Ek was al ’n onderwyser, toergids, gastehuisbestuurder, verkoopsman, restauranteienaar, koffiewinkeleienaar en het selfs ’n natuurbewustheidsprogram vir kinders ontwikkel.

Dis dus duidelik dat ek iemand is wat nie daarvan hou om stil te sit nie en ek was gelukkig genoeg om in verskeie beroepsrigtings sukses te behaal.

Ek was gaande oor die restaurant- en koffiewinkelbedryf, maar die werksure en oorhoofste kostes het my uitgeput en ingeperk. Ek het toe besluit om my onderneming, ZA Café Mobile, op die been te bring omdat ek vir myself ’n leefstyl met pret en avontuur wou skep.

Dit moes ’n mobiele eetplek en koffiewinkel wees wat ek ook as bemarkingsvoertuig kon gebruik. Die gedagte was dat ek voor byvoorbeeld ’n haarkapper, ontwerpemporium of materiaalwinkel sal staan, en in ruil vir water en elektrisiteit bemark ek die onderneming op sosialemediakanale soos Facebook, Instagram, Twitter en YouTube.

Ek het Sally sowat drie jaar terug opgespoor en sy was ’n effens hartseer gesig wat aandag nodig gehad het. Met haar enjin het nie veel geskort nie en ek het haar vir R10 000 gekoop. Dis ’n 1974- model Volkswagen Jurgens Autovilla – basies die liefdeskind van twee Suid-Afrikaanse gunstelinge – die Kombi en ’n Jurgens-woonwa.

Ek het nie baie kapitaal gehad om die onderneming op die been te bring nie; dus het vriende met skrynwerkerservaring en gereedskap my gehelp om die luik en toonbank te bou. Ek het by vriende ’n espressomasjien en koffiemeul geleen en begin handel dryf selfs voor Sally ’n nuwe laag verf gekry het.

Buiten die gebruiklike dienste het ek tot dusver nog net R25 000 uitgegee op meganiese herstelwerk en ander opgraderings.

Nadat ek 30 000 km met haar gery het, het ek Sally se enjin laat oordoen. Sy het deur al die opgraderings vir haarself betaal met al die koppies koffie wat sy aan Kapenaars verkoop het.

Ek sien egter sy begin nou ’n paar roesplekke kry omdat ons langs die see is. Ons het al oral gaan staan – van Melkbosstrand en Kaappunt tot Franschhoek en Wellington, en is ook gereeld in die middestad.

Ek is nog lugtig om té ver met haar te ry, want ek is nie heeltemal seker hoe betroubaar sy is oor lang afstande nie. Ons staan ook gereeld van Maandae tot Vrydae in Muizenberg se hoofstraat, op Vrydagaande by die Range-mark in Constantia, en dan al om die ander naweek by die Kommetjie-mark.

Ons doen ook soms spesiale geleenthede soos troues, sportdae, verjaardae en korporatiewe byeenkomste.

Ons verkoop americano, espresso, chai latte, rooi cappuccino, mocha en tee, plus dan vegetariese roti’s en croissants.

Ek dink nie ek sal opgradeer tot ’n meer moderne voertuig nie. Sally is alles wat ek nodig het, en sy stel my in staat om te fokus op die gemeenskap.

Dis my droom om reg oor Suid-Afrika te reis en vir mense koffie te maak en na hulle stories te luister.

Seldsame sleepsels
Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na  rysleep@weg.co.za.