foto’s Helenus Kruger

Niemand kan GT Camper se boswaens regtig miskyk nie: Daardie deksel van die romp wat oopslaan en die tent se vloer word, is waarlik uniek – en omdat die tent binne die wa opvou, het die waens ’n lae profiel wat omtrent dieselfde hoogte is as jou bakkie se laaibak. Hulle het so te sê geen windweerstand nie en sleep nie net nie makliker nie, maar is ook heelwat ligter op brandstof.

Boonop is daar heelwat plek om kampgoed of die kinders se fietse bo-op die deksel te pak sonder dat dit bo jou voertuig se dak uitsteek.

Die eerste model van dié Pretoriase vervaardiger was die Libra, en later het hy met die kleiner Spider vorendag gekom. Met die eerste oogopslag lyk die twee identies, en hulle is ook ewe lank én breed. Maar as jy fyner kyk, kom jy agter die Spider se romp is laer as die Libra s’n en die kombuiskant lyk ’n bietjie anders.

Elmien Fitchet, wat die onderneming saam met haar man, J.M., besit, sê die Spider is gemik op twee mense wat nie baie en onnodige kampgoed wil saamry nie. Dus het hulle die wa op ’n dieet gesit: Die twee laaie wat jy onder die Libra se bed kry, is uitgehaal en die kombuis is verklein. Dit maak die Spider ’n volle 27 kg ligter as die Libra.

Maak jou kamphuis staan

Die Spider se tent vou op presies dieselfde manier oop as die Libra s’n.

As jy iets bo-op die wa se dak gepak het, gaan jy eers moet afpak voor jy kan begin opslaan. Volgende moet jy die wa se neus laat sak sodat dit teen ’n helling vorentoe staan: Dit sorg dat die vloer se verstelbare voetstutte nie op die grond druk voordat dit horisontaal is nie. Stap nou om na die agterkant toe en maak die knippe los van die raamwerk waaraan die noodwiel vas is.

Swaai nou die raam om na die regtersykant van die wa, maar moet dit nog nie teen die wa vasknip nie: Dit kan aan die gasstut raak wat moet help om die deksel op te lig.

Nou kan jy die vier knippe waarmee die deksel in plek gehou word – een voor en agter by elke hoek – losmaak en die deksel van die wa se voorste hoeke af begin oplig. Hoewel die dak danksy die twee gasstutte aan die agterkant deur een mens opgelig kan word, is dit net soveel beter as jy hulp het.

Loop al langs die wa na die agterkant toe en swaai die deksel oop totdat dit op die grond lê. Lig nou die neus totdat die wa waterpas is en verstel die hoekstutte, indien nodig, sodat die tentvloer ook waterpas is.

Om die tent te span moet jy binne-in die tent op die bed klim en die raamwerk – een van drie – aan die voorkant opdruk totdat dit in posisie klik. Doen nou dieselfde met die raamwerk aan die agterkant van die tent (die middelste raamwerk is reeds op sy plek). Jy kan nou die tent se kant-, voor- en agterseiltjies opslaan en daarna al om die wa loop en die sykante van die tent aan die klitrits teen die romp en tentvloer vasheg.

Met afslaantyd is ’n tweede mens nodig om die deksel te help toevou en seker te maak die tent word nie tussen die deksel en romp vasgeknyp nie. Om dinge makliker te maak met die op- én afslaan kan jy ’n katrolstelsel op die A-raam laat installeer wat sal help om die deksel op te trek of te laat sak.

Kom gerus binne

Die tent met sy hoë dak (2,5 m) en groot vloer (1,7 x 2,1 m) het binne ’n ruim en oop gevoel. Die soliede vloer, wat aan die onderkant met aluminiumvierkantyster versterk is, het ’n swaardiensvloerbedekking.

Binne is die tent in twee ewe groot stukke verdeel: die aantrekplek waar jy instap, en die slaapkamer links na die voorkant van die wa toe. Die aantrekplek het baie beweegruimte en hier is selfs plek vir ’n klein kassie of tafel wat jy as pakplek kan gebruik. Die flappe by die deure aan weerskante en die agterkant van die aantrekkamer kan heeltemal ooprits, en so ook die muskietnet.

Jy gebruik die afslaantrappie by die voetenent om in die bed te klim. Die deksel van die kas waarin die pale gebêre word, is net bo die trappie en sterk genoeg om as tweede trappie te dien – daar’s selfs ’n rubberbedekking vir stewige vastrapplek.

Die wa se pakplek is in die kas onder die bed, en jy moet die bedbasis oplig. Weerskante van dié pakspasie, net agter die wielboë, is twee klein gaatjies waar jy kragkoorde en tentpenne kan bêre.

Die twee diepsiklusbatterye is ook hier. Die kragboks met ’n drie- en tweepuntsok, batterymeter en skakelaars vir die ligte, waterpomp en sonkragpanele is aan die regterkant van die bed se voetenent waar jy dit maklik kan bereik as jy selfone wil laai of wil kyk hoeveel krag die battery nog het.

Die bed (2 x 1,52 m) het ’n koningsgrootte hoëdigtheidsponsmatras en lê die hele breedte van die wa vol. Aan weerskante van die bed en by die koppenent is vensters met muskietnet – ook dié kan heeltemal ooprits. Die dakvenster help vir lugvloei, maar die dubbele tentdak gaan enige sterrekykplanne uit die bed kelder.

Tussen die matras en die wand van die wa is ’n smal ruimte waar jy ’n boek en selfoon kan bêre. Jy kan kies of die LED-dakliggie bo teen die middelste raam van die tent geel of rooi moet skyn.

Voorlangs

Op die A-raam is die neuswiel, handrem, kragkoppeling vir die ligte en ’n Brad Harrison-prop sodat die battery in die ry gelaai kan word.

’n Skadunet wat in ’n aluminiumraamwerk gespan is, hou die klippe weg van die wa se bakwerk af. Die twee gassilinders (wat permanent gekoppel is) is tussen die raamwerk en die neuskas en word dus ook teen opslagklippe beskerm.

Die wa se neuskas (61 x 140 cm) is voor die romp op die A-raam gemonteer. Aan die regtersykant van die wa het die neuskas ’n uittreklaai met plek vir twee ammokiste waarin jy kos kan pak. Die yskas se uittreklaai is aan die linkerkant van die neuskas, langs die kombuis.

Die uittreklaai is groot genoeg sodat ’n 90 l-yskas daarop kan pas, en jy kan die yskas in ’n Hella- óf Brad Harrison-sok inprop.

Bo-op die neuskas is ’n vlak aluminiumbak waarin jy twee ammokiste of goed soos hout en grondseile kan pak. Daar is ses ogies waardeur die stroppe geryg word sodat jy alles stewig kan vasmaak. 

Tuis in die kombuis

Die kombuisgedeelte is aan die linkersykant van die wa en die uittrekkombuiseenheid (42 x 112 cm) net regs van die neuskas.

Jou messegoed pas netjies in ’n seilsakkie wat aan die binnekant van die eenheid se deksel vas is. Binne-in is ’n uitsnyvorm waarin die kombuisgoed – borde, bekers, glase en panne – pas. Hier is ook plek vir ’n braaitang, eierspaan en opskeplepels.

Die warm en koue kraan is aan die kant van die eenheid die naaste aan die wa en het ’n koppelstuk soortgelyk aan ’n tuinkraan s’n. Die 90 l-watertenk is van vlekvrye staal en onder die wa gemonteer. Die tenk het ’n gewone koperkraan wat met swaartekrag werk, net ingeval die battery pap is en die waterpompie nie werk nie.

’n Ronde LED-liggie reg bo die kombuiseenheid sorg vir lig, en regs van die kombuiseenheid is twee knippe teen die kant van die wa waaraan ’n smal tafelblad (42 x 111 cm) haak. Die toetsmodel se tweeplaatgasstoof het die hele blad so te sê volgestaan; dus gaan jy die kombuiseenheid as ekstra werkoppervlak moet gebruik.

’n Raamwerk met plek vir ’n skottelgoedwasbakkie trek onder die tafelblad uit. Weerskante van die wasbak is daar pakplek waar jy vuil en skoon skottelgoed kan pak.

Die kombuis het geen pakplek nie, wat beteken jy gaan jou tafelblad, stoof en ekstra potte en panne in die kas onder die bed moet bêre. Regs van die tafel is twee Hella- en drie 220 V-kragpunte.

Aan die anderkant

Die geiser is links van die neuskas met die skakelaar daarvoor agter ’n deurtjie.

Heel links, agter die as, is die watertenk se prop, watervlakmeter en ’n kragsok waar jy ’n 220 V-driepunt- sowel as ’n Brad Harrisonsok kan koppel.

Die noodwiel se raamwerk word ook hier vasgeknip as dit oopgeswaai is.

Woonwatoets
Woonwatoets
Die tegniese goed

Neusgewig: 58 kg

Lengte: 4,383 m

Breedte: 1,830 m

Hoogte: 1,350 m

Asbreedte (track width): 1,580 m

Nettogewig (basiese wa): 603 kg

Dravermoë: 897 kg

BVM: 1 500 kg

Prys: R244 727 soos getoets (verskeie opsionele opsies is beskikbaar).

Plus  

  • Dit is maklik om op die bed te klim.  
  • Die soliede vloer gee die ruim tent ’n luukse gevoel.  
  • Die wa met sy lae profiel sleep maklik.

Minus   

  • Die wa het nie vasgrypplek aan die voorkant nie.  
  • Die LED-liggie by die kombuis skyn nie op die werkoppervlakke nie.   
  • Die tafeltjie by die kombuis is klein.

Ry & Sleep sê: Jy hoef nie die gassilinder uit sy bêreplek te gaan haal om kos te maak nie: Die koppelpunt aan die gaspyp is reg by die kombuis onder die wa. Jy koppel eenvoudig die stofie se gaspyp hieraan en jy is reg om te laat waai met die kos.


Handelaarsnetwerk

GT Camper is ’n onderneming in Pretoria.

Kontak: 012 770 3633 061 461 8543; sales@gtoffroadtrailers.co.za; gtoffroadtrailers.co.za

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook