sien ’n mens nie in elke wa nie.

Alkant van die deur

Links van die deur is ’n groot buitekas, net die plek vir bonkige kampgoed soos opvoustoele en kratte. Dié ruimte met sy deuropening van 76 x 39,5 cm strek 1,7 m onder die bed in, wat beteken selfs ’n 3 x 3 m-koepeltent in sy sak – mét pale – pas maklik hier in.

In die regop kas regs van die deur is vier rakke waarvan die onderste drie uitgevoer is met uitgesnyde spons. Hierin pas die breekware. Terloops, op die wynglase is ’n netjiese “Q” gegraveer vir ’n bietjie swierige detail, en selfs die ses koffiebekers het ’n unieke ontwerp, ook met ’n groot “Q” daarop. Maar hierop is ook ’n paar pittige sinne geskryf, dinge soos “Hierdie is ’n KAMPioen”...

Die agterkant van die drie boonste rakke is ook ’n deur, een wat aan die binnekant oopmaak as jy byvoorbeeld van binne die wa af ’n glas wil bykom om koeldrank te skink.

Onder die kas is ’n ekstrasmal dwars kas waar ’n glyraam met ’n eetgereilaai uittrek. (Op die nuwer modelle trek jy die gasstoof hier uit, ook op ’n glyraam.) Kopers kan kies of hulle die gasmodel wil hê of ’n induksiestoof.

Jurie het ’n unieke rak vir die wasbakke ontwerp: Dit trek heel regs uit die romp, met die bakke wat parallel met die romp sit. As die rak uitgetrek is, kan jy die hoogte verstel tot waar dit vir jou gerieflik is.

Die LED-buitelig is bo die regop breekwarekas en het twee verstellings. Die een is die tipiese helder witlig en die ander ’n meer besadigde oranje.

Die Comfort het geen kaste in die regterpaneel nie, maar die kragprop se koppelpunt plus die 60 l-watertenk se koppeling is aan dié kant geïnstalleer. Die neuskas maak oop soos die konvensionele waens s’n en huisves onder meer die gassilinder.

Op elke hoek van die wa is ’n stewige versonke handvatsel waar jy kan vasvat om die wa te skuif nadat jy afgehaak het. Jy het nie ’n los trappie nodig om in die wa te klim nie, want by die deur se onderkant is ’n versonke vlak waarop jy eerste trap en gemaklik inklim.

Op ’n eiland

Die Comfort se eilandbed is links van die deur soos jy inklim. Die bed sit dwars, en wanneer jy na die neus kyk, is die koppenent teen die linkerpaneel. Die een wat op die verste kant slaap, moet dus regs om die bed loop.

Die hoeke van die voetenent is diagonaal weggesny vir meer staan- en loopruimte om die bed. Die bed is 1,4 m breed (standaard-koningingrootte) en 1,88 m lank.

Bo elke slaapkant is ’n leesliggie by die koppenent met ’n verstelbare kop sodat jy dit direk op jou boek kan laat skyn. Die skakelaar van elke liggie sit by sy voetstuk, en ’n mens kom dit maklik van die bed af by. Bo die liggies is twee oop rakkies wat amper lyk soos die gleuf van ’n posbus – dit is ’n gerieflike plek om byvoorbeeld jou leesboek weg te sit voor jy inkruip.

Verder boontoe is twee groter kaste, elk met sy eie deur. By die voetenent is ’n kas in elke hoek. Die regterkantse een het ses rakke met genoeg pakplek vir enigiets van T-hemde tot sokkies, en in die een by die neus is daar nóg pakplek.

Een van die drie LED-ligte in die wa sit links van die kaste bo die bed. Buiten dat dit ’n wasige laag het sodat die helder trosliggies jou nie verblind nie, werk die skakelaar sodra jou vinger aan die lig raak. ’n Kragsok (220 V) vir een driepunt- en twee tweepuntproppe is omtrent bedhoogte langs die verste slaper. Hier is ook een USB-sok. 

Stert se kant

Die badkamer is heel agter links in die hoek met nog slaapplek daarnaas in die regterhoek. Dit is nie ’n volle badkamer nie; daar’s net ’n klein gesigwasbak en ’n kassettoilet wat uit die kas skuif. Die slaapplek is ’n stapelbed, wat heerlik is vir twee kinders.

Langs elke bed is ’n venster wat net soos al die ander vensters in die woonwa oopgemaak kan word. Al sewe die vensters het skuifgordyne voor plus materiaalblindings wat van bo af laat sak word.

Elkeen het boonop ’n leesliggie. Tussen die onderste en boonste bed is daar 61 cm, en as jy op die boonste bed sit, is daar 55 cm tussen die matras en die dak. Die boonste bed is 1,35 m bo die grond, en die beddens is 187 x 74 cm groot – dus ’n kort, smal enkelbed. Die een wat bo slaap moet klouter om op die bed te klim, want hier is nie ’n leertjie nie.

Tussen dié beddens en die badkamer is ’n regop kas wat 49 cm breed is en hangplek bied. (Die kassettoilet wat aan die badkamerkant uitskuif, neem die onderste deel van die kas op.)

Swaargewigte in die middel

Die Hisense-dubbeldeuryskas (239 l) staan omtrent bo die as van die wa teenaan die regterpaneel en voor jou soos jy inklim. ’n Lekker groot werkblad (116 x 51,5 cm) is teen die muur regs van die yskas met kruidenierskaste bo teen die muur én onder die blad.

’n Kragpunt trek soos ’n torinkie links agter dié blad uit. Die wielboog en geiser neem wel plek op in die onderste kaste, maar nie so dat jy bêreplek skort nie.

’n Melamienwerkblad (62 x 46,5 cm) is direk regs van die deur, en die kasdeur bo dit is die een aan die binnekant van die buitenste kas. Die ander kragproptoring sit regs agter in dié blad en dis ’n gawe plek vir jou ketel, want die koffiebekers is byderhand in die kas. Net soos die ander een het dié kragpunt plek vir twee driepunt- en twee tweepuntproppe.

Die mikrogolfoond is omtrent ooghoogte voor jou (bo dieselfde blad) en een van die LED-aanraakligte is ook hier in die muur versink.

Lug en lig

In die middel van die dak is ’n luik wat kan oopmaak vir vars lug, maar dit laat ook lig deur, want dis van deurskynende Perspex gemaak. Dit het ’n gaasskerm aan die binnekant wat kan wegskuif asook ’n blinding om al die lig te keer.

Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte 6,55 m

Breedte 2,4 m

Hoogte 2,55 m

Dakhoogte binne-in 1,9 m

Netto gewig 1 360 kg

Dravermoë 300 kg

BVM 1 660 kg

Prys R349 500

PLUS

  • Die stapelbed is prakties en spaar ruimte.
  • Die buitekas is groot genoeg vir bonkige kampgoed.
  • Dit het ’n binne- én buitekombuis.
  • Al die kragpunte in die wa is ’n groot bederf.
  • Die beligting, van die leesligte tot die vertrekligte, maak goeie lig.

MINUS

  • Die badkamer is klein en het nie ’n stort nie.
  • Die stapelbed het nie ’n leertjie nie.
  • Venesiese blindings is dalk ’n beter opsie as materiaalgordyne.

Weg Ry & Sleep sê ’n Fietsrak vir twee fietse pas ook op die Comfort en kos R2 250 ekstra.

Weg Ry & Sleep het die Quantum Comfort by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by 021 982 4670 as jy een van die Quantum-modelle van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za.

Handelaarsnetwerk Hoofkantoor in Kempton Park en 4 handelaars landwyd. Kontak 011 914 1106; quantumleisure.co.za