Foto's Leon Botha

Subaru het in die jare negentig ’n huishoudelike naam geword, veral ná sy sukses in tydrenne. Die vervaardiger is ewe bekend vir sy ikoniese boksersenjins, die sogenaamde “plat enjin” waarvan die suiers in ’n horisontale lyn én in teenoorgestelde rigtings beweeg.

Ander voertuie wat met ’n bokserenjin uitgekom het en omtrent ewe ikonies was, is die Volkswagen Kewer, die Ferrari Testarossa en die Porsche 911. Een van die groot voordele van dié soort enjin is die lae gravitasiepunt teenoor dié van konvensionele enjins, iets wat sorg vir beter padhouvermoë.

Subaru

Dis natuurlik goed en wel, maar niemand wil teen 140 km/h op ’n smal grondpaadjie in ’n denneboomplantasie jaag terwyl die gesin en die wa omtrent ewe hard moet klou om by te hou nie.

Gelukkig het die Outback ’n sagter kant om jou woonwa moeiteloos by jou kampbestemming te kry.

Armdruk tussen twee broers

PURE GESINSKAR. ’n Stasiewa is ’n klasieke voorbeeld van ’n gesinsmotor, en Subaru se Outback is ’n goeie voorbeeld hiervan. Maar behalwe al die ruimte in die kar is die Outback net so ’n gawe sleepvoertuig.

Jy kan kies tussen twee Outback-modelle, en behalwe die enjins is hulle identies. Subaru hou nie terug met die nuutste tegnologie nie en met die standaardopsies is die Outback ’n kar met alles wat kan oop- en toemaak.

Van ’n bagasieruim se deur wat elektries werk tot baanbeheer, blindekolsensors en drie lense wat sake voor, agter, en links van die Outback dophou.

Die 2,5 l-enjin het vier silinders en die 3,6 l ses. Vir die toets het ons laasgenoemde voor die wa ingespan.

Die sleepvragbeperking wat Subaru op die twee modelle plaas, strook met die onderskeie enjingroottes. Die 2,5 l mag ’n vrag van tot 1,5 t sleep en die groter een 1,8 t. Die toegelate neusgewig is 10% van die sleepvraglimiet en dus onderskeidelik 150 kg en 180 kg.

As ’n mens bloot na die syfers kyk, verskil die enjingroottes net meer as ’n derde, maar vir net 10% meer geld is dit deur en deur die moeite werd om die groter model te oorweeg. Dit beteken ’n verdere R67 000 by die R550 000 wat die kleiner model kos.

Gelukkig kry jy dit met rente terug as jy kyk na die groot verskil in die twee enjins se kraglewering. Met die 2,5 l se 235 Nm gaan jy hier en daar stoei met ’n groter woonwa, terwyl die groter enjin se 350 Nm opgewasse is vir die meeste woonwaens.

’n Mens sou dink die 3,6 l-enjin het ’n groot keelgat, maar oor sy 16,7 l/100 km – dit is 6 km/l – terwyl hy ’n wa van ’n ton op die haak sleep, kan ’n mens nie kla nie, veral as jy in ag neem dis ’n petrolenjin.

Luister vir die haak

Ons toetsvoertuig het ’n verwyderbare Kilber-Startrek-stang op. Al kan ’n mens met die groter model ’n swaarder woonwa sleep, beperk dié haak jou tot 1,5 t.

Sleephaak

Dis steeds ’n heel aanvaarbare gewig omdat heelwat padwaens minder as 1,5 t weeg (al kan die BVM hoër wees). ’n Ewe groot verskeidenheid boswaens en boswoonwaens val ook in dié gewigsklas.

Die neusgewig is beperk tot 75 kg (hoewel Subaru meer as dubbel dié syfer toelaat). Ons wetgewing beperk jou weliswaar tot 100 kg. Die haak het ’n flensplaat met twee stelle gate waarmee jy die bol 6 cm vertikaal kan stel, en as dit nie genoeg is nie, sal ’n sakplaat ook pas.

Die bol se verste kant staan 15,5 cm van die bakwerk af en die ligteprop sit links agter die buffer. Die onderste deel van die buffer is weggesny om plek te maak vir die ligteprop. Hierdie sok kan ook boontoe wegvou wanneer dit nie gebruik word nie. 

Oë oral

geen wegkruipplek. Die Outback het drie lense waarmee ’n mens op die navigasieskerm die beeld voor, agter en links langs die kar kan sien. Dis uiters nuttig, veral omdat jy ook ’n kombinasie van twee beelde op een skerm sien.

Truskerms in voertuie waarop ’n beeld wys van wat agter die kar aan die gang is, word al hoe meer as standaardtoerusting aangebied. Buiten dat dit help keer dat jy teen iets vasstoot wat laer as die bakwerk is, is dit ook van hulp wanneer jy ’n woonwa haak.

’n Mens kan presies sien waar die bol van die stang en die koppelstuk van die wa is, en só kan jy sonder enige hulp haak.

Hoewel die Outback se rekenaar nie die woonwa raaksien wanneer jy haak nie, skop die trusensor-alarms darem nie ’n lawaai op wanneer jy terugstoot nie.

’n Mens sou dink die 3,6 l- enjin het ’n groot keelgat, maar oor sy 16,7 l/100 km – dit is 6 km/l – terwyl hy ’n wa van ’n ton op die haak sleep, kan ’n mens nie kla nie.

Soos jy die stuur draai, wys indekslyne op die skerm in die rigting waarheen jy terugstoot en die kromming van die lyne pas verder aan soos jy aanhou draai.

Die Outback het ook ’n lens voor in die sierrooster sodat jy nie teen die geparkeerde kar voor jou vasry wanneer jy parallel parkeer nie. Maar dis sowaar nie al nie: ’n Derde lens sit weggesteek onder die linkerspieël om ’n ogie te hou oor diékantse randsteen.

Binneruim
net vir een. Die twee analoogmeters voor die bestuurder in die instrumentepaneel is versonke in twee buise wat dit vir die passasier moeilik maak om te lees..

Pieter sê

Pieter Crous gee toe: As dit by sleep kom, het hy ’n hoë dunk van Subaru.

Wanneer jy wegtrek, kan jy die krag voel, maar dis asof die CVT-ratkas sy hand daaroor hou en nie alles eensklaps gee nie.

Die kar trek lekker, maar dis nie daardie terugdruk-in-die-sitplek-gevoel nie. Al werk die ratkas spaarsaam met die krag, is die Outback wakker en reageer dadelik wanneer jy die versneller trap.

Die oorskakeling van die ratte is net so glad soos die dubbelkoppelaar-ratkaste wat ’n mens onder meer in Volkswagens sien. Trouens, hierdie ratkas voel selfs effens wakkerder – ek vermoed slim sagteware speel ’n groot rol agter die skerms.

Al is die CVT-ratkas in sy outomatiese modus, kan jy steeds die ratte met die ratspane beheer. As jy dit dan ’n rukkie los, skakel dit weer terug na die outomatiese modus.

skermmeters. ’n Mens kan in die Outback selfs die pad se spoedgrens sien – én hoe ver jy die lepel wegtrap.

Wanneer jy oorskakel na die Manual-modus, kan ’n mens uiteraard self die ratte kies, maar die rekenaar laat jou byvoorbeeld nie toe om ’n te hoë rat te gebruik as jy te stadig ry nie.

Die enjin is lag-lag sterk genoeg om van die grootste waens op ons paaie te sleep – iets wat ooreenstem met sy tarragewig van byna 1 700 kg. Ons het ’n Surfer-woonwa gesleep en nie van hom geweet nie.

Die sessilinder loop doodstil, en op ’n manier is Subaru in ’n klas van sy eie. Kyk byvoorbeeld na al die inligting wat ’n mens in die instrumentepaneel sien. Op die navigasieskerm kan jy met die hulp van ’n grafiek selfs sien hoe diep jy die versneller wegtrap. Dit lees in persentasie-intervalle – dit is die eerste keer dat ek so ’n lesing in ’n voertuig sien.

Tussen die twee analoë meters voor jou in die instrumentepaneel is ’n elektroniese skermpie waar jy kan kies om die spoedlesing digitaal te sien. Wat dit nóg meer prakties maak, is dat die spoedperk van die spesifieke pad waarop jy ry, langsaan vertoon word.

Die digitale horlosie sit op ’n vreemde plek: onder in die middelste paneel – dit lyk of dit deel vorm van die lugreëlingstelsel.

Die handrem is die elektriese soort, maar hy gee nie outomaties bes as jy wil wegtrek nie – nie voor die bestuurder se sitplekgordel ingeklik is nie. Dis ’n eerste vir my en ’n slim veiligheidskenmerk.

Die Outback het ’n lang bak, en soos die wa se neus op die haak druk, voel ’n mens dit – iets wat op sy beurt die rit ook stamperiger maak.

Die Outback is eerlikwaar die perfekte sleepvoertuig, veral met dié lieflike ratkas. Hoe langer ek agter die stuur sit, hoe meer raak ek verlief...

Die toets

Afstand 106,3 km

Topspoed 114 km/h (GPS)

Gemiddelde spoed 48 km/h (snelweë, agterpaaie en beboude gebiede)

Rytyd 2 uur en 14 minute.

Weer 17 ºC, bewolk tot sonnig met ’n noord-noordwestewind van 21 km/h.

Wat sê die boekie?

Brandstof 95 oktaan-petrol

Enjin 3,63 l

Silinders 6 (bokserenjin)

Krag 191 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag 350 Nm @ 4 400 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-outomaties (CVT)

Aandrywing Allewiel

Tarra 1 698 kg

BVM 2 130 kg

BKM 3 930 kg

Waaddiepte Nie beskikbaar nie.

Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 1 800 kg

Afmetings 4 815 mm (l); 1 840 mm (b); 1 675 mm (h)

Asafstand 2 745 mm

Spoorwydte 1 570 mm (voor); 1 580 mm (agter)

Grondvryhoogte 213 mm

Brandstoftenk 60 l

Prys (nuut) R617 000

Prys (tweedehands) Ons het op autotrader.co.za ’n 2018-model gesien met 5 000 km op die klok vir R519 900.

VINNIGE FEITE

Die sleephaak Die haak is nie standaard nie en kos ’n verdere R5 573 (arbeid uitgesluit).

Vering McPherson-onafhanklike vering voor en dubbele mikvere met kronkelvere agter. Onder die 80 kg-neusgewig van die Sprite Surfer het die stert ’n skaflike 2,5 cm gesak.

Wat sê die skaal? 1 920 kg met ’n vol tenk brandstof, die bestuurder in die kar asook die neusgewig van die Surfer op die haak. Gemeet teen die tarragewig is dit ’n vrag van 222 kg.

Binneruim Daar is min voertuie op die mark wat die Outback se beenspasie vir die agterste passasiers gaan klop. Daar’s ’n goeie 1½ dwarshande voor ’n sesvoetmens se knieë, met ’n hand se ruimte bo die kop. Op die voorsitplek het jy net drie vingers bo jou kop oop.

Spoed Die odometer se 100 km/h is 5 km/h vinniger as die GPS-spoed.

Brandstofverbruik Die 16,54 l/100 km (6,05 km/l) is heel gaaf vir ’n sessilinder van dié grootte. (Ons lesing en dié van die Outback se rekenaar stem ooreen.)

Afwerking Oorwegend swart, stylvol en stewig. In die deure en by die paneelkissie is ook ’n donker strook nagemaakte hout.

Ekstras Geen.

Ander modelle? Net een, die 2.5 i-S, wat jou R550 000 uit die sak gaan jaag.

Weg Ry en Sleep ’n Mens kan kies tussen tien kleure wat wissel van swart of wit regdeur tot rooi en blou. Die groen van ons toetsvoertuig pas die Outback soos ’n handskoen.


’n Mens sou dink die 3,6 l- enjin het ’n groot keelgat, maar oor sy 16,7 l/100 km – dit is 6 km/l – terwyl hy ’n wa van ’n ton op die haak sleep, kan ’n mens nie kla nie.
Die sleepding

Fabrikaat Sprite Model Surfer

Jaarmodel 2004

BVM 1 150 kg

Gelaaide gewig op die as tydens toets 960 kg

Neusgewig 80 kg

Weg Ry & Sleep het die Sprite Surfer by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by  021 982 4670 as jy die Surfer van nader wil bekyk. tygerbergcaravans.co.za