Die Dakar-tydren is van 2009 tot 2011 oorheers deur die Volkswagen Touareg. Giniel de Villiers, Carlos Sainz en Nasser Al-Attiyah het elkeen ’n oorwinning behaal nadat hulle duisende kilometers deur die Suid-Amerikaanse woestyne geploeg het in ’n Touareg.

Goed, dáái Touareg en die een in Woolies se parkeerterrein het feitlik niks in gemeen nie, maar die verbinding is nietemin daar.

Ons het onlangs ’n bekendstelling van die nuwe Touareg bygewoon en reeds ons eerste indrukke met jou gedeel (Weg Ry & Sleep #14), maar nadat Volkswagen ’n toetsmodel by ons kantoor afgelewer het, kon ons sy sake behoorlik werk.

Die sandmonster

Dit is ’n heerlike sonskynoggend in die Atlantisduine buite Kaapstad. Die sand is natgedou en ons voorsien nie dat die Touareg sal sukkel nie. Ons verlaag nietemin die lugdruk in die 19”-bande tot 1,2 bar.

Ons durf nie laer gaan nie want die plan is om aksiefoto’s te neem van die Touareg wat esse kap en sand opskop. ’n Mens kan egter dadelik agterkom die Touareg en sand is nie maats nie. Alles verloop goed mits jy reguit vorentoe beweeg, maar sodra jy skerp draai, sny die blikbrein aan die enjinkrag en rem die tollende wiele.

GERAAMTE. Die aandrywing­stelsel is beter vir padhouvermoë as vir veldry.

Dan verloor die Touareg momentum en jy voel duidelik hoe die 2 t-voertuig in die sand wegsak. Nes daai skoolmaat met aspirasies om in die leerlingraad te dien wil die Touareg nie stoute dinge aanvang nie. Mooipraat help niks en jy moet hom om die bos lei voor hy koejawels uit die koshuisvader se boom sal steel.

Met die Touareg is dit dieselfde: Jy moet voet in die hoek sit en onverwags aan die stuurwiel pluk om vir ’n sekonde of twee sand op te skop voordat die vastrapbeheer ’n stokkie voor jou varkplanne steek. Halfpad deur ’n draai teen die binnewand van ’n lae duin besluit die vastrapbeheer juis om die viertrekstelsel van krag te ontneem.

As so iets teen ’n hoë duin gebeur, kan ’n voertuig maklik rol en op sy dak beland, maar gelukkig gaan lê die Touareg bloot plat op sy pens in die sand. Omdat jy nie die vastrapbeheer kan afskakel nie – en ook nie die ewenaars kan sluit nie – draai die wiele wat in die lug hang, nutteloos in die rondte terwyl die wiele wat moet grawe, weier om te roer.

’n Barmhartige Samaritaan in ’n Toyota Hilux bied aan om ons uit te sleep. Die Touareg is beslis nié ’n duinebesie nie.

Grondhervormer

Aangesien die vastrapbeheer so paraat is op sand, besluit ons om volgende ’n grondpad te takel. Hier stryk die vering kleinerige gate en klippe plat en die vastrapbeheer help beslis as jy per ongeluk te vinnig om ’n draai ry of as jy moet uitswaai vir ’n seldsame suurpootjie.

As jy egter soos ’n aap ry, kan jy wel voel hoe die vastrapbeheer sy perke bereik. Anders as in die duine wil dit hier lyk of jy die Touareg tóg kan ontspoor.

Die basismodel-Touareg is geskoei in 18”-bande (ons toetsvoertuig het 19”-bielies gehad), maar ons verlang tóg na die vorige 17”-wiele – hulle het dalk nie spoggerig gelyk nie, maar die rit was uiters gemaklik. Die nuwe Touareg is ook beskikbaar met 21”-bande, maar dan is jy beperk tot teerpad.

Die Touareg presteer dus goed op grondpad, mits jy jou daarvan weerhou om uiting te gee aan jou innerlike Sarel van der Merwe. Hy’s geensins gevaarlik nie (hy’s beslis vasvoetiger as ’n bakkie), maar ’n Subaru Outback sal beter vaar.

Harder is beter

Die Touareg sing op sy mooiste op ’n teerpad. Hier is die kajuit tjoepstil. Jy kan die bande glad nie hoor suis nie en die V6-dieselenjin brom tevrede as jy die versnellerpedaal intrap.

KLASSIEKE KAJUIT. Daar is min fieterjasies om jou aandag af te lei, alles is op sy plek. As jy die opsionele lugvering bykoop, kry jy ook ’n rithoogteknoppie langs die ritmodusknoppie. Die aansitterknop voel reg langs die rathefboom, maar die plasing van die gevaarlig­skakelaar langs dit voel vreemd.

Die geskal van ’n straatmusikant se bliktrompet by ’n verkeerslig kan ook nie deurdring en die Touareg se manjifieke klankstelsel steur nie. ’n Dolby 7.1-versterker (730 W) bring die klank na 12 luidsprekers, en die klank is só helder dat dit Rachmaninoff se tone sal omkrul van lekkerkry.

Die kar is mooi binnelangs, en ná slegs ’n paar minute agter die stuur spoel daar ’n gevoel van welbehae oor jou wat jy nie in ’n goedkoper ryding kry nie. En omdat die bakwerk 77 mm langer en 44 mm breër is, kon Volkswagen die bagasieruim met 113 l vergroot tot 810 l sodat jy nou ’n ekstra tas kan inlaai vir ’n somervakansie by die see.

Slotsom

Die nuwe Volkswagen Touareg is minder bekwaam in die bos as sy voorgangers, maar hy’s vaardig op ’n grondpad en voor in die koor op teer.

SPESIFIKASIES

Enjin 2 967 cc, V6-turbodiesel

Krag 190 kW @ 4 500 r.p.m.

Wringkrag 600 Nm @ 2 510 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties (DSG, Tiptronic)

Topspoed 218 km/h

Brandstofverbruik 7 l /100 km

Tenk 90 l

Grondvryhoogte 215 mm

Nader- en vertrekhoek 25°

Waaddiepte 490 mm

Bagasieruim 810 l

Tarragewig 2 040 kg

Maksimumsleepgewig 3 500 kg

Diensplan 5 jaar/100 000 km

Waarborg 3 jaar/120 000 km

Model getoets 3.0 TDI Luxury

PRYS R999 800