Kan Suzuki hoegenaamd ’n voet verkeerd sit? Dié Japannese motorvervaardiger, wat meer bekend is vir sy ysterperde en bootenjins, slaan inderdaad ’n baansyfer met ál sy voertuie.

Wat sportnutsvoertuie betref, kan Suzuki breed glimlag oor sy Jimny wat skaars by ’n handelaar inry voordat ’n nuwe eienaar weer met hom daar uitry.

Om alles te kroon het die ontrimpelde Vitara nou ’n turboaangejaagde 1,4 l-viersilinderenjin gekry wat deur Suzuki die K14C – of “Boosterjet” – gedoop is. Dié nuwe enjin vervang nie die bestaande turbolose 1,6 l-enjin (die M16) wat al meer as ’n dekade diens doen nie, maar bou eerder voort op die modelreeks en bewys dat Suzuki ook ’n stuiwer in die armbeurs kan gooi as dit by die tegnologie kom.

Ontrimpeling

Die huidige vierde geslag van die Vitara is vier jaar gelede bekend gestel, maar Suzuki het sy voorkoms vroeër vanjaar opgeknap met details soos vertikale stroke in die sierrooster wat die S-kenteken beklemtoon, groter mislampholtes en ’n J-vormige gleuf in die voorbuffer waarin ’n strook LED-dagryliggies pronk.

Agterlangs is die bakwerk en luik ook nou toegerus met LED-ligte wat die dagry- ligte voorlangs herhaal en, om alles te kroon, is daar nou ’n stel windmaker-17 duim-allooiwielvellings beskikbaar as ’n opsionele ekstra.

HUPPEL IN SY KNUPPEL Die turboaangejaagde 1,4 liter-enjin verskaf die soort kraglewering wat die Vitara se voorkoms lankal voor gevra het. Die bagasieruim is nie groot nie, maar dis gemiddeld vir hierdie soort voertuig.

Vertel ons meer oor daai enjin...

Die nuwe enjin is eintlik al ’n paar jaar in oorsese markte beskikbaar, maar Suzuki Suid-Afrika kon hom nou eers hierheen bring. As ’n mens in ag neem hoe ons brandstof afsteek teen dié van Europa en Asië, is dit ook maar goed dat hulle steeds die ou, betroubare 1.6 Vitara hier verkoop.

Suzuki se mededingers volg al geruime tyd die tendens om enjingrootte te krimp, maar die lugtoevoer te verhoog om te vergoed vir die kleiner kapasiteit. Natuurlik is beter brandstofverbruik dan ’n bonus. Daarom sê ons die K14C het op die regte tyd sy verskyning gemaak.

Dié enjin spog ook met direkte brandstofinspuiting, ’n gewig van skaars 88,6 kg én hy’s fisiek kleiner as die M16. Laasgenoemde eienskap het gehelp dat ingenieurs hom laer in die enjinruimte kon vasbout en sodoende die swaartepunt verlaag.

By die plaaslike bekendstelling het ons van die O.R. Tambo- internasionale lughawe ooswaarts gery na die Red Star-renbaan in Mpumalanga waar Suzuki ook sy Boosterjet-enjin in die Swift Sport-luikruggie aan ons bekend gestel het.

Agter die stuur is dit opvallend dat daar nou hope meer krag beskikbaar is, selfs al lê die naald nog laag op die toereteller. Die gevolg hiervan is dat die Vitara in ’n japtrap versnel en moeiteloos van ’n stadige na ’n vinnigvloeiende baan kan wissel met net ’n geringe trap van die petrolpedaal.

Wringkrag bereik sy hoogtepunt op 1 500 r.p.m., maar dit word gehandhaaf tot by 4 000 r.p.m.

’n Ander opvallende komponent in die kragleweringstelsel wat ’n pluimpie verdien, is die 6 spoed-handratkas wat gladde en presiese ratwisselings toelaat danksy ’n koppelaar wat akkuraat gryp en laat los nes jy dit verkies.

Ons ervaring met die Vitara was aangenaam, en ons kan net kopkrap waarom dit Suzuki so lank geneem het om die Vitara hierheen te bring. Hy’s heerlik om te ry, en ná 50 km in verskillende padtoestande – insluitende ’n stukkie grondpad – het die ritrekenaar gewys ons het slegs 6,5 l/100 km brandstof verbruik.

Dis lekker binne ook!

Die Vitara se binneruim is ’n gemaklike plek om tyd te verwyl danksy die puik lugreëling, kruisspoedbeheer met ’n spoedbeperker, voorste én agterste parkeersensors en ’n 7 duim-raakskerm vir die inligting-en-multimediastelsel (met Android Auto en Apple CarPlay) wat ook diens doen as die trukamera se skerm.

Die raakskerm wys die trukamera se beeld.

Die sponsige panele om jou en ’n moderne, digitale inligtingskerm tussen die analoë spoedleser en toereteller wat vroeër vanjaar bygevoeg is, is welkome bykomstighede.

Indrukwekkende veiligheidseienskappe sluit in sewe lugsakke, elektroniese stabiliteitsbeheer, sluitweerremme met remkragverspreiding en remkragversterker. Ongelukkig is die Allgrip-logo wat allewielaandrywing aandui, afwesig in die Boosterjet.

Slegs die getroue ou M16-model met sy handratkas het hierdie aandrywingstelsel, maar Suzuki sê dit kan reggestel word indien die aanvraag daar is – en Suzuki Suid-Afrika sál luister, want die Vitara verkoop goed op eie bodem.

Mededingers
Mededingers
SPESIFIKASIES

Enjin: 1 373 cc-viersilinder-turbopetrol

Krag: 103 kW @ 5 500 r.p.m.

Wringkrag: 220 Nm @ 1 500 r.p.m.

Ratkas: Sesspoed-handrat

Topspoed: 200 km/h

Brandstofverbruik: 5,8 l/100 km

Tenk: 47 l

Grondvryhoogte: 185 mm

Nader- en vertrekhoek: Onbekend

Waaddiepte: Onbekend

Bagasieruim: 375-1 120 l

Tarragewig: 1 140 kg

Sleepvermoë: Onbekend

Veiligheidsgradering: (Euro NCAP, 2015)

Model getoets: Suzuki Vitara 1.5 Turbo GLX

PRYS: R378 900