Amerikaanse motors met hulle groot enjins en selfs groter bakwerk is nie vreemd vir Suid-Afrikaners nie. Veral nie vir dié van ons vir wie “Braaivleis, rugby, sonneskyn en Chevrolet” of “eenliter brandewyn, tweeliter Coke en drieliter Ford” ’n klokkie lui nie.

Sommige motorentoesiaste sal gaande wees oor die gedagte om ’n Dodge Challenger in hulle motorhuis te trek, maar dit was nie vir die eienaar van dié model genoeg nie. Hy is iemand wat daarvan hou om te jaag, maar geniet dit ook om op grondpad te speel – en daarom moes hy die Challenger aanpas om aan albei daardie behoeftes te voldoen.

Sy kar se bakwerk is dié van ’n 1972- model Challenger wat hy op die onderstel en asse van ’n 1987 Chevrolet M1009 CUCV- militêre voertuig gemonteer het. Die CUCV (dit staan vir Commercial Utility Cargo Vehicle), het sy oorsprong in die Chevrolet Blazer-sportnuts wat later aangepas is vir voertuie soos die Humvee.

’n Mens hoef egter net na al die detail in die projek en die spoggerige eindproduk te kyk om te sien dat dit dubbel en dwars die moeite werd was.

’n Groot probleem vir die eienaar was die enjin. Die M1009 se 6,2 l-V8-dieselenjin is dalk onvernietigbaar, maar met sy kraglewering van 120 kW is hy allesbehalwe opwindend, veral met die lae ratverhoudings. Die antwoord het gelê in ’n moderne 5,7 l-V8-petrolenjin. Dié enjin, wat ook uit General Motors se stal kom, stuur krag na al vier wiele met ’n outomatiese ratkas wat ’n baie laer ratverhouding het.

Dodge Challenger
Dodge Challenger
Dodge Challenger
Dodge Challenger
Dodge Challenger
Dodge Challenger

Hoekom is hierdie so ’n gawe 4x4-voertuig? Wel, eerstens kan jy kies of jy in 2H, 4L of 4H wil ry én hy het ewenaarslotte voor en agter.

Hy het ook Skykacker Black Max- vering wat die bakwerk genoeg lig om plek te maak vir daardie massiewe 37”- BF Goodrich KM2-bande.

Met dié dat die eienaar die bakwerk van die militêre voertuig verruil het vir iets meer klassieks, is die kar nie meer koeëlvas nie en daar is ook nie plek vir sy eie gemonteerde aanvalsgeweer nie. Maar hy het nou nuwe panele binnelangs, pasgemaakte meters en sitplekke, en ’n meneer van ’n klankstelsel vir wanneer hy moeg raak vir die gebrul van die V8.

Dit wil egter voorkom of hy nou genoeg pret gehad het met dié ryding, want hy bied dit nou aanlyn te koop aan. Nadat hy meer as R750 000 op die kar uitgegee het, is hy bereid om hom nou vir net R500 000 van die hand te sit.

Laat ons weet
Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na  rysleep@weg.co.za.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook