Peter het destyds in Februarie 2011 se WegSleep # 30 aan ons lesers vertel hoe geesdriftig hy oor woonwaens is en daarom dan en wan ou woonwaens gekoop en verkoop.

Hierdie Eccles-woonwa het hy vir spotgoedkoop in Claremont, Pretoria raakgeloop en toe gekoop.

Die woonwa is as pakplek gebruik en bo-op die dak het houtbalke gelê.

Eers nadat hy hom gekoop het, het Peter besef watter besonderse, klassieke wa dit is. Die wa was oorspronklik wit, maar hy het hom twee verskillende skakerings van bruin gespuitverf.

Lees die sin mooi. Klink asof Peter wit was.

Peter het ook die onderstel versien, en binnelangs die gordyne en matrassies vervang.

Binne is ook ’n wasbak, maar baie besonders was die gaslampie bo elke bed, nog met die oorspronklike lampskerms.

Volgens Peter se skattings dateer dié woonwa hier iewers uit die jare vyftig, maar omdat dit nie meer geregistreer is nie, kon dit nie met sekerheid vasgestel word nie.

  • Die Eccles-handelsnaam is reeds 99 jaar met ons en dit val nou onder die Swift-groep. Die Eccles vier volgende jaar sy 100e bestaansjaar!


Hierdie artikel het oorspronklik in WegSleep # 30 (Februarie 2011) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.