“Hierdie 1979 Winnebago-ryhuis het ek net na die draai van die millenium gekoop – hy is oorspronklik uit Amerika ingevoer. Die enjin is nie meer standaard nie: Hy het oorspronklik met ’n Dodge-enjin van 7 l uitgekom, maar dié een het ’n V8 Chev-enjin (3,5 l) in. Wat ek self verander het, is die voorremme: die oorspronklikes was die drom-soort, maar ’n Ford F250 se skyfremme pas op die Winnebago.

“Ek het destyds R85 000 vir hom betaal. ’n Soortgelyke ryhuis sal jou vandag etlike honderde duisende uit die sak jaag. Dit is boonop ’n A-klas ryhuis (’n ryhuis op sy eie onderstel) met linkerhandstuur. Agterin het ons ’n dubbelbed, en daar is ’n TV en DVD-speler. Hy het ’n ruim stort met ’n toilet, en natuurlik warm water. Ons kan 200 l water saamry. Daar is ook ’n drankkabinet, yskas en ’n outomatiese gasstoof met ’n ordentlike oond en ’n mikrogolfoond in. Net links van die deur soos jy inklim, is ’n enkelbed. Bo die stuurwiel slaan ’n tweeslaapplekbed af vir nog ekstra spasie.

 “Ons het 220 V- en 12 V-krag binne-in. Met ander woorde: Ons kan sommer in die ry 220 V tap as jy ’n selfoon wil herlaai. ’n Gerieflike spoed is 90 km/h op snelweë en stadiger op die kleiner paaie. Die brandstofverbruik is so tussen 28,6 en 33,3 l/100 km. 

“Ek sleep my Kia Sportage agterna sodat ons by die kampplek kan rondry. Dié kombinasie weeg sowat 6 ton, maar ek het darem die korrekte rybewys daarvoor..

“Kyk, die Winnebago is groot, maar gelukkig bly ons op ’n plot, anders het ek ’n probleem gehad met parkeerplek.”