Die 1990’s en vroeë 2000’s was ’n goue era vir die wêreldtydrenreeks (WRC). Dit was ’n tyd toe magtige masjiene soos die Mitsubishi Lancer Evo en Toyota Celica Turbo met Subaru se Impreza meegeding het.

Name soos Colin McRae en Tommi Mäkinen was op elke tydrenaanhanger se lippe en dit was amper onmoontlik om te voorspel wie die volgende wedren sou wen. Maar toe word die reëls verander om luikruggies en Fransmanne met die naam Sébastien te bevoordeel.

Tien jaar gelede het menige skoolseun sy pa gesmeek om ’n blou Impreza WRX STI te koop – een met goue wielvellings, ’n gapende luginlaat in die enjinkap en ’n komieklike drukvlerk agterlangs.

Daardie dae is egter verby.

Die befaamde Subaru World Rally Team het ontbind en onder skoolseuns sorg ’n 2018 Impreza omtrent vir net soveel opwinding as ’n Toyota Etios.

Maar wat van die kordate Subaru XV? Dis ’n luikrug, dis ’n sportnuts en dis ’n Impreza op stelte wat lyk of hy op bosboupaadjies in ’n denneplantasie hoort – dit klink mos bakgat, nie waar nie?

TOT OP DIE BEEN. Die XV deel ’n onderstel (in goud) met die Impreza.

Binne en buite

Die XV is inderdaad gegrond op die Impreza, maar danksy swart plastiekpanele op die wielboë en ’n dakrak vir bergfietse en kajakke – en natuurlik omdat hy hoër bo die grond staan – het hy ’n houding wat getuig van avontuurlustigheid.

Sy lang neus herinner sterk aan die Mazda CX-3 se voorkoms en sy allewielaandrywing plaas hom in die geselskap van die Volvo XC40 en Mini Countryman eerder as die voorwielaangedrewe Toyota C-HR – almal die Subaru XV se mededingers.

LEKKER LYF. Die afwerking is uitstekend en al die panele pas perfek teenaan mekaar.

Die Subaru XV blink uit oor sy veiligheidseienskappe. Die XV het vyf sterre behaal in die Japannese én streng Europese botstoetse, en sy EyeSight-kamera-en-sensorstelsel hou ’n wakende oog oor ander motoriste en voetgangers.

Wanneer die stelsel opmerk dat jy moontlik in ’n ongeluk betrokke gaan wees, sal hy die voertuig outomaties laat rem. Hy waarsku jou ook as jy oor ’n sperstreep ry en as daar ’n voertuig in jou blindekol wegkruip.

Die Subaru XV blink uit oor sy veiligheidseienskappe. Die XV het vyf sterre behaal in die Japannese én streng Europese botstoetse.

In dié marksegment beskik slegs die Volvo XC40 oor dié vlak van veiligheidskenmerke.

Waar die XV ongelukkig tekort skiet, is sy bagasieruim. Teen 310 l is sy bagasiebak heelwat kleiner as dié van byvoorbeeld ’n Volvo XC40 (460 l) en BMW X1 (505 l). Dit is darem groter as ’n Volkswagen Polo s’n, maar ook nie veel nie.

Só ry hy

Die XV ry heel aangenaam – ’n rit in ’n XV voel amper soos ’n Sondaguitstappie na die botaniese tuin. Ons sal die rit nie as vervelig beskryf nie, maar dis ook allesbehalwe opwindend.

Die vering is hard genoeg om bakwieg tot die minimum te beperk, maar dis darem ook nie só hard dat jou tande klap nie.

Subaru is bekend vir sy palwisselratkaste, bekend as Lineartronic CVT, maar anders as baie ander palwisselratkaste is Subaru s’n darem nie té veragtelik nie. Trouens, die een in ’n Subaru Outback is amper beter as ’n gewone outomatiese ratkas.

Die Outback is wel met ’n lekker sterk 3,6 l-sessilinderenjin toegerus wat sy ratkas laat jubel, maar die XV word gekniehalter deur ’n verleë 2 l-viersilinderenjin – sonder ’n turboaanjaer – wat té pap is om sy palwisselratkas te laat presteer.

Die vering is hard genoeg om bakwieg tot die minimum te beperk, maar dis darem ook nie só hard dat jou tande klap nie.

Die deursneemotoris gaan egter nie hieroor kla nie, en as die trae ratkas jou werklik omkrap, kan jy na die sportmodus oorskakel en die ratwisselpedale agter die stuurwiel gebruik om 7 “ratwisselings” na te boots.

Die ratkas in die XV lewer aanvaarbare diens as jy bedaard bestuur en nie beplan om soos Sébastien Loeb of Sébastien Ogier te jaag nie. 

Die XV se vastrapbeheer werk puik op grondpaaie, nes jy van ’n Subaru verwag, en die stuuraksie voel goed: nóg oorsensitief nóg traag.

Die 18”-bande rol gemaklik oor sinkplaatpaaie en slaggate, en omdat die enjin- en-ratkaskombinasie so sedig is, voel dit nooit of jy soos ’n wildewragtig van die pad af in die bosse gaan injaag nie. Net soos die Outback het die XV ook ’n X-modus. Dit is basies elektroniese ewenaarslotte en die afdraandebeheer wat met die druk van ’n knoppie ingespan word sodra die padoppervlak effens uitdagend raak.

Om uit te vind of die XV murg in sy pype het, het ons ’n plaaslike hindernisbaan getrotseer en summier in modder van 3 cm diep vasgeval. Die XV wou nie vorentoe óf agtertoe nie en het bloot vreemde bromgeluide gemaak.

’n Paar toeskouers het die XV uit die modderplas gestoot – nadat hulle eers eiertjies gelê het – maar toe ons onthou om die elektroniese vastrapbeheer af te skakel het die XV aansienlik beter gevaar op die hindernisbaan.

Die enigste tekortkoming wat die XV werklik terughou, is sy lang, lae neus wat maklik teen ’n grondwal vassteek.

Slotsom

As dit kom by vakmanskap en voorkoms kan ons nie fout vind met die Subaru XV nie. Sy mistroostige enjin-en-ratkaskombinasie stel wel teleur as jy ’n petrolkop is, maar die gewone ou gaan dink jy’s té krities as jy kommentaar hieroor lewer.

Die Subaru XV se eintlike probleem is dat ’n Renault Duster (R312 900) en ’n Hyundai Creta (R349 900) meer prakties is – vir heelwat minder geld.

PRYS
Subaru XV 2.0i-S ES CVT....................................... R439 000
SPESIFIKASIES

Enjin 1 995 cc, viersilinder- bokser, petrol

Krag 115 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag 196 Nm @ 4 200 r.p.m.

Ratkas Palwisselratkas

Brandstofverbruik 7,3 l/100 km

Bagasieruim 310 l

Tenk 50 l

Grondvryhoogte 220 mm

Tarragewig 1 407 kg

Topsnelheid 194 km/h

Versnelling 0-100 km/h 9,8 s

Waarborg 5 jaar/150 000 km

Diensplan 3 jaar/75 000 km