Volkswagen se eerste moderne sportnuts het die Touareg geheet, genoem na die Tuareg-stam van die Sahara. Daarna het gevolg die Tiguan, wat ’n samevoeging is van “tiger” en “iguana”. En nee, ons steek nie die draak nie – die Duitse motortydskrif Auto Bild het ’n kompetisie gehad waarin lesers die naam kon kies van Volkswagen se volgende ryding.

En ons het gedink die Duitsers het nie ’n humorsin nie...

Die maatskappy het dadelik ’n patroon raakgesien en besluit om voortaan die name van al sy sportnutse met ’n T te begin. Volgende aan die beurt was die T-Cross, en nou het die T-Roc sy verskyning gemaak. (In ander lande is daar ook die Teramont, Amerika se grootste Volksie, en die Tayron, wat net in China te koop is.)

Met sy X1 tot X8 het BMW bewys daar is geld te maak as jy die mark met tientalle modelle bombardeer, en Volkswagen erken hy probeer dieselfde “model-offensief”. Saam met die Tiguan Allspace is daar dus altesame sewe T-sportnutse. Ons het die bekendstelling van die T-Roc bygewoon wat aanlyn plaasgevind het.

TOEKOMSPLANNE. Die binneruim is suiwer wetenskapsfiksie, met ’n sterk digitale aanbod. Die induksieplaat bo die rathefboom kan sommige fone koordloos herlaai.

Die Volkswagen T-Roc is ’n kompakte sportnuts wat tussen die T-Cross en Tiguan inskuif. Hy’s 80 mm langer as die T-Cross en 162 mm korter as die Tiguan. Die T-Roc is Volkswagen se eerste sportnuts waarop die verfkleur van die dak en romp verskillend is. Jy kan kies uit 10 bakverfkleure en 3 kleure vir die dak – rooi, wit of swart – waarvan jy een uit 25 kleurkombinasies kan bestel.

Die T-Roc is ook een van die eerste modelle met Volkswagen se nuwe embleem op die sierrooster. Die T-Roc kom in twee afwerkingsvlakke: Design en R-Line. Die Design is die intreevlakmodel en word toegerus met 17”-allooiwielvellings wat jy kan opgradeer tot 18”. Die R-Line kry 19”-vellings wat beslis nie geskik is vir grondpad nie.

Suid-Afrikaners sal twee enjinkeuses hê: ’n 1,4 l-turboaangejaagde petrolenjin met ’n agtspoed- outomatiese ratkas (Tiptronic) en ’n 2 l-turbopetrol met ’n sewespoed- outomatiese ratkas (DSG). Eersgenoemde het ’n brandstofverbruik van 6,9 l/100 km en ’n topspoed van 205 km/h, sê Volkswagen. Die 2 l-weergawe gebruik 8,3 l/100 km en haal 216 km/h met ’n versnelling van 0-100 km/h binne 7,2 s. Volkswagen het nie volledige spesifikasies deurgegee nie en al wat ons weet, is dat die 1,4 l-enjin 110 kW krag lewer en die 2 l-model 140 kW.

Binnelangs kan jy kies tussen drie kleurskakerings wat óf by die bakverfkleur pas óf daarmee kontrasteer indien jy iets meer dramaties soek. Die stemmingsligte binnelangs is wit in die Design en rooi in die R-Line.

Hier is sitplek vir 5 volwassenes en ’n bagasieruim van 445 l (1 290 l as die sitplekke platgeslaan is). Laasgenoemde is amper dubbel so groot as die Fiat 500X en Mazda CX-3 se bagasieruim; dit is net die Opel Mokka X met sy 356 l wat amper met die T-Roc kan meeding.

Net soos baie ander nuwe voertuie vandag is die T-Roc besaai met elektroniese affêrings. Hier is ’n 8”-raakskerm met twee USB-sokke in die middelkonsole wat met jou foon konnekteer. Jy kan ook Volkswagen se We Connect Go-app gebruik om deur jou foon inligting oor jou T-Roc te kry, onder meer waar jou naaste dienssentrum is en die odometerlesing vir belastingdoeleindes.

Die digitale instrumentepaneel agter die stuurwiel is verstelbaar om die lesings te wys waarin jy die meeste belang stel. Jy kan byvoorbeeld die toeremeter en spoedleser laat krimp om meer op jou reis en reikafstand te fokus.

Weens die onvoorspelbaarheid van die rand en die wêreldekonomie in die geheel, wou Volkswagen nie ’n prys vir die T-Roc gee nie, maar hulle neem wel bestellings.

Maar as ’n mens in ag neem wat ander Volkswagens deesdae kos, reken ons die T-Roc gaan jou rondom ’n halfmiljoen pitte uit die sak jaag, wat hom aansienlik duurder maak as sy mededingers.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook