Foto's Cyril Klopper
Roetes wat roep
Roetes wat roep

Die Melkbos-4x4-veldroete is geleë op die plaas Ogieskraal tussen die dorpie Melkbosstrand en die Koeberg-kernkragsentrale noord van Kaapstad. Dit is belangrik om die eienaars, Hendrik en Maretha van Helsdingen, te bel voor jy hierheen opruk, want hier is soms korporatiewe spanbouaktiwiteite aan die gang en dan kan jy nie gaan ry nie. Motoragente bring ook graag hulle klante hierheen sodat Jan Alleman kan sien waartoe sy nuutgekoopte sportnuts in staat is.

Wanneer jy aankom, ontmoet Hendrik of Maretha jou by ’n lapa en vra of jy al voorheen dié 4x4-roete aangedurf het. Indien dit jou eerste keer is, skets hulle ’n rowwe kaart op ’n vel papier om te help dat jy nie verdwaal nie. Hulle kyk dalk ook die voertuig deur en maak ’n aanbeveling oor die regte banddruk.

Die wit seesand wat op jou wag, is nie diep nie, maar op warm dae besonder los. As jy deel is van ’n groot groep voertuie, sal die sand waarskynlik losser getrap word en die stadige spoed waarteen ’n konvooi ry, kan veroorsaak dat iemand vasval. Kleiner groepies – of as jy alleen is – behoort nie veel met die sand te sukkel nie, tensy jy beperkte ervaring het met sand.

Jy begin die roete aan die linkerkant van die lapa se parkeerterrein. Wees op die uitkyk vir ’n bordjie met die naam Bakgat daarop – dit is hier waar jy wegtrek. Vir die eerste kilometer volg jy ’n smal sanderige paadjie wat deur ’n portjacksonwoud vleg.

Indien jy ’n wafferse bostrok met die regte bande en lugdruk ry, sal laestrekratte onnodig wees, maar haak tog viertrek in, al is dit bloot om te keer dat jou wiele slote grawe. Sommige draaie is besonder skerp, en laestrek en ewenaarslotte sal hier teen jou tel. Ná die eerste kilometer vurk die pad herhaaldelik – mik vorentoe tot die paadjies weer saamsmelt. Uiteindelik, ná 1,5 km, kom jy by Melkbos-4x4 se uitdagendste hindernis uit: die Helgat. 

Die water hier is besonder brak en sal beslis tot roes lei as jy nie jou voertuig se onderstel so gou as moontlik deeglik was met kraanwater nie.

Dié bielie is ’n reeks walle en duine rondom ’n moddergat. Met ons besoek was die moddergat kurkdroog en die walle dus die enigste uitdaging. Maar as dit onlangs gereën het, moet jy ligloop vir die modder. Indien jy wel vasval, sal iemand jou móét uitpluk, want ’n wenas gaan jou hier nie help nie. Die portjacksons is te armsalig om as ankerpunt te gebruik en jou wenas gaan hom met wortel en tak uittrek. (Gooi dan sommer die peslike plant onder jou trokkie se wiele, want hulle is indringers uit Australië wat verdien om uitgeroei te word.)

Nadat jy in die Helgat gespeel het, is dit tyd om terug te keer na die lapa. Die roete terug is nie duidelik gemerk nie, maar jy kan die draadheining óm die veldryroete volg tot jy die Soutrivier teëkom. Die pad loop herhaaldelik deur watergate – ons raai jou ten sterkste aan om nié deur die water te ry nie, maar eerder óm dit. Die water hier is besonder brak en sal beslis tot roes lei as jy nie jou voertuig se onderstel so gou as moontlik deeglik was met kraanwater nie.

Loop ook eers te voet deur die poele – as jy wíl deurry – want sommiges is dalk dieper as die maksimumwaaddiepte van jou voertuig.

Ons ken ’n moeilikheidsgradering van 2 uit 5 toe aan Melkbos-4x4, want jy kan hom aandurf met ’n sagte veldryer soos ’n Subaru Forester, maar liefs nie met ’n tweewielaangedrewe ryding nie. Dis is egter moontlik om dit vir jouself moeiliker te maak deur die Helgat se walle en duine teen ’n “verkeerde” kant aan te pak of aspris deur die dieper dele van die moddergat te ry. In so ’n geval kan Melkbos-4x4 ’n moontlike gradering van 4 kry.

By die lapa kan jy en jou 4x4-klubmaats vuurmaak en braai vóór julle terugkeer huis toe.

GESELLIG. Ná afloop van julle spelery in die Helgat kan jy en jou vriende by die lapa kuier. Diegene wat die “chicken”-padtekens gevolg het, gaan dit die meeste ontgeld, maar hier gaan dit meer oor die samesyn as die uitdagings.

Wat jy moet weet

Maksimum aantal voertuie? Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Nee.

Sal my voertuig krap? Onwaarskynlik.

Moet ek ’n kompressor neem? Ja.

Kan ek halfpad braai? Nee, maar daar is braaigeriewe by die lapa.

Kan ek halfpad omdraai? Nee, maar daar is ontsnaproetes.

Is daar selfoonsein? Ja.

Beste tyd om te gaan? Heeljaar.

Kan ek my gesin saamneem? Ja.

Net vir die dag of die naweek? Net vir die dag.

Hoe lank neem dit? Minimum ’n uur, maar moenie jaag nie.

Is daar ablusiegeriewe? Ja, by die lapa.

Aanwysings: Uit Kaapstad volg jy die Weskuspad (die R27) tot by die Melkbosstrand-afdraai se verkeersligte. Die ingang na Melkbos-4x4 is 3 km ná die Melkbosstrand-afdraai aan die regterkant van die R27.

Prys: R150 per voertuig, maar pryse kan aangepas word vir groot groepe voertuie en 4x4-klubbyeenkomste.

Kontak:  083 489 1204 (Hendrik) of 083 489 1209 (Maretha); facebook/melkbos4x4

GPS: S33.70121 E18.46600

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook