Giniel de Villiers se tydrenmotor skeer oor die Goerapan buite Upington. Die rand van die 3 km breë soutpan kom al hoe nader, maar die petrolpedaal bly plat op die vloer. Giniel se gesig is uitdrukkingloos. Dan, skielik, in ’n warboel van handbewegings, haak hy vyfde rat, vierde, derde, tweede. Hy gee ’n pluk aan die handrem en die stuurwiel en die tydrenmotor maak ’n 90°-draai. Derde rat, ons jaag deur ’n plaashek, vierde rat, vyfde...

Hier langs Giniel in die navigator se sitplek moet jy verbete aan die vyfknipsitplekgordel vasklou terwyl die tydrenjaer die Kalahari se rooi duineveld injaag. Giniel se Toyota is elektronies beperk tot 179 km/h – dis die reëls – maar hy handhaaf daai spoed deurentyd.

Oor duine en deur plaashekke, oor rotse en dwarsdeur gate lê die naald die hééltyd op 179 km/h. Ná ’n moordende skof hou hy by die mobiele werkswinkel stil en versoek die voorste vering moet ’n aks harder gestel word. ’n Renmotor se vering- en kragleweringverstellings is nooit perfek nie; daar is altyd ruimte vir verbetering.

Dit is asof Toyota dié filosofie ter harte geneem het, want die Hilux is pas opgeknap en sy naam is die Dakar. Goed, hy kry nie R180 000 se skokbrekers en ’n ratkas wat etlike miljoene rand kos nie, maar hy staan beslis uit tussen ’n klomp Hilux Raiders.

PRINS VAN ORANJE. Die nuwe bakverfkleur heet Inferno Orange en dit vertoon heel goed op die Hilux Dakar. Die amptelike Dakar-kentekens lyk lekker, maar Toyota betaal tantième om dit te mag gebruik. Satellietnavigasie en LED-ligte is welkome veranderings.

Wat is anders?

Die grootste verskil is die groter seskantige sierrooster en ’n herontwerpte buffer wat nie meer soos ’n Neandertal se onderkaak uitsteek nie. Dit is gedoen ná vele klagtes van Suid-Afrikaners wat nie gaande was oor die jongste Hilux se voorbuffer nie.

Die hoofligte se profiel bly dieselfde, maar agter die glas is daar nou ’n LED-strokie wat bedags skyn. Die misligte se huls is ook herontwerp sodat dit iewers tussen ’n RAV4 en ’n Land Cruiser se stilering inpas.

Binnelangs is alles pikgitswart: die plafon, leerbekleedsel, vloermatjies, instrumentepaneel, alles.

Die raakskerm spog met satellietnavigasie en die inligtingskerm tussen die toereteller en spoedmeter wys ’n animasie van ’n Dakar-bakkie wat deur ’n plas water jaag – oulik.

Oral buite- én binnelangs pronk amptelike Dakar-kentekens. Die gebruik daarvan is ’n vergunning deur die Dakar-organiseerders, ter erkenning van Toyota se bydrae tot die sport. Toyota moet egter tantième betaal.

Hoe ry hy?

Meganies gesproke is hier niks nuuts nie. Alle Dakar-modelle behou die 4.0 V6-petrol- en 2.8 GD-6-dieselenjin, albei met ’n sesspoed-handratkas. Onder die nuwe bakverf en plakkers is die Hilux Dakar identies aan ’n Hilux Raider wat jy einde verlede jaar kon koop.

Slotsom

Toyota sê slegs 6 000 Dakar-weergawes gaan te koop wees, en 5 000 hiervan sal dubbelkajuit- en die res Xtra Cab-modelle wees.

Die meeste modelle sal ook ’n handratkas kry, glo omdat dit beter pas by die gees van die Dakar-tydren. Dit klink na gesonde logika, maar ’n siniese ou gaan wonder of dit nie maar ’n manier is om van die ooraanbod handratkaste in Toyota se pakhuis onslae te raak omdat die mense deesdae outomaties verkies nie.

Hoe ook al, die nuwe neus lyk bakgat en Toyota het weer eens bewys dat hy die werk verstaan as dit kom by die bou van bakkies.

/
/
SPESIFIKASIES

Model 2.8 GD-6 4x4 Dakar MT

Enjin 2 755 cc, viersilinder-turbodiesel

Krag 130 kW @ 3 400 r.p.m.

Wringkrag 420 Nm @ 1 400 r.p.m.

Ratkas 6 spoed-handrat

Waarborg 3 jaar/100 000 km

Diensplan 5 jaar/90 000 km

Pryse

XC 2.8GD6 Dakar (handrat) R470 300;

XC 2.8GD6 Dakar (outomaties) R488 300;

XC 2.8GD6 4x4 Dakar (handrat) R535 600;

XC 2.8GD6 4x4 Dakar (outomaties) R553 800;

DC 2.8GD6 Dakar (handrat) R535 000;

DC 2.8GD6 Dakar (outomaties) R553 400;

DC 2.8GD6 4x4 Dakar (handrat) R601 100;

DC 2.8GD6 4x4 Dakar (outomaties) R621 000;

DC 4.0 V6 4x4 Dakar (outomaties) R662 700.