Ek sien dit gons en woel die laaste ruk op sosiale media oor ’n woonwa wat kwansuis deesdae ’n statussimbool is.

Dit herinner my aan ’n staaltjie oor ’n pikswart 1967-model Volkswagen Kewer genaamd Nap. Dié ryding het aan ’n voormalige Tukkies-rektor, prof. C.H. Rautenbach, behoort. Prof. Rautenbach was alombekend as prof. Nap – ’n afkorting vir Napoleon. Hy was klein van postuur, maar groot in persoonlikheid.

Ek onthou ook kampvriende, wat onlangs Kanada toe geëmigreer het, wat altyd so met hulle pinkies in die lug aan vreeslike deftige koffie geteug het.

’n Student vra hom eendag of hy dit sou oorweeg om ná sy aftrede ’n motor aan te skaf wat meer by sy status sal pas.

“Nee,” antwoord prof. Nap vriendelik. “My motor verleen nie aan my status nie. Ek gee status aan my motor.”

Daarna het die Volla ook die bynaam Nap gekry, en volgens oorlewering was swart Kewertjies ná prof. Rautenbach se aftrede baie gewild in die Jakarandastad.

TERWYL EK DIE geredekawel oor woonwaens as statussimbole gadeslaan, wonder ek so in die stilligheid of erfgename al ooit baklei het oor wie die ouers se woonwa gaan erf en wie die Persiese tapyte gaan kry. Mense jonger as 40 wat nie ’n EB-rybewys het nie, sal seker nie twee keer na die woonwa kyk nie.

Maar wat is ’n statussimbool nou eintlik? Is dit tierlantyntjies waarop mense geld verkwis met die uitsluitlike doel om ander mense te beïndruk?

’n Tipiese statusbewuste kampeerder sal om die kampvuur spog dat die geheue van sy kleuter se skootrekenaar groter is as die gesamentlike geheue van al die rekenaars op die Apollo 8- ruimtetuig. Dis toevallig ook die ou wat spog hy drink eerder lager as bier omdat eersgenoemde se brouproses nét deur ’n meesterbrouer behartig kan word.

Ek onthou ook kampvriende wat onlangs Kanada toe geëmigreer het, wat altyd so met hulle pinkies in die lug aan vreeslike deftige koffie geteug het. Dié koffie is deur ’n spesiale blink masjien gebrou en dit was volgens die vriende onmoontlik dat enigiemand ’n beter masjien as dié een kon hê.

Ander kampkennisse het graag hulle bottel Johnny Walker Platinum in die kabinet by die deur ten toon gestel. Klein Koos het egter die aap uit die mou gelaat en vertel Pappa gooi goedkoop whisky in die Platinum-bottel.

Dan is daar natuurlik die besonderse groepie mense wat dol is oor al wat die jongste katoeter is. Kom daar ’n nuwe Weber-stuk op die mark, word dit sonder versuim aangeskaf. By die kampplek word die Weber vir alles en almal ten toon gestel. Dit help natuurlik nie as die beesfilet so taai soos ’n skoensool is wanneer hy met hom klaar is nie.

JOU STAANPLEK IS ook ’n bron van status. Toe my pa sy eerste woonwa in die laat jare sewentig aanskaf, het hy jaar ná jaar sy tentpenne by Scottburgh gaan inslaan op staanplek nr. 193. Dit was die heel verste van die hek af.

Die staanplekke aan daardie kant van die park het toentertyd nie kragpunte gehad nie en die mense (ek noem hulle sommer snobs) wat naby die hek van die kampterrein gekamp het, het na die deel sonder krag verwys as “Monkeyland”. Mettertyd het kragpunte ’n standaarditem geword, maar met allerhande nuwighede, soos lugreëling, het mense stééds status nagejaag.

Waar die keuse in sleepvoertuie destyds tot Kombi’s, Ford V8’s en “Big Six”-bakkies beperk was, het die fokus nou verskuif na die sleepvoertuig as ’n spogsimbool. Jy word ook vlak gekyk as jou ryding nie ge-chip is nie.

My beskeie mening is dat ’n woonwa en allerhande fieterjasies nie ’n statussimbool is nie. Dis bloot ’n mobiele huisie waarmee jy iewers gaan uitspan om gesins- en familiebande te herbou en jou batterye te herlaai.

Ons as kampeerders moet status gee aan hierdie vorm van ontspanning deur onberispelike gedrag op die pad en by die plekke waar ons uitspan.