Beproef alles en behou die goeie – dít behoort Subaru se leuse te wees. ’n Paar jaar gelede het die vervaardiger met dieselenjins geëksperimenteer en ’n 2 l-turboaangejaagde oliebrander geskep.

Nou, in 2018, het Subaru daai dieselenjin onder sy jis geskop en besluit om voortaan net met petrolenjins verder te boer. Dit beteken jy kan nou ’n Outback met een van net twee enjins kies: ’n 2,5 l-viersinlinderbokserenjin of die vlagskipmodel se 3,6 l-sessilinderbokser.

Ons het laasgenoemde ’n week lank in die Kaapse winter bestuur om te sien waar dié Subaru verbeter is.

Nuwe neus

Nes met enige ontrimpeling is die sigbaarste verandering natuurlik die neus. Subaru het besluit om sy kenmerkende grootoog-hoofligte te vervang met ’n slanke ontwerp.

Die ou sierrooster het ook die trekpas gekry, en in sy plek is daar ’n deftige seskantige luggat. Die chroomstaaf wat deur die middel van die sierrooster sny, hou die kenmerkende Subaru-kenteken met trots omhoog.

Van die kant af is geen drastiese veranderings te bespeur nie, behalwe dat die wielvellings nuut is. Agterlangs is dit duidelik dat die ligte gemoderniseer is en dat die ou chroomstrokie oor die agterklap se knip nou verwyder is.

Interessant genoeg is daar weinig sigbare verskille tussen die top- en basismodel. Albei modelle het plastiekpanele onderlangs wat die bakwerk beskerm teen gruis wat opskiet.

Outomaat of outokraat?

As jy die soort mens is wat nie albei bene wil gebruik om jou kar te ry nie en boonop verkies dat jou motor die onbenullige takies uitsorteer sonder om jou daarmee te bemoei, gaan jy sommer baie van die Outback hou.

Van die oomblik dat jy nader stap en sien hoe ongeërg dié Subaru staan en wag, totdat jy deur die oopmaak sonder om ’n sleutel te gebruik, is daar geen trompetgeskal nie.

Glip houtgerus agter die stuurwiel in en geniet die gemaklike leerbekleedsel waarvan die ruglening, heupkussings en hoogte elektries verstel kan word. Jy kan selfs die agterklap met ’n knoppie oop- en toemaak. Waarom uitklim om jou kinders te help om hulle tasse in die bagasiebak te laai as jou motor dit vir jou kan doen?

Daar’s ook ’n knoppie wat die instrumentasie se beligting demp sodat hulle nie jou oë moeg maak nie. En die blindekolmonitors hou die voertuig in die baan langs joune dop sodat jy nie jou kop hoef te draai nie.

Die lewe in ’n Outback is só gemaklik dat ’n mens amper agter die stuur aan die slaap raak. Gelukkig is daar sensors wat jou help om in jou baan te bly en jou teen moontlike botsings waarsku. Én hy het stabiliteitsbeheer. Op die middelkonsole is ’n lekker groot 7”-raakskerm waarop jy die stand van sake met betrekking tot jou Outback soos ’n baas kan monitor.

Daar’s ’n TomTom-satellietnavigasiestelsel, radio en mediaspeler. Daar’s ook Apple CarPlay en Android Auto sodat jy jou gunsteling-apps op jou slimfoon deur die raakskerm kan gebruik. Musiek stroom by 11 Harmon Kardon- luidsprekers en ’n klankversterker plus ’n laebasluidspreker uit.

Binnelangs is die Outback lekker ruim.

Albei kante van die passasiersbank het Isofix-ankerpunte vir kindersitplekke sodat die kleintjies veilig is. Met die agterklap omhoog het jy 512 l pakplek in die bagasieruim.  Jy kan dit selfs verhoog tot 1 801 l as jy die agterbank wegvou en platslaan.

Lekker soos ’n trekker

Hierdie kar het ’n beer van ’n enjin, maar dis broodnodig, want die Outback is nie ’n klein motortjie nie. Die 3,6 l-enjin skop 115 Nm méér uit as die 2,5 l-basismodel en jy is deeglik bewus daarvan wanneer jy versnel. Heelparty motorskrywers kla oor palwisselratkaste (CVT) omdat dit glo motors lui laat voel, maar dié enjin-en-ratkaskombinasie pas bymekaar.

Die 191 kW krag is oorbodig is vir ’n gesinsvoertuig, maar ten minste kan jy ’n vragmotor teen ’n opdraande in ’n japtrap verbysteek. Ongelukkig kom dié werkverrigting teen ’n prys, want as jy ’n Outback as ’n stadsvoertuig gaan gebruik, gaan hy jou straf by die vulstasie.

Ná ’n week in spitsverkeer het ons ’n gemiddeld van 12,78 l/100 km gehaal. Op die ooppad kon ons dit darem afbring tot 10,45 l/100 km.

Moet jy een kry?

As jy ’n ryding soek wat jou kinders en skoonma – én al hulle bagasie – moeiteloos insluk, dan is die Outback nommerpas. Hy’s veral geskik vir vakansiereise wat slegte grondpaaie insluit. Dis ook goed dat hy verkoop word met ’n verlengbare diensplan en dat daar ’n indrukwekkende hoeveelheid veiligheidstelsels ingebou is. Jy kan die Subaru Outback gerus oorweeg, ten spyte van ’n tekortkoming hier en daar.

SPESIFIKASIES

Model Subaru Outback 3.6R-S ES

Enjin 3 603 cc, sessilinder-bokser, petrol

Krag 191 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag 350 Nm @ 4 400 r.p.m.

Ratkas Palwissel (CVT)

Versnelling 0-100 km/h 7,6 s (volgens die vervaardiger)

Brandstofverbruik 9,9 l/100 km (volgens die vervaardiger)

Bagasieruim 512 l/1 801 l

Tenk 60 l

Grondvryhoogte 213 mm

Waarborg 5 jaar/100 000 km

Diensplan 3 jaar/75 000 km

Prys R649 000