foto’s Leon Botha

Volkswagen het pas die derde geslag van sy Touareg bekend gestel en sê dié vlagskip-sportnutsvoertuig is wat die tegnologie betref, sy mees gevorderde voertuig tot nog toe. Wanneer jy agter die stuur inklim, weet jy dadelik hoekom die vervaardiger so sê.

Volkswagen gebruik geruime tyd al die Active Info Display-instrumentepaneel wat heeltemal elektronies werk, maar nou het die Duitsers daarop voortgebou met ’n bykomende en nóg groter elektroniese skerm. Dié skerm is na die bestuurder gedraai en strek na links – en vorm ’n eenheid van meer as ’n halwe meter lank.

’n Mens voel sommer of jy ’n toekomsfiksie-voertuig beman, en heel duidelik voel die Volkswagen-witjasse ook so, want hulle het dit die “Innovision Cockpit” gedoop.

Met die Touareg se sleepvermoë skort niks nie. Trouens, hy is ligter as sy voorganger, wat in verskeie enjinopsies (van ’n 3,6 l-petrolenjin tot die 3 l- en 4,2 l-dieselenjin) beskikbaar was. Vandag kan jy net tussen twee modelle kies, albei met die 3 l-dieselenjin wat 190 kW en 600 Nm uitskop.

Dit is onderskeidelik 10 kW en 50 Nm méér as die vorige 3 l-enjin. En dan is die Touareg se sleepstang, wat voorheen opsioneel was, vandag standaard op albei modelle.

Meer beskeie, maar beter. Die nuwe Touareg is beter as sy voorgangers, maar die ontwerp is skoner. Voorheen is die presiese model op die agterkant aangedui, maar op die nuweling staan net die woord “Touareg”.

Welkom aan die wa

Die sleepvermoë van die 3 l-model wat ons drie jaar gelede getoets het, was vasgestel op 3,5 t, met ’n maksimumneusgewig van 140 kg.

Die nuwe Touareg se syfers lyk dieselfde, maar die nuwe model se Bosal-stang werk volkome elektries. Die stang sit weggesteek agter die buffer, en wanneer jy die knoppie regs agter in die laairuim druk, swaai die stang uit tot op sy plek. Die hele uitswaai-aksie neem 8 s (vir die terugslaan is dit 9 s).

Die haak self het ’n D-waarde (wat na ’n spesifieke vragtoets verwys) van 16,4 kN, wat gelykstaande is aan 1 672 kg. Die rekenaar weet wanneer jy ’n woonwa haak – die alarmstelsel hou selfs ’n ogie oor die wa wanneer jy dit aktiveer.

As jou wa egter LED-agterligte het, gaan die alarm nié ’n keel opsit as iemand die wa probeer afhaak nie. Volgens die Volkswagen-boekie is die rede hiervoor “tegnies van aard”. (Dus “omdat ek so sê”. – Red.) Wanneer jy die wa se ligtedraad in die harnas druk, waarsku die rekenaar jou ook die blindekolsensors én die een wat dwarsverkeer agter jou dophou terwyl jy terugstoot, is nou gedeaktiveer.

Sleepvriende. Die Touareg pas slepers soos ’n handskoen: Hy’s sterk en ruim, maar meer nog, die rekenaar weet wanneer jy ’n woonwa haak. Én die elektriese uitswaaihaak is standaard.

Soos verwag, is die Touareg toegerus met ’n woonwaswaaibeheerstelsel. ’n Paar dinge moet egter gebeur voor die stelsel werk soos die ingenieurs dit beplan het: Jou woonwa moet onder meer met inloopremme toegerus wees, die neusgewig moet die voorgeskrewe maksimumgewig op die bol wees, en ’n mens moet vinniger as 60 km/h sleep.

Die Touareg se Trailer Assist-stelsel (’n stelsel wat ons onlangs in die Volkswagen Tiguan en Arteon raakgeloop het) sit hand by as jy ’n woonwa in ’n steeg moet terugstoot.

Kinderbederf. Die mense op die agtersitplek kan hulle eie lugreëling verstel. Hier is selfs twee USB-sokke asook ’n 230?V-tweepuntsok as jy dit wil gebruik.

Nóg veranderinge

Albei modelle is outomaties, maar Volkswagen het met die gewone ratkierie weggedoen. Die nuwe rathefboom se kop is plat en omtrent so breed soos jou handpalm, maar die basis verander nie van posisie nie; jy druk die kop vorentoe as jy van “Park” af wil oorskakel na “Neutral” of “Reverse”, en terug as jy die ratkas in “Drive” wil sit.

Die knoppie regs op die ratkierie druk jy wanneer jy oorskakel, en die knoppie links gebruik jy slegs om hom in “Park” te sit.

Wanneer jy die Touareg in enige van die ratmodusse (behalwe “Neutral”) afskakel, word die ratkas outomaties in “Park” gesit. En as jy die Touareg in “Neutral” afskakel, bly dit vir 30 minute in dié modus waarna dit outomaties terugskakel na “Park”.

Die Touareg waarmee ons gesleep het, het vier hoogteverstellings vir die lugvering – die knop hiervoor is ook in die middelste paneel by die rathefboom. Vir sleep stel Volkswagen die Street-rithoogte voor.

Die Touareg het ook sewe ritmodusse, waaronder Eco, Comfort, Sport en Offroad. As die lugvering byvoorbeeld op die Street-hoogte en die ritmodusse op Comfort gestel is, sak die vering outomaties wanneer ’n mens vinniger as 140 km/h ry.

As jy dan weer vir langer as 20 s rondom 100 km/h ry, keer dit terug na die oorspronklike verstelling.

Volkswagen neem sy Heads-up Display in die nuwe Touareg ’n stap verder. In ander Volkswagen-modelle lig ’n glasskermpie digby die ruit voor die bestuurder uit die paneel. Inligting soos die baanbeheer, kruisspoed en gewone spoed word dan teen hierdie glasskerm weerkaats, en jy sien dus die inligting sonder om af te kyk na die instrumentepaneel.

In die nuwe Touareg het jy nie die glasskerm nie, maar lees die inligting teen die windskerm self. Selfs die navigasiestel se aanwysings verskyn hier. Die stelsel is baie gerieflik en beslis ook veiliger. Dié slim stelsel het wel ’n achilleshiel: As jy jou donkerbril met gepolariseerde lense dra, kan jy van die detail op die skerm nie sien nie.

Pieter sê

Pieter Crous

As ’n mens kyk na die aantal verstellings wat moontlik is op die bestuurder se sitplek, gaan énigiemand maklik sy of haar sit kry.

En as jy eers sit, kom jy gou agter hierdie enjin het g’n greintjie luiheid in hom nie: Hy trek dat die honde huil. Maar ons weet almal ’n groot enjin met dié soort krag beteken net een ding en dis betáál by die vulstasie.

Die krag moet tog van iewers af kom... (As die rekenaar sê die kar het ’n reikafstand van 1 000 km, moet hy ’n groot brandstoftenk hê.)

Ons het die Franschhoekpas gekies om te sien hoe hy die steil bulte uitsleep. Selfs al vlieg jy met ’n woonwa weg, druk hy jou in die sitplek vas. Werklik Merkwaardig.

Die rathefboom se kop is breed en jou hand pas gemaklik daarop – dit werk goed vir my. En danksy die lugvering is die rit nie stamperig nie. Ook bakrol is omtrent iets wat nie bestaan nie, selfs al is dit so ’n groot kar.

Jy weet jy sleep ’n woonwa, want dis die truspieëls vol, maar jy voel dit glad nie. Daar is geen wieg te bespeur weens die gewig op die haak nie; ’n mens voel selfs nie die windweerstand as gevolg van die hoë Quantum Comfort wat ons sleep nie.

Die nuwe Touareg is amper ’n rekenaar-op-wiele – en ’n stérk een daarby. Die Lane Assist-funksie werk goed en die stelsel hou die Touareg mooi tussen die lyne van jou baan as jy die stuur los. Selfs in ’n draai volg hy die baan, maar dan raas hy ook vinnig en sê jy moet die stuur oorneem.

Dit pla wel op ’n smal pad sonder ’n skouer waar hy jou weg van die middellyn hou, want dan voel dit of jy té naby aan die linkerkant van die pad ry.

Ek is mal oor die ekstragroot navigasiekaart op die linkerkantse skerm en jy kan dit ordentlik sien en lees. Ook die middelste kassie onder jou linkerelmboog is gaaf, hoewel ’n mens sukkel om jou sitplekgordel in te klik omdat die kassie teenaan sit.

Die versnelling van 80- 120 km/h stel nie teleur nie. Dit neem die Touareg 9,5 s in die gewone modus en 9 s in die Sport-modus.

As ’n mens na sy eweknieë kyk, is daar min ander wat dié grootte wa so maklik gaan sleep, tensy jy ’n hele paar ekstra rand uithaal. As daar ooit ’n voertuig vir sleep gemáák is, sit ek nou in hom.

Die sleepding

  • Fabrikaat Quantum Leisure Model Comfort
  • Jaarmodel 2018
  • BVM 1 660 kg
  • Gelaaide gewig op die as tydens toets 1 260 kg (geweeg gehaak aan die Touareg).

Weg Ry & Sleep het die Quantum Comfort by Tygerberg Caravans geleen. Bel vir Wesley Dempster by  021 982 4670 as jy die Quantum van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Voor die wind. Die Touareg maak sy stem dik onder sleepvoer­tuie, en met die 600 Nm se wringkrag staan jy terug vir geen bergpas nie.
Die toets

Afstand 153 km

Topspoed 120 km/h (odometer)

Gemiddelde spoed 44 km/h (dit sluit in die ry- en stilhoutye op snelweë, agterpaaie, beboude gebiede en ’n steil bergpas)

Totale rytyd 3 uur en 28 minute.

Weer 16 ºC, meestal bewolk en ’n stewige 31 km/h-noordewind.

Wat sê die boekie?

Brandstof Diesel

Enjin 2,967 l

Silinders V6

Krag 190 kW @ 3 250-4 250 r.p.m.

Wringkrag 600 Nm @ 2 550-3 250 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties (DSG, Tiptronic)

Aandrywing Heeltyds allewiel.

Tarra 1 930 kg

BVM 2 810 kg

BKM 6 310 kg

Waaddiepte 570 mm (lugvering).

Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 3 500 kg

Afmetings 4 878 mm (l), 5 008 mm mét die sleepstang; 1 984 mm (b); 1 702 mm (h)

Asafstand 2 894 mm

Spoorwydte 1 653-1 669 mm (voor); 1 658-1 669 mm (agter)

Grondvryhoogte Nie beskikbaar.

Brandstoftenk 90 l

Standaardprys (nuut) Vanaf R1 142 200.

Prys (tweedehands) Ons het op autotrader.co.za ’n 2018-model met net 200 km op die klok gesien vir R1 079 000.

VINNIGE FEITE

Die sleephaak Die haak is standaard – dit is gesertifiseer vir ’n sleepvrag van 3,5 t en ’n neusgewig van 140 kg.

Vering Verstelbare lugvering. Inaggenome die 140 kg-neusgewigperk het ons ’n gewig van ’n aks meer op die bol gesit om te kyk hoeveel die stert sak: nie ’n sentimeter nie. Dit is merkwaardig.

Wat sê die skaal? 2 520 kg met ’n vol tenk brandstof, die bestuurder in die kar asook die Quantum Comfort se neusgewig op die bol van die haak. Die kombinasie was 3 780 kg – altesame 2 530 kg kort van die toegelate BKM van 6 310 kg.

Binneruimte Albei voorsitplekke het verskeie elektriese stelopsies. Die passasiers op die agtersitplek het vier vingers oop voor die knieë en twee bo die kop.

Spoed Die odometer verskil 4 km/h met die GPS-lesing: Wanneer die Touareg wys jy ry 100 km/h, wys die satellietnavigasie 96 km/h.

Brandstofverbruik ’n Heel skaflike 14 l/ 100 km (7,14 km/l) volgens die rekenaar en 13,7 l/100 km (7,3 km/l) volgens ons somme.

Afwerking Donker, stylvol en stewig.

Ekstras Onder meer metaalverf R4 950, 21”-vellings R35 350, die Innovision Cockpit R74 900 en die Advanced Safety Package R59 150 wat die baanbeheerfunksie en Head-up Display met nagvisie insluit.

Ander modelle? Net een, die Luxury R999 800. 


Weg Ry en Sleep ’n Fietsrak pas ook op die stang – die totale gewig van die rak en al die fietse mag nie 75 kg oorskry nie.

Van die mededingers