Suzuki se staatmaker-enjin was lank die bombestande M16A, ’n 1,6 l sonder ’n aanjaer wat vir meer as ’n dekade regdeur die hele reeks diens gedoen het.

Die enjin word nou vervang, en dis ’n goeie tyd om die K14C bekend te stel. Die wêreld verwag nou meer van die binnebrandenjin – mense soek kleiner, turbo-aangejaagde enjins wat net soveel krag en wringkrag bied, maar ’n kleiner koolstofvoetspoor agterlaat.

Dis veral in bakkiekringe waar daar nog vasgeskop word teen kleiner enjins. Hier hoor jy nog gereeld dat net melk in 2 l kom, maar die kopers van klein motors is meer toeganklik jeens turbo’s.

Die Vitara is ’n klein sportnuts-voertuig wat veral baat vind by ’n turbo-enjin. Die motor was nog nooit in die binnekring van gewilde sportnutsvoertuie nie, maar sy ontwerp is vroeër vanjaar opgekikker en die nuwe enjin stel hom in staat om mee te ding met gunstelinge soos die Hyundai Tucson en die Volkswagen Tiguan.

Die Suzuki is ’n onopgesmukte motor. Geen pretensie nie, maar hope beheer. Hy is goed gebou en die fokus is op praktiese dinge pleks van modegiere. Binne-in is daar ’n 7”-raakskerm wat met Android Auto en Apple CarPlay werk, en dele van die raakoppervlak is nou van sagter materiale gemaak.

Ons het die 1.4 Turbo GLX bestuur. Hy het woema teen lae toere, en die kombinasie van klein ratverhoudings en die sesspoedhandratkas maak dit ’n prettige motor om te bestuur.

Ondank die feit dat jy maklik stadige verkeer kan verbysteek, het die Vitara net 6,5 l/100 km op ons roete in Gauteng gebruik. Dit het grondpaaie onderweg na ons bestemming, die Red Star-renbaan in die ooste van Johannesburg, ingesluit. Ongelukkig is dié enjin nog nie in die 4x4 Vitara “All-Grip” beskikbaar nie, maar dis seker net ’n kwessie van tyd...

By die baan het ons agter die stuur van die Swift Sport ingespring.

Dieselfde K14C-enjin as in die Vitara is in dié klein luikrug ingebou, maar sy wringkrag is 10 Nm meer en die toere klim met ’n ekstra 500 r.p.m. Die nuwe Swift Sport is 90 kg ligter as sy voorganger, en weeg 970 kg in sy geheel. Dit was juis die renjaer Colin Chapman wat gesê het: “hoe ligter, hoe vinniger”.

Daarby is die asafstand langer en die motor breër en laer. Dis alles eienskappe van ’n motor waarmee jy op ’n renbaan baie pret kan hê. G’n wonder ons het ná die tyd so groot geglimlag nie – daar is baie terugvoer deur die stuurwiel en die onderstel speel mooi saam.

Een van my vorige motors was ’n Swift Sport, en ek kan verklaar dat die ekstra 70 Nm wringkrag en die verbeterde inratversnelling die wêreld se verskil maak. Die nuwe Sport gesels nou saam met die Volkswagen Polo GTI en die Renault Clio RS. Kies die regte bergpas en daai sportmotor op jou hakke gaan sukkel om by te bly!

Wiele
Die syfers