foto’s Cyril Klopper

Met die plaaslike bekendstelling van die allewielaangedrewe Vitara Allgrip in 2016 het ons die berge rondom Knysna ingevaar om hom te toets. Drie jaar later is die turboaangejaagde Suzuki Vitara hier onthul en ons het ons eerste indrukke in Oktober 2019 gedeel. Die Vitara Allgrip se vermoë op slegte grondpaaie het ons beïndruk, maar ons wou hom geensins voorhou as ’n speelse ryding nie.

Die Vitara Turbo was egter prettig om mee te ry, hoewel ons met sy bekendstelling nie kans gekry het om grondpad aan te durf nie.

Met die koms van die Vitara Turbo het Suzuki ook sommer van die geleentheid gebruik gemaak om die binneruim op te knap. Die middelkonsole spog sedert 2019 met dieselfde raakskerm wat sy buiging gemaak het in die Suzuki Jimny. Die lugreëling se knoppies is gemoderniseer en tussen die twee middelste luginlate pronk nou ’n aantreklike analoë horlosie.

In die laaste week van die vlak 4-inperking in Mei het ons agter die stuur van ’n Vitara en ’n noodsaaklikedienstepermit in die gatsak afgesit see toe om uit te vis wat belangriker is: om vinniger op ’n snelweg te kan ry, of om sand baas te raak?

In die twee Vitaras het ons dus die vergestalting van Aesop se fabel Die skilpad en die haas. Die Allgrip wat vir Turbo uitdaag.

ONS GAAN SEE TOE! Die Vitara se ontwerp het vinnig verouder. In 2016 het hy na ’n moderne ryding gelyk, maar slegs vier jaar later is dit nie meer die geval nie. Die Vitara Turbo het nie ’n kenteken wat hom onderskei van sy grondpadbroer nie, hoewel laasgenoemde wel ’n Allgrip-kenteken het.

Twee enjins

Die Suzuki Vitara Turbo gebruik ’n 1 373 cc-reguitviersilinder-turbopetrolenjin met dieselfde Boosterjet-tegnologie wat tans ook in die Suzuki Swift Sport te sien is – die sogenaamde K14C-enjin.

Daarteenoor gebruik die effens ouer Vitara Allgrip ’n 1 586 cc-reguitviersilinder-petrolenjin met gewone lugtoevoer – ook bekend as die M16A-enjin – wat sedert 2006 in die Suzuki SX4 gebruik word.

Die 1,6 l-enjin het nooit watwonderse kragleweringsyfers gehad nie, maar hy was betroubaar soos ’n John Deere-trekker wat sonder klagte ons laergehalte petrol afgesluk het. Die nuwer 1,4 l- turboaangejaagde enjin is aansienlik wakkerder, maar hy sukkel met tipiese turbotraagheid wanneer jy stilstaan en wegspring. Dit is amper asof hy uit sy middagslapie onder die boom geruk is en nou eers ’n paar treë moet gee om op volle vaart te kom.

Die naaste waardige mededinger in Suid-Afrika, veral wat prys betref, is Renault met sy Duster-reeks. Die Duster word in voorwiel- én allewielaandrywing aangebied en het ’n soortgelyke enjinkapasiteit as die Vitara. Ander mededingers is die Kia Sportage en Volkswagen Tiguan, hoewel hulle kennelik duurder en weelderiger is.

Ons sou die Vitara ook graag met die Mini  Cooper Countryman en Subaru XV wou vergelyk, maar hulle is slegs in allewielaandrywing beskikbaar.

Op die teerpad

Die Suzuki Vitara voel klein wanneer jy agter die stuur inskuif – heelwat kleiner as die ou Grand Vitara wat betreklik gewild was. Die smal sitplekke knyp jou agterstewe vas nes ’n kinderstoeltjie, die plafon hang laag, en die stuurwiel voel asof hy in jou skoot lê. Dit is egter die vloek van lang mense (as jy korter as 1,6 m is, sal dit ook pla, maar minder). Die stuurwiel is wel hoogteverstelbaar, maar kan nie vorentoe of agtertoe nie.

Die Suzuki Vitara Turbo het beslis die oorhand bo die Vitara Allgrip wat versnelling betref, want sy turboaanjaer laat die enjin sing vergeleke met die ouer 1,6 l-enjin van sy grondpadbroer. Die Vitara Turbo is egter geen sportmotor nie, want teen 9,5 s om 100 km/h te haal gaan hy nie jou hare deurmekaar waai nie. Bygesê, dis amper ’n sekonde vinniger as die Volkswagen T-Cross se 10,2 s en die Hyundai Venue se 11,5 s. Albei mededingers troef wel die Vitara Allgrip se slakkepas van 12 s.

Ja, Haas se 1.4-turboenjin is gewillig teenoor Skilpad se meer bedeesde 1.6, maar die Vitara Allgrip kan grondpad ry.

VREEMDE TYE. Jy moet die Vitara se deure hard toeslaan, anders bly ’n liggie op die instrumentepaneel aan. Die bagasieruim het ’n vals vloer waaronder jy Zimbabwese sigarette of Woolworths-hoenders kan smokkel.

Op die grondpad

Dit is ’n jammerte dat Suzuki destyds besluit het om van laestrekratte en die ewenaarslot ontslae te raak, maar dis ook te verstane, want min Vitara-eienaars het dié toestelle gebruik.

Die Vitara Allgrip gebruik deesdae ritmodusse, naamlik Sneeu, Outomaties, Gesluit en Sport – wat goed genoeg was om ons in 2016 teen ’n modderige Prins Alfredpas uit te trek. Ons is vol vertroue hy sal ons ook teen die Sanipas kan uitkry mits die grenspospolisie die Vitara Allgrip aanvaar as ’n ware 4x4-voertuig.

Wat veldryvermoë betref, staan die Vitara Allgrip en Turbo teen 185 mm ewe hoog in hulle sokkies. Dié grondvryhoogte steek egter sleg af teen die Ford Ecosport se 206 mm en selfs die Hyundai Venue se 195 mm. Die Ford en Hyundai bied wel nie allewielaandrywing nie en val dus uit die bus ongeag of hulle hoër bo die grond staan.

Omdat die Vitara Turbo slegs met sy voorwiele aangedryf word, maak hy nie hond haaraf op sandpaaie nie. Ons het versigtig op sand langs die see gaan ry – toemaar, dit was wettig! – en kon voel hoe die Vitara Turbo spook om aan te hou beweeg. Uit ervaring weet ons die Vitara Allgrip sou hom hier goed van sy taak kwyt.

Die Vitara Turbo se 215/60 R16-laeprofielbande is ook effens stamperig op ’n grondpad terwyl die Vitara Allgrip se dikker 215/55 R17-bande ’n gemakliker rit lewer.

Slotsom

Die Suzuki Vitara Allgrip se direkte mededingers die Ford Ecosport, Mazda CX-3, Honda CR-V en Nissan Qashqai is almal in ander lande met allewielaandrywing beskikbaar, maar op eie bodem word hulle slegs met die voorwiele aangedryf. Van die drie dink ons die CX-3 is die wenner as dit by padhouvermoë en ritplesier kom.

Soos reeds genoem, is die Mini Countryman en Subaru XV óók mededingers, maar die XV wat ons in Suid-Afrika kry, is lui vergeleke met die Suzuki. Die Countryman kan jy beslis oorweeg. Die Volkswagen T-Cross en Hyundai Venue het turboaanjaging nes die Vitara Turbo, maar hulle is nêrens op aarde te kry met allewielaandrywing nie. Suzuki se aanbod is dus ietwat uniek in Suid-Afrika.

Die Vitara Turbo en Allgrip het ’n ruim bagasiebak (450 l) – ruim genoeg vir by die 90 pynappels en 30 sakke suiker (plus nog 10 sakkies gis in die paneelkissie). Dit is effens groter as dié van die Duster (414 l), maar kleiner as die Kia Sportage se 466 l en die enorme 520 l in die Volkswagen Tiguan.

As jy geeneen van die mededingers oorweeg nie en jou hart op die Suzuki Vitara verloor het, moet jy nou besluit of jy vinniger wil kan ry met ’n Vitara Turbo, of sand- en modderige paaie wil kan baasraak met die Vitara Allgrip.

Ja, Haas is ongetwyfeld vinniger, maar ons staan bankvas agter Skilpad.

Spesifikasies
Spesifikasies
Mededingers
Mededingers
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook