foto’s Leon Botha

BMW se X5 is ’n gawe ryding, ook vir slepers. Kyk maar na die sleephaak: Jy druk bloot ’n knoppie en die stang skiet uit, en sodra jy dan die ligtedraad in sy sok druk, sien die rekenaar die woonwa raak. Las nou daarby 620 Nm wringkrag en daar is min dinge wat jou gaan keer op pad kampterrein toe.

Ons het eers ’n padwoonwa en daarna ’n boswoonwa gehaak en kort duskant 3 000 km deur die Bosveld en Drakensbergstreek gery en toe tot digby die Mosambiekse grens.

BMW’s is natuurlik tuis op die Autobahn in Duitsland, maar hy is net so rats op Afrika se grondpaaie – en dít boonop met ’n woonwa op die stert.

’n Haker met ’n fyn hand

Soos ’n mens van ’n BMW verwag, kom die X5 met alles wat oop- en toemaak. Die kar wemel van elektroniese slimgoed, hoewel die elektriese uitswaaistang opsioneel is en jou ’n ekstra R11 500 uit die sak gaan jaag. Die knoppie daarvoor sit regs agter in die bagasieruim, en binne 12 sekondes nadat jy dit gedruk het, is die stang reg vir sleep. (Dit neem dieselfde tyd om dit terug te slaan.)

Dit is ’n Oris-stang, en soos met baie Europese voertuie pas die ligtedraad se prop links van die stang se nek. Hy kom natuurlik standaard met ’n 32 punt-sok, maar jy kry darem ’n passtuk vir die 9 punt-sok wat ons in Suid-Afrika gebruik.

Wanneer jy die woonwa se prop in die harnas druk, sien jy op die instrumentepaneel die “Trailer Mode” is nou aangeskakel. Die rekenaar wys jou ook daarop dat sommige van die hulpmodusse – soos die baanwisselwaarskuwings en blindekolsensors – beperk word, maar dat die sleepwa-swaaibeheer aktief is.

Omdat dit ’n uitswaaihaak is, is hier nie plek vir ’n sakplaat nie, en jy kan dus nie die bol se hoogte self verstel as jou wa se koppelstuk hoër of laer is nie. Die bol staan 41,5 cm bo die grond – heeltemal binne die wetlike perk van 35 cm tot 46,5 cm vir ’n wa en nommerpas vir padwaens, maar boswoonwaens is geneig om effe hoër bo die grond te staan. Dit beteken sommige boswaens en boswoonwaens gaan waarskynlik effens neus-af agter die X5 staan. (Die toetsvoertuig het lugvering gehad, en die hoogte van die stang is op die vering se middelste verstelling geneem.)

Met die lugvering kan ’n mens die X5 se bakwerk stel om hoër of laer van die pad af te staan, maar vir slepers is die keuse beperk. As jy die vering tot op sy laagste laat sak, is die bol 37 cm bo die padoppervlak, en op sy hoogste 48 cm.  Dis ’n merkwaardige speling van 11 cm, maar as jy byvoorbeeld die vering tot op sy hoogste verstel, die wa haak en wil sleep, stel die rekenaar die hoogte outomaties tot die middelste verstelling.

En terwyl die wa gehaak is, laat die rekenaar jou nie toe om die hoogte weer te verstel nie.

Korrel met die skerm

Die X5 se trukamerastelsel is gevorderd en wys byvoorbeeld die denkbeeldige baan waarheen jy terugstoot op die skerm.

Jy kan nie vra vir meer “oë” rondom jou as in die X5 nie. Die agterste lens wys verskillende hoeke soos jy nader trek om ’n woonwa te haak. Die rekenaar gooi ook al die visuele inligting bymekaar en wys selfs ’n bo-aansig van jou sleepkombinasie.

Deel hiervan is twee rooi lyne – een aan elke kant – wat oorkruis loop en die middelpunt wys waarheen jy op pad is. Jy kan dit dus soos die kruisdraadjies in ’n teleskoop gebruik en só op die wa se koppelstuk korrel. Soos jy nader aan die woonwa kom, waarsku die rekenaar dat jy moontlik teen iets gaan vasry. Die truskerm skakel dan oor na ’n hoër skoot af grond toe, asof jy terugstoot om te parkeer.

As jy nou op die skerm tik, word ’n paar keuses gewys, waaronder “Tow hitch”. As jy hierop tik, wys die skerm die bo-aansig van die stang en koppelstuk, en jy kan sien presies hoe ver en teen watter hoek jy die laaste entjie moet beweeg.

Terselfdertyd verskyn ’n wit indekslyn in die middel van die skerm wat oorleun in die rigting waarin die stuur gedraai is. Só help die X5 jou tot teenaan die koppelstuk. As jy die ligtedraad koppel, aanvaar die rekenaar nie sommer net alles is in die haak met die wa se bedrading nie. As ’n fout iewers in die stelsel bespeur word, waarsku die rekenaar jou.

In ons geval was die rekenaar bekommerd oor die nommerplaatliggie: Op die paneelbord het die boodskap “Trailer rear light / number plate light!” gewys.

Sien wat jy gebruik

Wringkraglewering maak saak wanneer jy sleep, maar jy weet ook jy gaan meer as gewoonlik uithaal en wys by die vulstasie, veral as jy sleep.

Die swaarder brandstofverbruik is vanselfsprekend, maar die merkwaardige ding is dat jy op die instrumentepaneel kan sien hoeveel Newtonmeters en kilowatts die enjin gebruik om die sleepkombinasie op ’n gegewe tyd aan die gang te hou.

Die twee meters is langs mekaar op die elektroniese skerm voor jou en jy kan presies sien hoeveel krag die kar gebruik terwyl jy sleep.

Die Newtonmeter-naald gaan tot by 600 Nm, terwyl die enjin in der waarheid tot 620 Nm  kan lewer. Tog is dit insiggewend om te sien wanneer die enjin swaarder werk as wat nodig is en jy dalk jou voet maar kan lig en steeds momentum behou.

Sleeptoets
Sleeptoets

Op ’n gelyk snelweg, teen 120 km/h in die agste rat en 1 500 r.p.m. met ’n padwoonwa van 1,1 t op die haak, gebruik die X5 sowat die helfte van sy Newtonmeter-reserwe, want dan lê die meternaald mooi in die middel.

Die kilowattnaald haal dan skaars sy kwartmerk (omtrent 50 kW). Teen dié spoed wys die rekenaar die brandstofverbruik is 10,8 l/100 km – ’n skaflike syfer vir die grootte van die sleepkombinasie en die spoed wat jy handhaaf. Dit vergelyk goed met die gemiddelde verbruik van 12,2 l/100 km wat ons oor die totale afstand van 2 900 km gekry het.

’n Derde oog op die bordjies

Met die Head-up Display kan jy nie net op die windskerm voor jou sien hoe vinnig jy ry nie; die rekenaar “lees” ook die spoedgrens op die spesifieke deel van die pad. (Hy maak dus nie staat op ’n GPS-kaart nie.)

Sodra jy verby ’n verkeersteken met die spoedgrens ry, wys die rekenaar dit voor teen die X5 se windskerm. As jy vinniger as dit ry, flits die spoedlesing in rooi om jou aandag daarop te vestig. As jy dus dalk die laaste spoedbordjie misgekyk het, kan jy op die rekenaar staatmaak om te onthou. Soms laat die blikbrein jou wel in die steek: As jy byvoorbeeld padwerk teëkom en ’n geel bord wys 60 km/h, volg die rekenaar dit slaafs.

As jy verby die padwerk is en daar is nie weer ’n bord wat wys jy mag nou weer 120 km/h ry nie, reken die rekenaar steeds die spoedgrens is 60 km/h. Maar slim is die rekenaar slim. As jy byvoorbeeld 120 km/h op ’n snelweg ry en ’n bord langs die pad wys voertuie van 3,5 t moet 80 km/h ry, ignoreer die rekenaar dit.

Met die kruisspoedbeheer aangeskakel is die X5 in sy element, selfs met ’n woonwa – bult-af én bult-op. Maar aardig genoeg werk die spoedleessensor dan nié.

Stadig nou!

Sonder ’n woonwa is die X5 se baanbeheerfunksie oorywerig – dit betrap ’n mens onkant as jy nie gewoond is daaraan nie. Die stuurwiel vibreer liggies wanneer jy oor ’n sperstreep begin ry, maar dan neem die rekenaar oor en “dwing” die X5 terug in die baan.

Jy moet die stuur behoorlik vasvat as jy steeds van baan wil verwissel. Met die wa gehaak los die X5 sy “nukke” en waarsku jou met trillings deur die stuur dat jy die baan verlaat, maar jy behou volle beheer. As jy die flikkerligte gebruik voordat jy van baan verwissel, laat die BMW jou uiteraard met rus en jy kan oorbeweeg.

Weg Ry & Sleep sê

Volgens die X5 se BKM- en BVM-syfer kan dié kar ’n vrag van tot 3,5 t sleep, maar BMW skryf ’n maksimumgewig van 2,7 t voor vir ’n geremde woonwa op paaie met ’n helling van tot 12%. (6,84°).

SPESIFIKASIES

Model: X5 xDrive30d

Enjin: 6 silinder-turbodiesel

Krag: 195 kW

Wringkrag: 620 Nm @ 2 000-2 500 r.p.m.

Ratkas: 8 spoed-outomaties

Aandrywing: Allewiel

Tenk: 80 l

Brandstofverbruik met woonwa: 12,2 l/100 km (8,2 km/l)

Reikafstand met woonwa: 656 km

Tarragewig: 2 050 kg

BVM: 2 860 kg

BKM: 6 360 kg

Sleepvermoë: 2 700 kg

Sleepstang se maksimumtrekgewig: 3 500 kg

Sleepstang se maksimum- vertikalegewig: 140 kg

Is die stang verwyderbaar? Nee

Is daar plek vir ’n sakplaat? Nee

Standaardprys: R1 186 200

PRYS SOOS GETOETS R1 522 646