Foto’s: Leon Botha

Sherpa Leisure is bekend vir die klein veselglaswoonwaens wat hy vir paartjies bou.

Buiten die Rambler, Sherpa se grootste waentjie, het sy ander modelle óf twee enkelbeddens óf ’n dubbelbed, wat beteken dis eintlik maar ’n woonwaentjie wat hoofsaaklik uit ’n bed bestaan. Die materiale waaruit die Sherpa-waens gebou word, is net so ’n sterk pluspunt. Die romp bestaan uit veselglas, en almal weet dit is omtrent onderhoudsvry, lig en ongelooflik sterk.

En as jy herstelwerk moet doen aan ’n ouer model, gaan jy nie sukkel om enige van die panele te herstel nie. Neville de Meillon, die man agter die sukses van Sherpa, het nou die heel nuutste model, die Sherpa Tiny Lite Hi-Rider, bekend gestel. Dié waentjie is omtrent ’n kloon van die Tiny Lite, maar hy het groter wiele – 15” pleks van 13”.

Omdat die noodwiel nou nie meer in die neuskas pas nie, het Neville ’n plan gemaak met ’n swaairaam by die deur. Met sy groter wiele is die Hi-Rider dus meer as tuis op grondpad, soos ons onlangs by Clanwilliam aan die voet van die Sederberg uitgevind het.

Voordeur agter

Die deur, wat uit twee dele bestaan, is só geposisioneer dat ’n mens die meeste van die ruimte in die wa kan benut. Die boonste deel van die deur slaan boontoe op, amper soos ’n bakkiekap se deur, terwyl die onderste deel met die noodwiel na regs oopswaai.

Sherpa maak sy eie los veselglastrappie wat ’n mens by die agterdeur sit om in te klim. Maak net eers die twee knippe by die agterhoeke van die opwipdak los voor jy dit aan die binnekant lig. Wanneer jy die onderdeur wegswaai, het jy ’n opening van ’n goeie 82 cm, wat selfs breër is as ’n standaardhuisdeur.

Die kosyn se bokant is rondom 1,3 m hoog, wat ’n mens gemaklike plek gee om in te klim. Een van die twee liggies in die Hi-Rider sit ook hier teen die kosyn. Dis ’n buisvormige LED-lig wat kan swaai as jy die skynhoek wil verander. Die ander lig sit teenaan die neuskant bo die beddens en is soortgelyk aan die een by die deur.

Die stoepdakkie (1,3 x 1,8 m) is ook teen die opwipdak by die agterdeur vasgesit. Dis opgerol in ’n sak wat met ’n ritssluiter toemaak. As jy die stoepdak wil uitslaan, moet jy die sak ooprits voor jy die dak lig, anders gaan jy sukkel om by te kom. Hierdie dakkie staan redelik hoog bo die deur en is nie veel van ’n reënskerm nie. Maar dit kom handig te pas as jy byvoorbeeld jou kampstoele vir die nag hieronder wil los sodat dit nie nat dou nie.

Die opwipdak lig net aan die agterkant waar ’n mens inklim. ’n Stutpaaltjie pas in die linkerhoek in – veral as jy die stoepdakkie uitslaan sodat dit nie die dak terugtrek na die romp se kant toe nie.

Terloops, die boonste deur het ’n ruit in met gordyne wat kan toetrek, en die onderdeur het ’n slot aan die binnekant vir wanneer jy snags inkruip. As jy dan die bodeur toemaak, kan jy dit van binne af sluit.

Kry jou staan

Draai heel eerste nadat jy afgehaak het, die hoekstutte uit. As jy die stutte nié uitdraai nie – spesifiek die twee skêrstutte op elke agterhoek – gaan die Hi-Rider se neus lig wanneer jy agter inklim.

Anders as in die meeste ander waens sit die hoekstutte dwars onder die romp, maar dit werk net so goed en maklik om met die slinger by te kom. Boonop is vier hoekstutte op dié grootte wa amper oorbodig, maar ten minste staan hy so stewig soos ’n huis met ’n ordentlike fondament.

Onthou, die Hi-Rider het nie remme nie, wat beteken as jy hom teen ’n skuinste wil staanmaak, sal jy ’n klip agter die wiel moet pak tot jy die hoekstutte afgedraai het. 

’n Gang tussen julle

Die Hi-Rider het twee enkelbeddens (193 x 64 cm) in die lengte van die wa. Omdat die dak net aan die agterkant lig, word die kophoogte na die voorkant van die wa minder. As jy ses voet lank is, raak jou kop eers aan die dak as jy ongeveer 1,2 m van die deur af is. Jy kan dus maklik hier staan en aantrek. Tussen die twee beddens is ’n gangetjie van 33 cm breed en bo elke bed is ’n venster met gordyne.

Bo elke bed is ook drie kassies waar jy waardevolle items kan wegsteek. Tussen die twee beddens is ’n bedkassie met ’n blad van 33 x 35 cm. In die voet van die blad is ’n 220 V-dubbelprop waar albei slapers hulle wekker of selfoon kan inprop. Jou klere bêre jy in die kaste bo die bed by die koppenent.

Die twee boonste rakkies in die kas is vlak en klein, maar die onderste twee is net die plek om die meeste van jou klere in te pak. Die grootste kaste is onder elke matras. Elkeen het twee deksels waarvan die een die naaste aan die neus in die ruimte van die buitekas oopmaak. Die ander kas is ruim genoeg vir jou winterduvet met ’n ekstra stel kussings.

Hier’s jou yskas

Die Hi-Rider het nie luukshede soos ’n badkamer of kombuis nie – selfs nie ’n gasstoof nie. Maar buiten die slaapplek het hy ’n 220 V-kroegyskas regs van die deur waarvan die bokant as ’n werkblad dien as jy in die wa staan.

Boonop is die prop waar die yskas inprop, ’n dubbelprop en dus ’n gawe plek om byvoorbeeld jou ketel te sit. Dit is ook maklik om die yskas van buite die wa af by te kom omdat dit reg langs die deur sit.

’n Rek met ’n haak span van die deur se kosyn af om die yskasdeur toe te hou wanneer jy sleep. Hier is drie kaste regoor die yskas met plek vir jou breekware, kruideniersware en ’n kosblik of twee.

Buitekantse kas

Die Hi-Rider het net een buitekas – aan die neuskant – waarin jy jou kleiner bagasie kan laai. Dit is ’n lekker groot kas vir dié grootte woonwa: Op sy diepste is hy 70 cm, en na agter strek die pakplek tot onder die beddens in – ’n goeie 1,7 m. Alles wat jy inpak moet wel deur die deuropening van 57 x 35 cm kan pas.

Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte 4,3 m

Breedte 1,8 m

Hoogte 1,99 m

Nokhoogte binne-in 2,045 m

Netto gewig 560 kg

Dravermoë 190 kg

BVM 750 kg (850 kg-as)

Prys R149 000

PLUS

Die groot neuskas is ’n bonus vir dié grootte wa. Die Hi-Rider is lig en ’n mens kan hom manalleen in die kampplek rondskuif. Die binnekant is ruim en jy kan selfs ’n fiets of twee inlaai as jy nie plek het in jou sleepvoertuig nie.

MINUS

Omdat hy nie remme het nie, moet jy ’n klip agter die wiel sit as jy teen ’n skuinste staan (dit is totdat jy die hoekstutte laat sak). Die beddens kan vir party mense té smal wees. Hy het nie veel van ’n kombuis nie.

Weg Ry & Sleep Die wa het nie remme nie. Die sleepvoertuig se tarra moet dus minstens 1 500 kg (dubbel die wa se BVM) wees. Jy kan hom steeds met ’n kode B-rybewys sleep.

Weg Ry & Sleep het die Tiny Hi-Rider by Coast & Country Leisure geleen. Bel vir Mike Schacht by 082 822 5882 as jy hom van nader wil bekyk.

Handelaarsnetwerk

Hoofkantoor Johannesburg, met 6 handelaars en 2 agente landwyd, insluitend Namibië.

Kontak  011 452 8188;  sherpa@telkomsa.netsherpaleisure.co.za