foto’s Cyril Klopper
Roetes wat roep: Groot-Karoo
Roetes wat roep: Groot-Karoo

Voordat die Amerikaner Daniel Halladay die windpomp in 1854 uitgevind het, het die mens nét in die Groot-Karoo gekom wanneer hulle agter migrerende wild aan beweeg het.

Dis ’n ongenaakbare wêreld waar geen plaasdier of herder hulle sonder hulp kan vestig nie, en daarom was dit tot met die koms van die windpomp slegs wild en jagters wat hier kon oorleef.

Die Tankwa-Karoo- nasionale park lê egter in ’n matiger deel van die Groot-Karoo wat reeds 10 000 jaar gelede sy eerste permanente inwoners, die Khoisan, verwelkom het.

Die park self is in 1986 gestig en is genoem na die Tankwarivier wat hierlangs kronkel. Die park het oorspronklik 270 km2 beslaan, maar oor die jare, namate Sanparke ou Karooplase opgekoop het, gegroei tot meer as 1 460 km2.

Binne die park is daar drie 4x4-roetes wat dit moontlik maak om aansienlik meer van die natuur te sien as met ’n gewone motor.

Die Abrahamsknieë-4x4-roete skop af (S32.23867 E20.09241) naby die parkkantoor en neem jou weswaarts. As die veld droog is, bied hierdie roete geen noemenswaardige uitdagings nie en jy sal hom met ’n gewone 4x2-bakkie met ’n goeie grondvryhoogte kan baasraak.

Die omstandighede verander egter dramaties as dit onlangs gereën het.

Die padoppervlak is eers met pragtige spierwit kwartsklippies bestrooi, maar dit verander later in die Karoo se kenmerkende vaal gruis. Buiten een of twee verlate plaasdamme en skaapkrale is hier nie juis besienswaardighede op die Abrahamsknieë-4x4-roete nie.

Sanparke het die windpompe afgehaal en die veld word deesdae toegelaat om terug te keer na sy natuurlike stand – wat eens deur trekboere as “vreesaanjaend” beskryf is.

Die Abrahamsknieë-4x4-roete kry ’n 2 op ons moeilikheidsgradering omdat jy hier en daar ’n goeie grondvryhoogte nodig het, maar weinig, indien ooit, na viertrek hoef oor te skakel.

Die 8 km lange roete duur hoogstens ’n halfuur en die laaste kilometer van die roete is erg sinkplaat gery. Dan sluit jy by die park se grootpad aan en stryk 23 km weswaarts aan na die volgende uitdaging.

Die Leeuberg-4x4-roete se afdraai van die grootpad af (S32.19898 E19.79264) is na regs. Vroeg al begin jy oor klippe klouter. Om dié roete te takel het jy viertrek en laestrekratte nodig.

Jy hoef nie hoërgraad-veldrykennis te hê nie, maar as jy aan hoogtevrees ly, gaan jy die roete nie juis geniet nie.

Volg eers ’n rantjie – die Leeuberg se stert – vir 4 km totdat jy die leeu se lyf, ’n string koppies, aantref. Vir die volgende 5 km ry jou op en af teen die leeu se ruggraat.

Die tweespoorpad is hard en sonder los klippe, maar hier en daar bereik jy ’n hoogtetjie wat jou trokkie se neus hemelwaarts lig, en dan verhinder die enjinkap jou om te sien hoe die spoor voor jou weer afwaarts duik.

Voor jy by Leeuberg se kop uitkom, draai jy skerp na links en ry afwaarts tot op die Rooivlei, ook bekend as die Blinkvleivlakte. Hier word dit ’n modderbad as dit onlangs gereën het.

Gemsbok en bergsebra laat spaander sodra jy stilhou om ’n foto van hulle te neem.

Die Leeuberg-4x4-roete kry ’n lae 3 op ons moeilikheidsgradering, want hoewel jy laestrekratte moet inhaak, is die hindernisse lekker eerder as uitdagend.

Die roete is 17 km lank en duur sowat ’n uur. Nou keer jy terug na die grootpad en ry 35 km ooswaarts na die Gannagapas. Dis ’n lieflike grondpadbergpas wat met 45 grasieuse draaie teen die Roggeveldberg uitkronkel – goed, 4 van hulle is eintlik haarnaalddraaie, maar as ’n Hyundai i10 hier kan uit, gaan jy beslis nie sukkel nie.

Die Graskop-4x4-roete lê bo-op die Roggeveldberg, wat die westelike platorand in die Groot-Karoo vorm. Hier bo is die veld aansienlik groener as op die vlakte en die weer beslis koeler.

Die roete se beginpunt (S32.12137 E20.12132) is nie duidelik met ’n padteken gemerk nie, maar dis presies 1 km voor jy afdraai na die Gannaga-lodge aan die bopunt van die pas.

Die Tankwa-Karoo- nasionale park het nie baie wild nie, maar hier op die platorand sien jy troppe gemsbokke en alleenlopende steenbokkies. Die tweespoorpaadjie loop telkemale deur ’n moddergat en jy wieg herhaaldelik oor halfbegrawe klippe.

Wees versigtig, want hier is heelwat lelike klippe wat lê en wag om jou voertuig se oliepan aan skerwe te kap.

As jou vrees vir hoogtes reeds op die Leeuberg-4x4-roete kop uitgesteek het, gaan die alarms op Graskop behoorlik lui. Die tweespoorpad kom soms tot ’n meter van die afgrond af – as jy hier ’n fout begaan, gaan jy ver vryval sonder om een keer aan die krans te raak.

Wees dapper en wees ook verheug dat jou land jou toelaat om sulke waaghalsige avonture te beleef. As hierdie pad in Europa was, was hier ’n paalheining tussen jou en die afgrond met tientalle waarskuwings wat jou verbied om jou bene oor die rand van die afgrond te laat hang.

Die Graskop-4x4-roete verdien ’n hoë 3 op ons moeilikheidsgradering, want jy moet laestrekratte inhaak. Boonop sal jou voertuig beskadig as jy nie oplet waar jy ry nie en jy kan selfs sterf. Hy’s 20 km lank en gaan jou vir minstens 2 uur besig hou.

VAN BO AF. Die Graskop-4x4-roete bied ’n treffende uitsig op die Karoo se vlaktes. Hier is ook damme wat gedurende die winter deur reën gevoed word.

Tankwa-Karoo- nasionale park

Hier is 9 gerestoureerde plaashuise wat dien as die park se selfsorghuisies. Hier is ook 2 kampplekke met ablusiegeriewe (sonder elektrisiteit) wat saam staanplek bied vir 48 mense, en 6 informele kampplekke waar jy heeltemal selfversorgend moet kamp (bring jou eie toilet). Dié plekke kan elk 15 mense huisves.

Prys: Kamptarief R137-R394 p.n. vir 2 mense en daarna R65-R152 p.p. Onthou ook die bewaringstarief van R43 p.p. (R22 vir kinders).

Kontak:  012 428 9111 (sentrale besprekings); 027 341 1927 (parkkantoor);  sanparks.org

GPS: S32.24114 E20.09586 (parkkantoor)

Gannaga-lodge

Die lodge het geen kampplek nie, maar hier is 7 kamers, elk met ’n dubbelbed en private badkamer in ’n opgeknapte perdestal plus ’n plaashuis met 3 kamers wat slaapplek vir 6 bied. Hier is ’n swembad, leeskamer met ’n kaggel, kroeg en restaurant.

Hoewel die lodge binne die park geleë is, is dit in private besit.

Prys: Vanaf R600 vir alleenreisigers in die opgeknapte perdestal tot R1 800 vir die hele plaashuis.

Kontak:  079 922 1688;  gannagalodge.blogspot.comgannaga@hantam.co.za

GPS: S32.11018 E20.12189

Wat jy moet weet

Maksimum getal voertuie: Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Ja, die Karoo kou bande.

Kan ons langs die pad braai? Nee.

Kan ek halfpad omdraai? Nee.

Is daar selfoonsein? Geen tot swak sein op die platorand.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Lente.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Hoe lank duur dit? Minstens 6 uur om al 3 roetes binne een dag te ry.

Is daar ablusiegeriewe? Slegs by die parkkantoor en sekere kampplekke.

Aanwysings: Van Sutherland af ry jy 80 km noord met die R354-streekpad tot by Middelpos. Van Middelpos af ry jy 50 km suid tot by die parkkantoor. Jy kan ook weswaarts uit Sutherland koers kies en oor die Oubergpas en met plaaspaaie langs ’n korter pad ry.

Wat kos dit? Ingesluit by jou bewaringstarief.