foto’s Leon Botha

Die Raptor is nie jou standaarddubbelkajuit nie. Hy is nie net breër en hoër as die Wildtrak nie, maar Ford beweer ook hy stel ’n nuwe standaard wat snelhede en 4x4-vermoëns betref.

’n Mens dink dalk hy is uitsluitlik vir speel bedoel, maar die feit dat die vervaardiger hom met ’n spesiale sleepstang toegerus het, beteken hy is ewe geskik om voor ’n wa ingespan te word.

Ons haak Jurgens se nuutste Xplorer en kyk hoe die Raptor hom gedra.

Stang met ore

Waar die gewone Ranger se stang omtrent ’n dwarsbalk is wat onder die buffer uitsteek, is die Raptor s’n nader aan die bakkie se romp. Uiteraard verbeter dit die voertuig se vertrekhoek in die veld, veral sonder die bolgedeelte, wat verwyder kan word.

Met die bol staan die haak wel 9 cm verby die buffer, met die onderste deel net 36 cm bo die pad. Op die punte van die stang is twee herwinningspunte aangebring wat ’n trekkrag van tot 3 863 kg kan weerstaan.

Ford het die Raptor se sleepvermoë op 2 500 kg vasgestel (dis ’n ton ligter as die Wildtrak-model).

Brink vervaardig die stang, waarvan die D-waarde – wat na ’n spesifieke vragtoets verwys – 13,63 kN (1 390 kg) is. Die Wildtrak se D-waarde is 16,6 kN, terwyl die toegelate neusgewig op albei stange 225 kg is.

Die 2 l-Wildtrak wat ons in Augustus onder hande gehad het, het ’n permanente stang, met die bolgedeelte wat daaraan vasgebout is.

Op die Raptor word die bolgedeelte aan die verwyderbare arm vasgebout, en dié kan jy met die hand losmaak. Die arm lyk soos ’n winkelhaak met die bol wat aan die onderpunt daaraan vasgebout word.

Aardig genoeg het dié kant van die stang net een stel gate, hoewel daar plek is vir nog minstens twee stelle.

Die stang sit nader aan die bakwerk as die gewone Ranger s’n, maar die bolgedeelte steek wel ver uit. Die treeplate op die Raptor is só sterk jy kan daarop staan as dit moet.

Haak hom

Anders as in die Wildtrak met sy elektroniese instrumentepaneel, is die Raptor s’n meer tradisioneel met ’n klein elektroniese skerm tussen die spoed- en toeremeter.

Wanneer jy die voertuig aanskakel, gloei die naalde bloedrooi en dit voel of hy gereed is om met mening weg te spring.

Boaan die stuurwiel is ’n rooi merkie waarmee jy kan sien wanneer die wiele vorentoe wys. Vir veldry is dit gaaf, maar in gewone verkeer dien dit nie eintlik ’n doel nie.

Vir terugstoot wys die beeld na agter op die truskerm, wat ook statiese indekslyne het. Al beweeg die lyne nie saam met die stuur soos jy draai nie, is daar in die middel ’n stippellyn wat tot teenaan die stang loop. Jy kan dus maklik korrel as jy wil haak.

Sodra jy té na aan die wa terugstoot, waarsku die rekenaar dat jy teen iets gaan vasry. Sodra die woonwa gehaak is, registreer die rekenaar dit (net soos in die Wildtrak) en ’n nota verskyn in die instrumentepaneel dat die terugstootalarm gedeaktiveer is omdat ’n sleepwa gehaak is.

Nou is die alarm doodstil wanneer jy met die wa terugstoot.

Die indekslyne op die truskerm is staties, wat beteken dit draai nie saam met die stuur nie. Dit sluit die stippellyn in die middel van die baan in. Maar dis steeds ’n nuttige hulpmiddel om te korrel tot teen die wa se koppelstuk.

Aan die makker kant

Die Raptor het dieselfde op en wakker enjin as die 2 l-Wildtrak, maar met sy twee turboaanjaers wat 500 Nm lewer, kan geen ander dubbelkajuitbakkie met dieselfde enjingrootte by dié een kers vashou nie. ’n Mens verwag tog dat die Raptor beter spiere sal bult voor die woonwa, maar op spoed lyk die prentjie effens anders.

Die Raptor en Wildtrak het albei ’n 10 spoed- outomatiese ratkas, en teen 100 km/h hou albei in negende rat en by 1 500 r.p.m (ook teen 120 km/h en 1 750 r.p.m.) Maar met die 80-120 km/h-versnelling steek die Raptor effens af: In die Drive-modus is hy 2 s stadiger (17,5 s teenoor 15,5 s) en in die Sport-modus 1,6 s stadiger (13,8 s teenoor 12,2 s).

Een van die redes hiervoor kan die Raptor se groot bande wees. Dit is BF Goodrich 285/70 R17-bande wat spesiaal vir Ford ontwikkel is, en tussen die padoppervlak en die velling is ’n goeie 17 cm rubber.

Verder is die Raptor se tarragewig 129 kg meer as die Wildtrak s’n. Op die dag van die toets was die werklike gewigte van die twee voertuie byna dieselfde: Die Raptor was op 2 660 kg net 30 kg swaarder, maar die woonwa was 40 kg ligter as die een op die Wildtrak.

En as jy wil hare kloof, was die wind uit dieselfde rigting, maar 6 km/h sterker.

Wat brandstofverbruik betref, lewer die Raptor en Wildtrak eenderse resultate – albei het ’n aanvaarbare syfer van 14,08 l/100 km (7,1 km/l).

’n Mens sit hier in ’n ordentlike 4x4. Ja, hy is R113 000 duurder as die Wildtrak, maar die afwerking is tog heelwat beter. Een voorbeeld is die treeplanke: Op die meeste bakkies is dit bloot kosmeties, maar op die Raptor nie.

Hier staan hulle ’n goeie 15 cm verby die bakwerk, en al skuur jou kuit daarteen as jy uitklim, is dit sterk genoeg om op te trap... en selfs te staan. 

Wat sê Pieter Crous, ons sleepkenner?

Ek kan voel ek sit hoër as in die Wildtrak, en dit sorg vir ’n goeie uitsig reg rondom. Ek verkies dit om hoog te sit en het in die Raptor maklik ’n verstelling gekry wat my pas.

Ek kan ook sien die bakwerk is breër, want gewoonlik is die Xplorer wat ons sleep, net so breed soos die bakkie wat ons toets, maar voor die Raptor staan hy effens weggesteek.

Al het hulle albei dieselfde enjin, is die enjindreuning in die Raptor harder. Ek sien die baanbeheer bly geaktiveer terwyl ’n mens sleep, maar dit skop natuurlik eers in wanneer jy vinniger as 60 km/h ry.

Hierdie ratkas, wat ook in die Wildtrak gebruik word, is steeds die enigste ordentlike een wat ek in ’n Ford-bakkie sien. Die Sport-modus se verstelling sit egter nie by die rathefboom soos in die Wildtrak nie, maar is deel van die ritmodusse wat jy voor jou in die instrumentepaneel verstel.

Met ’n woonwa is die rit, soos verwag, effens harder, maar die rit self voel baie soos dié van die Wildtrak, al verskil die onderstel aansienlik. In die Drive-modus kan jy nie sien in watter rat die Raptor is nie, maar sodra jy aan een van die ratspane raak, wys dit in watter rat die voertuig is.

Jy kan dan ook self die ratte verder kies, maar as jy die spane vir ’n rukkie los, skakel dit terug na die Drive-modus.

Wanneer ’n mens wegtrek, voel dit of die stert eers lig vóór jy wegkom, en dis seker al die krag wat eers na die agterwiele gestuur word. Dit gebeur wel nie wanneer jy sonder die wa ry nie.

Binnelangs is die afwerking uitstekend: Veral die blou stiksel in die bekleedsel is treffend, hoewel die ventilasiegate in die paneel en die brilhouer teen die dak plastiekerig vertoon.

Ek dink die Raptor is vir mense wat bewus is waarmee hulle ry en ernstig is oor 4x4. Die bande en die plakkers op die bakwerk is effens oordadig, maar die kleur van die toetsvoertuig is vir my mooi.

Sleeptoets
Sleeptoets
Die sleepding

Fabrikaat: Jurgens Model Safari Xplorer

Jaarmodel: 2019

BVM: 1 650 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets: 1 260 kg

Weg Ry & Sleep het die nuwe Jurgens Xplorer by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by 021 982 4670 as jy die Xplorer van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Inligting

Afstand: 127 km

Gemiddelde spoed (stilhoutye ingesluit:) 39,5 km/h (snelweë, agterpaaie, beboude gebiede en ’n kort stukkie grondpad)

Totale rytyd: 3 uur en 13 minute.

Weer: 18 ºC, deels bewolk en ’n noord-noordwestewind van 24 km/h.

SPESIFIKASIES

Model: Raptor Enjin 4 silinder-dubbelturbodiesel

Krag: 157 kW @ 3 750 r.p.m.

Wringkrag: 500 Nm @ 1 500-2 000 r.p.m.

Ratkas: 10 spoed-outomaties

Aandrywing: Agterwiele of 4x4 (met of sonder agterste ewenaarslot)

Tenk: 80 l

Brandstofverbruik met woonwa: 14,08 l/100 km (7,1 km/l)

Reikafstand met woonwa: 568 km

Tarragewig: 2 324 kg

Gewig tydens toets (neusgewig van die wa ingesluit): 2 660 kg

BVM: 3 090 kg

BKM: 5 350 kg

Kombinsasiemassa tydens toets: 3 760 kg

Sleepvermoë: 2 500 kg

Sleepstang se maksimumtrekgewig D-waarde: 13,63 kN (1 390 kg)

Sleepstang se maksimum- vertikale gewig: 225 kg

Is die stang verwyderbaar? Ja

Is daar plek vir ’n sakplaat? Nee

PRYS: R819 400