Foto’s Cyril Klopper

Boswoonwaens met ’n seiltent werk heel gaaf as jy en jou gesin vir lang tye op een plek kamp, maar as dit net die twee van julle is en julle wil die wêreld verken, is Bush Lapa se Bosluis 2 nommerpas vir jou.

Eers die bakkiefeite

Die Bosluis 2 pas op drie enkelkajuitbakkiemodelle: Die Toyota Hilux, die Toyota Land Cruiser en die Ford Ranger. Die bakkie is nie ingesluit by die koopprys van ’n Bosluis 2 nie; jy moet jou eie een deur Toyota of Ford koop en die agentskap vra om die laaibak te verwyder en dit by jou terug te koop.

Ons het ’n paar agente hieroor genader en hulle blyk heel gewillig te wees om dit te doen. Dit is ongelukkig nie moontlik om slegs die kajuit en onderstel uit die fabriek te bestel nie – ten minste nie deur die gewone kanale nie.

Die Bosluis 2 pas op drie enkelkajuitbakkiemodelle: Die Toyota Hilux, die Toyota Land Cruiser en die Ford Ranger.

Ons toetsvoertuig was ’n Toyota Hilux 2.4 GD-6 4x4 SRX wat nuut R427 100 kos. Die Hilux se turbo-aangejaagde dubbelebonokasdieselenjin (DOHC) lewer 110 kW teen 3 400 r.p.m. en 400 Nm teen 1 600 r.p.m.

Die Hilux se dravermoë is dubbel dít wat die Bosluis 2 weeg (560 kg), en omdat jy die laaibak verwyder, is die effektiewe ekstra massa ’n raps minder as 400 kg – geen probleem vir ’n Hilux 2.4 nie.

Aan die koskant

Soos gebruiklik by boswaens is die Bosluis 2 se kombuis aan die linkerkant. Die grootste deurpaneel vou ondertoe oop en dien as ’n horisontale werkblad met ’n vlekvryestaaloppervlak.

In die romp is drie kompartemente; die linker- en regterkantste holtes het rakke en is ’n goeie pakplek vir proviand en eetgerei; terwyl die middelste kompartement geskik is vir wynbottels en glase.

Bo die kombuis is ’n LED-ligstrokie en twee 220 V-driepuntsokke. Onder die kombuis, regs van die Hilux se agterwiel, is ’n kas wat groot genoeg is vir ’n sak vol tentpenne en ’n rubberhamer.

Links van die kombuis is twee deurpanele. Agter die boonste deur is ’n ruim holte wat diep genoeg is vir kastrolle en panne. Agter die onderste deur is ’n glyraam waarop ’n kas met twee laaie en ’n tweeplaatgasstoof gemonteer is asook ’n ys-vrieskas (opsionele ekstra).

Jy kan jou eie ys-vrieskas gebruik óf ’n 90 l-National Luna (R12 500) of 81,5 l-SnoMaster (R10 526) deur Bush Lapa aanskaf. Onderlangs, links van die agterwiel, is ’n gereedskapkas wat kan sluit – trouens, ál die deurpanele in die Bosluit 2 het slotte wat met dieselfde sleutel sluit.

Heel bo aan die kombuiskant is ’n lang sak met ’n BushWing-uitvoukap. 

Slim afdakkie

Die Bush-Wing-uitvoukap is merkwaardig. Dit swaai van die Bosluis 2 se linkersy af in ’n 270°-boog tot oor die deur aan die agterkant van die Bosluis.

Die kap se arms is stewig genoeg om die seil sonder ondersteuning omhoog te hou, maar as jy bang is ’n wind gaan die kap beskadig, kan jy sparre tussen die arms span, pale onder die arms plant en ankertoue met penne in die grond kap om die kap rigied te maak.

Die sparre, pale, ankertoue en penne word verskaf. Dis verspotmaklik om die kap te ontplooi, maar kort mense gaan ’n trapleer nodig kry om die arms by te kom.

Dit is wel moeiliker om die kap terug in sy sak te kry. Dán moet jy die seil styf óm die arms draai, anders pas dit nie in die sak nie. Die sak se ritssluiter is dikwels ook stram weens myle se stof.

/

Daar’s water...

Aan die regterflank voor, agter die boonste deurtjie, is ’n gasstort wat 6 l warm water per minuut lewer. Daar is genoeg plek langs die gasstort in die kompartement om ’n opgevoude storttent te bêre.

Onder die boonste kas is ’n luikdeur wat ondertoe oopvou. Hier is ’n diep holte waarin ’n 95 l-watertenk van vlekvrye staal met sy eie outomatiese waterpomp vasgebout is.

Die tenk voorsien water aan die stort én waterkrane aan die agterkant van die Bosluis 2. Regs van dié kaste is ’n elektriese sok sodat jy die Bosluis aan ’n kampterrein se kragtoevoer kan koppel. Onder die sok is ’n vulgat vir die watertenk.

Heel onder, aan weerskante van die agterwiel, is twee gereedskapkaste waarin jy kamptoerusting kan toesluit. Die heel grootste deurpaneel val ondertoe oop, en uit die romp kom dan ’n tent te voorskyn. Agter dié deurpaneel is jou slaapplek.

Praat uit die slaapkamer

Wanneer jy die slaaptent uitvou en die dak boontoe wip, is daar oorgenoeg beweegruimte binne die Bosluis 2 – veral om aan en uit te trek.

Die dubbelbed (matrasse word verskaf) is aan jou regterkant en jy slaap met jou bolyf in die bedtent en met jou voete in die Bosluis 2 se romp.

Aan die regterkant is drie holtes, elk met rakkies en seildeurtjies wat met klitsritsstroke toemaak. Hierdie holtes is ruim genoeg vir jou klere én skoene. Aan die voorkant, die naaste aan die bakkie se kajuit, is ’n laai vir private items.

Let wel dat die laai nie kan sluit nie en ook nie ’n knip het wat hom toehou nie. Die laai gly derhalwe maklik in die ry oop en stort sy inhoud op die vloer uit. Bó die laai is ’n oppervlak vir ’n skootrekenaar en dies meer, en bo en agter dít is ekstra bêreplek vir linne asook kamp- en kameratoerusting.

Aan die agterkant, langs die ingangsdeur, is nóg ’n holte met ’n seildeurtjie vir handdoeke en toiletware. Die dubbelbatterymonitorstelsel se beheerpaneel is ook hier.

Afgesien van die stelsel se skakelaars en ladingaanduider is daar ’n twee- en driepuntsoek (220 V) plus ’n 12 V-Hella- en USB-sok. Die 12 V-toevoer kom uit die dubbelbatterystelsel wat deur die bakkie se enjin of ’n opsionele 140 W-sonkragpaneel (R7 885) gelaai word, terwyl die 220 V-toevoer deur die kampterrein voorsien word. 

Stert in die lug

Die Bosluis 2 se ingangsdeur is aan die agterkant, en jy moet la-a-ang bene hê om daar uit te kom. Gelukkig verskaf Bush Lapa ’n gratis Addis-trappie, maar as jy skeef trap of meer as 100 kg weeg, gaan die plastiektrappie nie lank hou nie.

Nes al die buitenste luike en deure het die ingangsdeur ’n rubberseël om stof uit te hou. Hoewel die seël duursaam lyk, wonder ’n mens of hy gaan hou as jy gereeld daarop trap.

Links van die deur is ’n warm en koue kraan en ’n koppelstuk om ’n steunraam vir wasbakke te haak. Regs van die deur is ’n gasbottel en ’n tweede noodwiel (die ander een is onder die bakkie).

Jy moet die gasbottel uit sy draagklamp verwyder en aan die Bosluits 2 se gaspypnetwerk koppel as jy die gasstoof of geiser wil gebruik om water warm te maak.

Die tegniese goed

Lengte 5 330 mm

Breedte 1 855 mm

Hoogte 1 835 mm*

Binnehoogte 2 200 mm

Gewig 560 kg (sonder bakkie)

Brandstoftenk 80 l

Prys R234 000

* Afhangend van die voertuig- model en bande

PLUS

  • Slim en praktiese ontwerp.
  • Daar is oorgenoeg pakplek.
  • Ruim genoeg om regop te staan binne.
  • Die skarniere en sweiswerk is van uitstaande gehalte.
  • Alles vou vinnig uit en toe.

MINUS

  • ’n Mens trap maklik op die rubberseël in die deur.
  • Die kombuislig skyn direk in jou oë en nié op die werkoppervlak nie.
  • Die deur het nie ’n knip om hom oop te hou nie.
  • Die plastiektrappie is maar effentjies vir groter mense.
  • Die yskas kan nie van binne af bereik word nie.

Weg Ry & Sleep Die Bosluis 2 is bobaas vir ekspedisies, maar dis nie die beste ryding vir pendel nie. En as jy vir ’n week op een plek kamp, moet jy alles opvou en inpak elke keer as jy ’n draai wil gaan ry. Weg Ry & Sleep het die Bosluis 2 by die vervaardiger geleen.

Bush Lapa het agente in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Kontak 021 224 0919; bushlapa.com; martin@bushlapa.com