Die eerste geslag Koleos het ’n stille dood gesterf, iets waaroor niemand juis in sak en as sit nie. In daardie jare het Renault ook nie juis ’n goeie reputasie in Suid-Afrika gehad nie – veral wat betref die fluksheid van herstelwerk en die beskikbaarheid van onderdele.

Daardie kwelpunte blyk iets van die verlede te wees. Boonop het Renault ’n paar jaar gelede sy toewyding tot Suid-Afrika bevestig deur te belê in ’n plaaslike onderdeleverspreidingsentrum.

Die maatskappy se bankrekening lyk ook gesonder as tevore danksy die gewildheid van die Sandero Stepway-luikrug en die stewige Duster-sportnutsvoertuig. Bemoedig deur die jongste verkoopsyfers en versterk deur ’n span ontwerpers wat voertuie soos die jongste Megane geskep het, is dit te verstane dat die ringkoppe by Renault besluit het om die Koleos terug te bring. Hulle het selfs ’n paar onderdele by Nissan gegaps om seker te maak die nuwe Koleos word nie weer so vlak gekyk soos voorheen nie.

Pierewaaier

Hoewel die vorige Koleos soos ’n soort luikrug-stasiewa op stelte gelyk het, is die nuweling duidelik van die grond af boontoe splinternuut.

Hy spog nou met ’n langer enjinkap, ’n verlengde dak en ’n indrukwekkende grondvryhoogte van 210 mm. Teen onderskeidelik 1,84 m en 1,68 m is die jongste Koleos ook breër en hoër as die Nissan X-Trail, en hy lyk heelwat meer atleties as sy Japannese eweknie.

Die LED-hoofligte projekteer ’n onderskeidende patroon in die truspieëltjie van enige mededinger en die C-vormige dagryligte aan weerskante van die hoofligte in onmiskenbaar. Dié ontwerp word aan die agterkant herhaal en die geheelbeeld word afgerond deur die groot wielvellings.

Daar is heelwat sterk horisontale ontwerplyne, wat die Koleos indrukwekkend laat lyk, en die chroomstrokies kontrasteer ook mooi met die blou metaalvlokverf van ons toetsmotor.

VIERPERDEWA. Die Koleos se unieke C-vormige dagryligte is onmiskenbaar, en die LED- projektors skyn snags helder.

Eenvoudige aandrywing

Die Koleos-reeks wat in Suid-Afrika verkoop word, het slegs een enjinkeuse; ’n 2,4 l-viersilinder sonder turboaanjaer, wat maar basiese tegnologie is vergeleke met hedendaagse voertuigstandaarde. Dis egter goeie nuus vir voornemende eienaars, want daardie enjin doen lank reeds diens in die Renault-Nissan- Mitsubishi-alliansie, en al sy nukke en foute is al mooi uitgestryk.

Boonop beteken die afwesigheid van ’n turboaanjaer hy gaan nié op die lang duur hoëdruk-verwante probleme kry nie.

Al drie modelle (die Dynamique 4x4 is die duurste) kry ’n outomatiese palwisselratkas (CVT), wat die gevoel skep dat jy sewe “ratte” het waaraan jy kan tokkel as jy na handratmodus oorskakel deur die rathefboom na links te kap.

Net soos ander voertuie wat met ’n dwarsgemonteerde enjin toegerus is, word die meeste wringkrag na die voorwiele gestuur, maar daar is ’n knoppie bo die bestuurder se regterknie wat jou in staat stel om sommer so in die ry oor te skakel na tweewielaandrywing of 4WD Lock – in laasgenoemde word 25% wringkrag na elkeen van die vier wiele gestuur.

Trek, FERREIRA. ’n Mens sou verwag dat die luikruk vanself kan lig, maar jy moet hom met die hand oopmaak. Die laairuim is wel lekker groot en almal se klere en kampgoed gaan maklik hier inpas.

Op pad en in die bos

Wat werkverrigting betref, kan jy uiteraard nie vuurwerk verwag nie, en die Koleos se kragleweringsyfers beaam dit. Maar wat die syfers nié verklap nie, is dat Renault se ingenieurs ’n vakansiereis met ’n Koleos ekonomies gemaak het. Gedurende ons toets kon ons 8,3 l/100 km op die ritrekenaar sien, wat ooreenstem met Renault se syfers.

En dít nadat ons ’n raps minder as ’n halwe tenk brandstof gebruik het om 430 km af te lê – die eerste helfte daarvan was teerpad en teen snelwegspoed. Die res was slegte grondpaaie en draaie deur voorstedelike buurte.

Die brandstofverbruik het gedaal tot 7,4 l/100 km op die snelweg, maar dit was omdat ons doelbewus besluit het om die planeet te probeer red deur goeie punte te behaal in die Koleos se teenbesoedelingverslag. (Elke keer as jy ’n reis voltooi en die enjin afskakel, word statistieke op die raakskerm vertoon wat wys of jy mooi soet bestuur het – soos bedeesde versnelling en sinlike momentum – en hoe erg jy die aarde besoedel het).

Die brandstofverbruik was betreklik laag gegewe die grootte van die enjin, maar die palwisselratkas voel besonder pap, en hoewel hy skree wanneer jy die pedaal diep intrap, is daar nie die gepaardgaande versnelling nie. Hou wel in gedagte dat die Koleos ’n stewige 1 565 kg weeg – die bedeesde versnelling is dus nie ’n verrassing nie.

Iets wat ons wel onkant betrap het, is die Koleos se stamperige rit, ondanks sy sinlike 225/60 R18-bande. Dié bande se aanbevole banddruk is 2,4 bar – dis nie uitermate hard nie en die bandprofiel is ook nie besonder laag nie. Maar ten spyte hiervan het dit gevoel of die vering eenvoudig nie stampe en stote kon absorbeer nie. Jy is deurentyd bewus van elke ongelykheid in die pad. 

Die stywe vering sorg wel vir goeie padhouvermoë, maar teen 60 km/h en vinniger op ’n grondpad gee die Koleos, om die minste te sê, ’n onaangename rit.

Die 50-50-wringkragverspreiding tussen die voor- en agteras sorg vir matige veldryvermoë (hy’s beslis nié ’n hardebaard bostrok nie), maar dié stelsel werk slegs teen snelhede onder 40 km/h en daarom kan dit frustrerend raak as jy wil aanstoot op ’n sandpad met ’n eweredige wringkragverdeling en die blikbrein steek dan ’n stokkie voor jou planne en skakel eerder oor na outomatiese kragverdeling.

PASOP, BUCK! Die sentrale inligtingstelsel beheer álles – van die klimaat tot navigasie tot die musiek waarna jy luister.

Wees maar geduldig

Wees gewaarsku: As jy gekant is teen ’n ooraanbod tegnologie, is dit nie die voertuig vir jou nie. Goed, die elektriesverstelbare sitplekke en syspieëls en outomatiese hoofligte is lekker en niemand gaan daaroor kla nie, maar wat jou wel dwars in die krop gaan steek, is die reuseraakskerm. Die skerm is vertikaal gedraai en verg dat jy vir lang tye in die Koleos moet sit en leer hoe hy werk.

Wees gewaarsku: As jy gekant is teen ’n ooraanbod tegnologie, is dit nie die voertuig vir jou nie.

Álles word met die skerm beheer: die dubbelsonelugreëling, multimedia, navigasie, ensovoorts, en dis nie juis maklik om alles te snap nie. Die blinkswart afwerking gaan jou ook rasend hê as jy gesteld is op netheid, want elke vingerafdruk en stofkorreltjie wys duidelik.

Daar is vier USB-sokke sodat al die passasiers hulle selfone kan herlaai, en die voorste twee aktiveer Apple CarPlay- of Android Auto-programmatuur sodra jy jou slimfoon inprop. Die agterste twee USB-sokke verskaf slegs elektrisiteit aan jou tieners se elektriese toestelle voordat julle by die kampplek aankom.

Die spesifikasievlakke van die vlagskipmodel, die Dynamique, is omvattend. Daar is stemmingsbeligting waarvan jy die kleur kan verander, leerbekleedsel, parkeergonsers en ’n trukamera, blindekolsensors in die syspieëltjies, banddruksensors, sleutellose toegang en ’n aansitterknop. ’n Indrukwekkende dog irriterende eienskap van die sleutelkaart is dat hy die Koleos outomaties sluit nadat jy die kar verlaat het en ’n ent wegstap. Dit klink dalk slim, maar jou passasiers wat binne vasgekeer is, gaan waarskynlik nie beïndruk wees nie.

Slotsom

Die Koleos kom uiteindelik tot sy reg deur al die suksesvolle katoeters in die Renault-Nissan- Mitsubishi-alliansie in te span. Die stilering herinner aan niks uit Japan nie en die afmetings verskil aansienlik van die Nissan X-Trail.

Hoewel die enjin dieselfde is, voel die kraglewering heeltemal anders as in die X-Trail. Die Renault se vering is ook meer geskik vir teerpad as grond. Renault wou geen kanse waag met die Koleos wat veiligheid betref nie, en het seker gemaak hy slaan vyf sterre los in die streng Europese NCAP-botstoets.

Hy kom ook met ’n 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan vir ekstra gemoedsrus.

SPESIFIKASIES

Model: Renault Koleos Dynamique 2.5 CVT 4x4

Enjin: 2 488 cc

Krag: 126 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 233 Nm @ 4 000 r.p.m. 0-100 km/h 9,8 s*

Topsnelheid: 200 km/h*

Brandstofverbruik: 8,3 l/100 km*

Tenk: 60 l

Grondvryhoogte: 210 mm

Sleepgewig: 750 kg (ongerem)

Koolsuurgasvrystelling: 188 g/km

Laairuim: 450 l

Veiligheidsgradering: (EuroNCAP)

* volgens vervaardiger

Prys: R479 900