Suzuki Suid-Afrika se reklamespan het vir die nuwe Jimny die slagspreuk “Giant killer” uitgedink. Dié sêding spruit uit Jimny-eienaars se bewerings dat die 4x4-buksie omtrent enige groot viertrekvoertuig kan ore aansit.

As jý een van hierdie groot viertrekvoertuie ry, proes jy sekerlik in jou koffie. Hoe durf hulle sulke stellings maak? Tog is dit waar dat die nuwe Jimny heelwat meriete het bo groter en duurder viertrekvoertuie.

Hoe vergelyk hy?

Die Jimny se draaisirkel is 4,9 m teenoor ’n Nissan Patrol se 12,6 m, en die Jimny is 3,48 m lank en 1,645 m breed teenoor ’n Toyota Land Cruiser 200 se afmetings van onderskeidelik 4,99 m en 1,98 m.

Dit beteken jy kan met ’n Jimny déúr ’n denneplantasie ry eerder as daaróm met die Cruiser. Verder: Die duurste Jimny kos R319 900, terwyl die goedkoopste Mercedes-Benz G-klas jou R2 786 653 armer gaan maak.

Jy sien ook nooit ’n Jimny agterop ’n insleeplorrie soos soveel Land Rovers nie... (Tel jou woorde, Cyril. – Red.)

Maar saam met die pluspunte is daar ongelukkig ook dinge wat pla. Die Jimny se standaard-Dunlop AT20 Grandtrek 195/80R15-bande is dun, klein en bespotlik as jy hulle vergelyk met die standaardbande van groter rygoed.

Die Patrol, Cruiser, G-klas en Discovery het almal ’n beter grondvryhoogte, en as dit by krag-tot-gewigsverhouding kom, lewer die swakste Land Rover Discovery (die 2.0 L-model) 0,06 kW/kg teenoor die sterkste Jimny se 0,04 kW/kg (handrat).

“Giant killer?” Nie heeltemal nie.

Binnelangs

Die nuwe Jimny se instrumentepaneel is pragtig. Dit herinner ’n bietjie aan Jeep se instrumentasie, maar dis op ’n kleiner skaal en nie so oordadig soos die Amerikaner s’n nie. Ons hou ook van die 4x4-kortkierie en die ekstra vashouplek vir die voorste passasier.

Agterlangs lyk dinge ook gaaf, maar die tekort aan bekerhouers vir die agterste passasiers is ’n probleem. Op ons reis deur die Richtersveld was daar gereeld waterbotteltjies wat op die vloer rondgerol het omdat daar nie genoeg bekerhouers vir al die insittendes is nie.

Daar is ’n nuttige 12 V-sok in die bagasieruim, maar die “ruim” in laasgenoemde woord is misleidend, want daar’s weinig pakplek.

Ons is dankbaar vir die verbeterde beenspasie, maar die bakwerk moes dalk 3 cm of 4 cm langer gewees het sodat jy darem ’n kleresak of twee kan inlaai.

Die lugreëling het uitstekend gewerk in die Noord-Kaap se snikhete klimaat. Koue lug is van die oggend tot laatmiddag deur die kajuit gepomp, en hoewel die Jimny vir lang tye geparkeer gestaan het met die enjin wat luier terwyl die fotograaf ’n koppie uitklouter om ’n foto van bo af te neem, het die temperatuurliggie nooit geflits nie.

Ons kon nêrens stilhou sonder dat mense nader stap en ons komplimenteer op die Suzuki Jimny nie.

Die groot ruite en smal pilare maak dit maklik om die landskap om jou te bespied en die regaf voor- en syruite help dat die binneruim oor die warmste deel van die dag onder die dak se skaduwee bly.

Só ry hy

Dit is opvallend hoeveel sterker die nuwe 1,5 l-enjin trek as die vorige 1,3 l. Die vorige Jimny het dikwels uitasem geraak in plekke soos Lesotho waar die lug dun is, en ons vermoed die nuwe Jimny sal nou beter presteer op pad na hoogliggende plekke soos die Tiffindell-skioord.

Ons wens egter Suzuki wil ons stoutste drome bewaarheid en die 1,6 l-enjin gebruik wat voorheen in die Suzuki Swift Sport te kry was en deesdae in die Vitara diens doen.

Die Jimny se standaardvering werk lekker as die voertuig lig gelaai is, maar met al ons kampgoed, ekstra brandstof en noodwiel het die Jimny heen en weer gewieg deur die draaie van die Piekenierskloofpas en op en af gebons op die 4x4-roetes van die Richtersveld.

Die viertrekstelsel bly egter puik en kon die Jimny teen enige helling in die Richtersveld uittrek. Die onderstel het nie ’n enkele kraakgeluid gemaak by die strafste asknopers nie. Daar was plekke waar ons gevrees het ’n dwarsas of homokinetiese koppeling (CV joint) gaan breek, maar die Jimny het voortgestoom sonder meganiese nukke of grille.

Slotsom

As dit by avontuurtoere kom, is die Jimny se Achilleshiel sy klein wieletjies, pap vering en min pakplek. Jy kan wel al daardie probleme hokslaan met naverkopeprodukte soos veldrybande, stywer kronkelvere en ’n dakrak. Sy 40 l-petroltenk sorg vir ’n reikafstand van 370 km, wat vergroot kan word tot 500 km as jy een 20 l-petrolkan saamry – en dis oorgenoeg vir die meeste reise in Suider-Afrika. Bout ’n agterste ewenaarslot vas en jy het ’n behendige veldryvoertuig wat vir min ander bostrokkies hoef terug te staan. Die Jimny se sterk punte is sy puik laestrekratkas en betroubare meganiese en elektriese stelsel.

Dan is daar sy voorkoms: Ons kon nêrens stilhou sonder dat mense nader stap en ons komplimenteer op die Jimny nie. Hy’s ’n hartedief, en ondanks sy tekortkominge kan ons met ’n skoon gewete saam in die koor sy lof besing.

SPESIFIKASIES

Model: Suzuki Jimny GLX

Enjin: 1 499 cc, viersilinderpetrol

Krag: 75 kW @ 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 130 Nm @ 4 000 r.p.m.

Ratkas: 5 spoed-handrat

Brandstofverbruik: 9 l/100 km

Tarragewig: 1 095 kg

Nader- en vertrekhoek: 37° en 49°

Waaddiepte: Onbekend

Grondvryhoogte: 210 mm

Waarborg: 5 jaar/200 000 km

Diensplan: 4 jaar/60 000 km

Veiligheidsgradering: (EuroNCAP, 2018)

Prys: R319 900