Volvo laat nie met hom speel nie: Dié maatskappy het reeds talle motortoekennings in verskeie markte ontvang, én sy stigma van vervelige dog veilige motors afgeskud.

Deesdae is Volvo sensasioneel sonder om die veiligheidsbal te laat val. So is dit ook met die nuwe XC40.

Nadat hy as Europese Motor van die Jaar aangewys is, het hy in Suid-Afrika aangeland. Ons het die XC40 rondom Midrand in Gauteng bestuur, en hoewel ons nie genoeg tyd gegun is om ’n deeglike toets te doen nie, kon ons nietemin ’n redelike indruk vorm.

Hoe lyk hy?

Buitelangs herinner die XC40 se stomp lyfie aan ’n bulhond, maar anders as met daardie ras, het hy die bene van ’n terriër.

Die bakwerk staan hoog van die grond af en daar is plastiekpanele op die onderste kwart wat die bakverf beskerm teen gruis en klippies wat opskiet.

Die binneruim is spartaans dog stylvol – iets wat net die Swede kan regkry. Die afwerkings lyk nie opgesmuk nie, maar dis wel die astrantste binneruim wat ons nóg in ’n Volvo gesien het – veral as jy die R-Design-pakket kies.

Binnelangs sien jy indrukwekkende tegnologieë soos ’n koordlose selfoonlaaier, Volvo se imposante 9”-raakskerm, digitale instrumentepaneel en die uitstekende Harman Kardon-klankstelsel met 9 luidsprekers.

Die binneruim is spartaans dog stylvol – iets wat net die Swede kan regkry.

Die agterste passasiers geniet uitstekende kop- en beenruimte, en heel agter is ’n aanpasbare bagasiebakvloer wat jy kan verstel om jou Woolworths-inkopies van jou Garden World-plantjies te skei.

Daar is ook hake waaraan jy inkopiesakke kan hang sodat die inhoud daarvan nie op die vloer uitval en rondrol nie, en daar’s natuurlik ook ’n deurtjie in die agtersitplekke vir ski’s – iets wat Suid-Afrikaners sal laat kopkrap.

Veiligheid eerste

Volvo’s is sinoniem met veiligheid – dit is immers die maatskappy wat die sitplekgordel ontwerp het (in 1959, deur die Volvo-ingenieur Nils Bohlin, indien jy gewonder het).

Navorsing in Brittanje het bevind die XC90 het die afgelope 16 jaar nog nie tot ’n enkele sterfte gelei nie. Ja, jy’t reg gelees: Sedert 2002 toe die eerste XC90 daar verkoop is, is nog nie ’n enkele Brit in ’n XC90 dood nie.

Die XC40 spog met omtrent ál die veiligheidseienskappe van die XC90 – ’n paar is wel opsioneel, maar jy kan hulle laat aanbring.

Standaard is sensors en kameras wat die pad voor jou dophou en outomaties rem trap – dit word City Safety genoem. Die einste City Safety-sensors kan ook voetgangers, fietsryers en diere herken, selfs snags, én dan voorspel of hulle voor jou gaan inspring en jou daarteen waarsku (dis ook standaard).

As die sensors in die agterbuffer voorspel dat ’n voertuig in jou gaan vasjaag, sal die sitplekgordels by voorbaat begin styftrek, die remme inskop – mits jy by ’n stopteken stilstaan – en die noodflikkers aanskakel om die ou agter jou se aandag te trek (jip, dis óók standaard).

Dan is daar meganismes wat jou in die middel van ’n baan hou indien jy buk om jou blikkie koeldrank van die vloer af op te tel, en ook kameras wat die spoedgrens op padtekens lees.

Daar is selfs ’n funksie met die naam Pilot Assist (R19 250) wat die stokke sal oorneem as jy agter die stuur sou flou word.

Ons was veral beïndruk met Park Assist (R7 900) – dié neem oor as jy bang is om parallel te parkeer, en hy sal jou boonop help om uit ’n parallelle parkeerplek of gangparkering terug te stoot terwyl die kameras en radars ’n wakende oog op voetgangers en ander motors hou.

Dan is daar natuurlik ook ’n noodhulpstelletjie in die bagasiebak én ’n ooraanbod van tweefaselugsakke. Die Swede is duidelik besorg oor jou welstand.

Hoe ry hy?

Daar is twee enjins om van te kies: Die D4-diesel en T5-petrol – albei is allewielaangedrewe. (’n Voorwielaangedrewe T3 sal later vanjaar hier aanland.)

Soos ons vroeër genoem het, was daar nie veel tyd om hom deeglik te toets nie, maar ons sal ’n punt daarvan maak om hom wéér in die hande te kry.

Wat ons wel opgemerk het, is hoe ongelooflik stil die binneruim is en hoe opgewonde die enjin voel – veral die T5-petrol.

Die D4-diesel het meer wringkrag, maar ons was nie gek oor die gekletter uit die enjin nie. Daar was ook ’n effense vertraging wanneer jy die pedaal trap (met albei enjins), maar ons vermoed die pedaal self is hiervoor verantwoordelik en nie die enjins se werkverrigting nie.

Slotsom

Pryse begin by R489 500 vir die XC40 T3-handrat Momentum – ongeveer R100 000 minder as sy direkte mededingers. Dit gaan jammer wees as Suid-Afrikaners Volvo se kleinste sportnuts die koue skouer gee, want hy’s lekker verby.


SPESIFIKASIES

Model XC40 T5 Geartronic AWD R-Design

Enjin 1 969 cc, viersilinder-turbopetrol

Krag 185 kW @ 5 500 r.p.m.

Wringkrag 350 Nm @ 1 800 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties

Brandstofverbruik 7,2 l/100 km

Brandstoftenk 54 l

Bagasieruim 460 l

Maksimumsleepgewig 2 100 kg

Grondvryhoogte 211 mm

Diensplan en waarborg 5 jaar /100 000 km

Diensperiodes 20 000 km/jaarliks

PRYS R649 700