Met die bekendstelling van elke X-model foeter BMW alewig grondpad langs iewers heen met ’n groep motorskrywers in konvooi. Dít om te bewys dat ’n BMW ook “off-road” kan ry. En elke keer sing die resensies dieselfde deuntjie: “Ja, hy kán so ’n bietjie grondpad ry, maar hy hoort eerder op teer.”

Met die jongste X5 se bekendstelling het BMW ons met die Montagupas óp en met die Prins Alfredpas áf gestuur – albei grondbergpasse in die Tuinroete – sodat ons die nuwe X5 se grondpadvermoë kan toets.

En dit is verblydend om te kan rapporteer dat ons uiteindelik van ’n BMW-bekendstelling kan terugkeer met die nuus dat dié X5 ewe lekker op ’n grondpad as op ’n teerpad ry. Selfs lekkerder.

’n X5-bostrok?

Hokaai! Hoewel die nuwe X5 heerlik grondpad ry, sal ons nie so ver gaan as om te beweer hy kan met Land Cruisers en Patrols meeding nie. Selfs BMW sal dit nie waag om só ’n uitlating te maak nie.

Ons toetsvoertuig was toegerus met ’n opsionele veldrypakket wat veldryritmodusse, lugvering en ’n elektroniesbeheerde agterewenaarslot insluit. Maar selfs al kies jy die basismodel-X5, kry jy dinamiese demperbeheer (DDC) wat bakwieg en vibrasies beveg wat deur sinkplaatpaaie veroorsaak word.

Die lugvering word beheer deur ’n kompressor en ’n lugreservoir wat al vier hoeke van die X5 afsonderlik kan oplig en laat sak. Die lugvering meet ook die gewig van die X5 (met sy passasiers en hulle bagasie) om te bepaal hoeveel ekstra remkrag en stabiliteitsbeheer die blikbrein moet toepas met die spesifieke vrag. Óók ingesluit by die veldrypakket is skermplate voor- en agterlangs wat nie bloot mooi lyk nie, maar darem ’n bietjie beskerming vir die bakwerk bied.

Elke standaard-X5 kry 18”-bande wat aansienlik gemakliker op grondpaaie ry as laeprofielbande, maar ons toetsvoertuig was toegerus met 20”-General Grabber AT3-veldrybande.

GRONDSLAGFASE. Die X5 se binneruim lyk nie na iets wat jy wil vuilsmeer nie; veral die glasafwerking op die rathefboom is mooi. Die 20”-veldrybande is ongewoon, maar nietemin deftig. En is dit ons ver­beelding of raak BMW se sierrooster met elke geslag groter en groter?

Die aggressiewe loopvlakpatroon klou uitstekend aan ’n grondpad, maar hoe maak hulle met modder? Om dié bande en ál die bogenoemde veldrykatoeters op die proef te stel het ons ’n steengroef op die Prins Alfredpas binnegery om in ’n moddergat op die bodem van die steengroef te speel – sonder BMW se medewete. Ons was skaars enkeldiep in die modder toe die vastrapbeheer begin sidder, die elektroniese ewenaarslot begin bibber en die lugvering begin sug.

Nou ja, dalk werk die 4x4-affêrinkies nie so goed as waarop ons gehoop het nie. Nietemin kon ons die X5 uit die modder loswikkel (een van sy wiele was gelukkig nog op harde grond, en hý kon ons uittrek). Daarna is ons in gietende reën bergaf Knysna toe, doer onder langs die see. Die X5 het glad nie gesukkel met die smerige grondpad nie. Selfs die slaggate wat deur derduisende toeriste vóór ons agtergelaat is, kon die X5 nie van stryk bring nie.

Ja, ons ís beïndruk met sy grondpadvermoë. Nee, ons stel nie voor jy probeer die Skedelkus met ’n X5 tem nie, maar niks keer jou om die Sanipas in die winter uit te ry of selfs die wildebeesmigrasie op die Liuwavlakte in Zambië in jou X5 te gaan kyk nie.

Wat brul so?

Die nuwe X5 het slegs een enjinkeuse: ’n 2 993 cc- reguitgeplaaste sessilinderdiesel, maar hy word in twee modelle aangebied: ’n xDrive30d met twee turboaanjaers en die allemintige M50d met vier turbo’s.

In laasgenoemde begin twee laedrukaanjaers reeds vroeg sing en hulle lewer 450 Nm teen ’n lae 1 000 r.p.m. Nee, dis nie so sterk soos die Nissan Patrol 5.6 V8 se 560 Nm of die Land Cruiser 4.5 V8 se 650 Nm nie, maar wag... Sodra die M50d se 3 l-sessilinder op spoed is, stoot die derde en vierde aanjaers die wringkrag op tot ’n verstommende 760 Nm en behou daai wringkragsyfer van 2 000 r.p.m. tot by 3 000 r.p.m. As jy kans sien om jou Destination Dream-woonwa (1 950 kg) teen 250 km/h te sleep is die M50d dus ’n nommerpas spoedwa vir jou. (Moet dit asseblief net nooit doen nie.)

Die M50d versnel binne 5,2 s van 0-100 km/h. Dít maak hom vinniger as ’n Mercedes-Benz G-klas 65 AMG 6.0 V12.

Slotsom

Die vierde geslag X5 vaar beter op grondpad as enige van sy voorgangers. Hy vaar nie net beter nie, maar deksels goed. En as jy die opsionele veldrypakket neem, gaan jy amper by ’n Toyota Fortuner kan byhou – amper, maar nog nie stamper nie.

Die 20”-General Grabber AT3-veldrybande is teen R62 468 (BTW uitgesluit) peperduur, maar jy kry darem spesiale wielvellings saam met hulle en jy mag jou standaardwiele hou as jy die veldrybande wil spaar vir naweekpret of vakansies na eksotiese Afrikabestemmings.

En dis vir ons lekker om vir ’n slag te kan sê: Die BMW X5 kán so ’n bietjie teerpad ry, maar hy hoort eerder op grond.

SPESIFIKASIES

Model: BMW X5 M50d

Enjin: Reguitsessilinder-vierdubbele turbodiesel

Wringkrag: 760 Nm @ 2 000 r.p.m.

Krag: 294 kW @ 4 400 r.p.m.

Ratkas: 8 spoed-outomaties

Versnelling: 5,2 s (0-100 km/h)

Topsnelheid: 250 km/h

Brandstofverbruik: 7,2 l/100 km

Tarragewig: 2 350 kg

Nader- en vertrekhoek: 25,2° en 22,3°

Oorbrughoek: 20,2°

Waaddiepte: 500 mm (teen 7 km/h)

Grondvryhoogte: 214 mm

Veiligheidsgradering: (EuroNCAP, 2018) Prys R1 493 600*

* Sonder veldrypakket, veldrybande en ander opsionele ekstras.