Daar was ’n tyd toe die Volkswagen Touareg hom geroem het op sy veldryvermoë, en ’n opgewarmde weergawe het tussen 2009 en 2011 drie agtereenvolgende Dakar-titels verower. Maar in die parkeergarage by die voorstedelike winkelsentrum, tussen al die blink BMW X5’s, Audi Q7’s en Mercedes-Benz GLE’s, was die goedkoper en valer Touareg die lelike eendjie tussen al die duur sportnutsvoertuie.

Dinge het vanjaar dramaties verander. Die derde geslag Touareg het van sy veldryvermoëns prysgegee om te fokus op dinge soos ritgehalte, gemak en luukse toerusting. Nie net is dit nou die mees gevorderde (en duurste!) Volkswagen nóg nie, maar hy hoef nie meer een duim terug te staan vir die ander luukse sportnutsvoertuie nie.

Buitelangs

Die nuwe Touareg lyk aansienlik aggressiewer as sy voorganger, amper soos ’n spiertier in sy netjiese dog noupassende kraaghemp. Hy’s effens langer en breër, maar ook platter – wat hom help om vinnig te lyk al staan hy stil. Dis veral die vooraansig wat baie anders lyk. ’n Groot chroomrooster, saam met ’n verskeidenheid LED-ligte, gaan jou twee keer in jou truspeëltjie laat kyk as die Touareg in die vinnige baan verbysnel.

Agterlangs dra die heeltemal herontwerpte LED- ligte ook by tot die motor se moderner voorkoms.

Die wielegrootte begin nou by 18” pleks van 17”, en as jy nou glad nie omgee om jou stopsels op ons Suid-Afrikaanse paaie uit te skud nie, kan jy selfs 20”-bande in daai breë wielboë inprop. Ons sou nie.

Die Touareg ry op sy lekkerste en lyk op sy mooiste op die standaard 19”-wiele. Die meer dinamiese ontwerp, hipermoderne ligte en groter wiele span wel almal saam om van die Touareg ’n aantreklike motor te maak – waarskynlik een van die mooiste sportnutse wat tans op ons paaie ry.

Binnelangs

Dis hier waar die nuwe Touareg werklik sy plek tussen die ander laventelhane losskrop. Die binneruim is heeltemal herontwerp en gemoderniseer. Die volledig digitale “Innovision cockpit” (jy gaan R75 000 ekstra hiervoor moet hoes) bied aan jou ’n 15”-raakskerm wat naatloos aansluit by die “Digital cockpit” (12” groot) agter die stuurwiel.

Die voel ’n bietjie asof jy op Times Square omring word deur reusetelevisieskerms as jy die motor die heel eerste keer aanskakel.

Van hier af beheer jy ’n magdom vermaak-, navigasie- en inligtingstelsels. Dit lyk aanvanklik intimiderend, maar jy raak dit gou gewoond. As jy regtig sukkel, kan jy die naaste verveelde tiener nader sleep om vir jou dinge te help uitpluis.

As jy egter ’n iPhone kan baasraak, behoort jy nie hiermee te sukkel nie. Daar is twee afwerkingsvlakke, die Luxury (R1 miljoen) en selfs nóg luukser Executive (R1,1 miljoen) wat met groter bande en sportiewer afwerkings spog. In albei gevalle is die die toerusting, raakvlakke en materiale van hoogstaande gehalte.

Onder die enjinkap

Die 3,0 l-V6-TDI-enjin is ’n juweel, met 190 kW en ’n massiewe 600 Nm wringkrag. Dis gekoppel aan ’n agtspoed- outomatiese ratkas wat die dinkwerk vir jou doen. Die toevoeging van “trailer assist” beteken enigiemand wat sukkel om agteruit te stoot met ’n woonwa aan die haak, kan nou maar nader staan en met selfvertroue die kar in trurat sit: Druk die regte knoppie, sit terug en kyk hoe die Touareg sensors en kameras gebruik om die wa self agteruit te ry en te parkeer.

Die Touareg kan ’n maksimum van 3,5 t (gerem) sleep danksy al daai wringkrag en sy vierwielaandrywing. Met die druk van ’n knoppie kan jy die sleepstang onder die agterbuffer wegbêre.

Die dinamieser ontwerp, hipermoderne ligte en groter wiele span wel almal saam om van die Touareg ’n aantreklike motor te maak.

Hoe ry hy?

Soos ’n droom. Hy is dalk nie meer ’n klipspringer nie, maar die 4x4-stelsel, gekoppel aan ’n bees van ’n enjin, ’n goeie outomatiese ratkas en ordentlike vering sorg vir ’n luukse motor wat die kilometers moeiteloos kafdraf.

Indien jy minder as 37 km/h ry, stuur jy nie net met jou voorwiele nie, maar ook met die agterwiele wat effens in die teenoorgestelde rigting mik as wat jy die stuurwiel draai. Dit maak parkering in so ’n groot motor natuurlik aansienlik makliker.

As jy vinniger as 120 km/h ry, sak die lugveringstelsel outomaties 15 mm om jou beter aan die pad te laat klou. Jy kan die grondvryhoogte ook met 25 mm verhoog vir die grondpad.

Slotsom

Die Touareg was nog altyd ’n weeldewa, maar met dié nuweling verskuif Volkswagen die doelpale. Nee, hy probeer nie ’n Kalahari-Ferrari of Masai Mara-Maserati wees nie, maar iets vir diegene wat ’n groot sportnutsvoertuig vir alledaagse gebruik nodig het.

Hoewel die Touareg effens goedkoper is as sy mededingers, voel dit asof jy in ’n veel duurder motor ry. En dit is hoekom Volkswagen dink hy kan kopers wat op soek is na iets groters, weglok uit hulle Tiguan.

Én diegene wegrokkel wat ’n X5, Q7 of GLE sou oorweeg.

Spesifikasies

Model Touareg TDI V6 Executive

Enjin 2 967 cc, V6-turbodiesel

Krag 190 kW @ 3 250 r.p.m.

Wringkrag 600 Nm @ 2 250 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties

Topspoed 218 km/h

Brandstofverbruik 8,8 l/100 km

Tenk 100 l

Waaddiepte 500 mm

Grondvryhoogte 220 mm

Waarborg 3 jaar/120 000 km

Diensplan 5 jaar/90 000 km