In 1985 besluit ek my 1983 Toyota Land Cruiser 60 Series-stasiewa se 4,2 l-sessilinderenjin is nie opgewasse vir die taak om my 1984 Gazelle van 1 850 kg te sleep nie.

Die 2F-enjin het ’n vergasser gebruik, en toe hy nuut was, kon hy slegs 100 kW en 270 Nm wringkrag opwek. Daar was net nie genoeg wringkrag nie en die vierspoed-handratkas het veel te wense oorgelaat.

In alledaagse gebruik was dit nie noodwendig ’n probleem nie, maar wanneer jy haastig afrat na 2de, skiet die toere op tot in die rooi. Soms moes ek wag tot ek feitlik stilstaan in 3de voor ek 2de kon inhaak.

Ek het ’n 5,7 l-Fairmont GT V8-enjin in die hande gekry wat ’n indrukwekkende 224 kW en 515 Nm kon opwek.

Om vir ’n man sy brandstofverbruik te vra is dieselfde as om te vra hoe groot die vis was wat weggekom het.

Saam met die enjin het ek my Toyota-ratkas na ’n werkswinkel in Pretoria geneem wat ’n pasplaat tussen die enjin en ratkas gemaak het.

Dit was maklik om die enjin te monteer, want daar is hope plek. Die uitlaatspruitstuk was ’n bietjie naby die vloerpan, maar dit is reggestel.

Die wringkrag van die V8 het kleingeld gemaak van die probleem met die ratverhoudings, maar ek het nietemin besluit om ook ’n Fairey-snelrat aan te bring vir beter wringkragverspreiding.

Die snelrat pas tussen die ratkas en dryfas. Ek kan nie onthou wat die ratverhoudings daarna was nie – ek dink 4de rat het van 1:1 verander na 1:1.3 in lae posisie en 1:0,8 in snelrat. Ek het selde 3de rat gebruik, want die 4de rat in lae posisie het gewoonlik die ding gedoen.

Met 8 ratte vorentoe en 2 agteruit kon ek die regte rat kies na gelang van omstandighede. In laestrek het ek ook 8 ratte gehad en 1ste rat laestrek met snelrat in lae posisie kon ek behoorlik ploeg.

Brandstofverbruik het verbeter van 25 l/100 km tot 20 l/100 km. Om vir ’n man sy brandstofverbruik te vra is dieselfde as om te vra hoe groot die vis was wat weggekom het – die vis word elke keer groter. My voertuig se verbruiksyfer is wel die volle waarheid.

Ek was nie baie besorg oor die kraguitset van die enjin teenoor die kraginset van die ratkas nie. My Toyota kan dit vat.

Hoe lyk jóú wiele?
Stuur ’n e-pos na rysleep@weg.co.za en vertel ons van jou ry- en sleepding.