Die Volvo XC60 is ’n topverkoper in die Europese mark vir luukse sportnutsvoertuie, en sedert 2009 is meer as ’n miljoen eenhede wêreldwyd verkoop.

Volvo hoop om op dié suksesverhaal voort te bou met die tweede geslag XC60, want hy’s verantwoordelik vir 30% van Volvo se totale verkoopsyfer.

Dit is ’n middelslag-ryding wat meeding met voertuie soos die Mercedes-Benz GLC en Audi Q5, wat albei meer bied as die XC60 as dit kom by pakplek en luukse katoeters.

Die Q5 se bagasieruim is byvoorbeeld enorm vergeleke met die XC60 s’n, en die GLC se allewielaandrywing werk besonder goed.

Wat wel in die XC60 se guns tel, is sy uitstekende vastrapbeheerstelsel en legio veiligheidseienskappe.

KOEKELOER, BROER. Die groot raakskerm wys wat die vier kameras rondom die Volvo raak­sien sodat jy veilig deur ’n hindernis kan ry. Dieselfde raakskerm beheer ook al die funksies van die XC60, maar daar is wel ’n fisieke knop waarmee jy die ritmodus kan verander.

Nóg die Audi nóg die Merc kan kers vashou by die Swede se beheptheid met gerekenariseerde hulpmiddels. Die XC60 se elektroniese oog hou álles dop en hy’t ’n vinger op die knoppie om die sitplekgordels, noodligte, sluitweerremme en lugsakke te ontplooi.

Maar maak dit dié Sweedse vuurwa beter as sy mededingers?

Wat maak hy met ’n grondpad?

Om dít uit te vind het ons met die XC60 koers gekies na die Sederberg in die Wes-Kaap en die roete tussen Matjiesrivier en Wupperthal gepak.

Die sowat 20 km tot op Eselbank lei jou deur laagwaterbruggies, om ’n paar skerp draaie en oor ’n stamperige, klipbesaaide en ongemaklike tweespoorpaadjie.

By Eselbank draai die koppe omtrent: Dis nie aldag dat só ’n spoggerige kar deur hulle dorp ry nie. Van hier af verder noord raak die pad moeilik. Ná die dorp se laaste skaapkamp is daar ’n padpredikant wat ampter trots aankondig: “Slegs 4x4.” As jy nie klaar die ritmodusknop oorgeskakel het na Off Road nie, moet jy dit nou doen.

Die XC60 se grondvryhoogte is voldoende vir hierdie roete, maar dis ook maar hittete, selfs met die bydrae van die lugvering. Die afdraandebeheer laat die kar versigtig teen die berghang afkruip op pad na Wupperthal doer onder. Hy’s eintlik óórversigtig en ’n mens voel lus om dit eerder af te skakel en op die rempedaal staat te maak.

Die afdraandebeheer laat die kar versigtig teen die berghang afkruip op pad na Wupperthal doer onder.

Op Wupperthal sien die mense die Volvo skaars raak. Elke naweek sak ’n horde toeriste met peperduur toermotors op dié tydlose sendingdorpie toe. Hier is niemand blykbaar beïndruk deur die XC60 se stemmige voorkoms nie.

Terwyl ons met die Koubergpas uitry, begin dit liggies reën. Dié pas het onlangs ’n betonblad gekry sodat besoekers met ’n gewone sedanmotor ook by Wupperthal kan uitkom. Op die berg raak dit weer grondpad, en nou val die reën hárd.

Dis ’n breë kronkelpad oor Hoek se Bergpas en ons besluit om die vastrapbeheer hier te toets. Jy kan maak wat jy wil, maar die XC60 klou aan die modderpad asof jou lewe daarvan afhang... en dit ís seker ook so.

By Moerkop raak ons rustig en die reënbui bedaar saam.

En hoe vaar hy op teer?

Die grondpad loop dood teenaan die R364-teerpad. Ons draai hier links en ry verby die Engelsman se graf, versnel dan suidwaarts in die rigting van Clanwilliam.

Vir die 0-100 km/h-lopie het ons net 7 s nodig, maar die Klipfonteinrandpas se haarnaalddraaie laat nie juis hoë snelhede toe nie. Ook maar goed so, want daar is effense bakwieg te bespeur – nie baie nie, maar beslis meer as dié in ’n Jaguar F-Pace en selfs die Audi Q5.

Naby die digter C. Louis Leipoldt se gedenksteen kom ons die eerste keer agter hoe grafstil dit in die XC60 is – jy hoor die teerpad se gesuis amper glad nie.

Nou en dan is daar ’n vragmotor wat sitrus of rooibos na die Kaapse hawe vervoer en dan moet jy geduldig wag totdat dit veilig is om verby te steek.

Nou, net mooi teen die Pakhuispas uit, moet jy op die outomatiese ratkas staatmaak om jou vinnig verby die vragmotor te kry, maar wanneer jy die versnellerpedaal trap, gebeur daar vir ’n oomblik niks. Dis asof die XC60 besig is om die prentjiemooi Sederberg te bewonder, salig onbewus daarvan dat jy haastig is.

Dan, skielik, skrik hy wakker en jy skiet teen die bult uit. Die traagheid is ’n fout, maar jy kan dit regstel deur altyd in Dynamic-modus te ry, maar dan bly die enjintoere altyd ongemaklik hoog en jy word by die vulstasie gestraf.

LIG HOOG. Die luikrug kan gestel word om tot op ’n gekose hoogte te lig en die bagasieruim het pakplek vir die hele gesin se tasse, maar dis nie so ruim as van sy mededingers s’n nie. Die remligte neem Volvo se kenmerkende L-vorm aan.

Slotsom

Naas ’n Volkswagen Kombi kan ons skaars aan ’n lekkerder voertuig dink om die gesin in te laai en die Kgalagadi-oorgrenspark te besoek.

Die rit is gemaklik en jy sit hoog genoeg om die leeus agter die sandwalle langs die pad raak te sien. Ons hou ook daarvan dat die XC60 net so luuks is as sy ouboet die XC90, maar in ’n kleiner en ratser pakket.

As ons nie van grondpad gehou het nie, sou die Audi Q5 bó die Volvo verskyn het op ons lys.

Die Mercedes-Benz GLC – met lugvering en opsionele veldrypakket – is ook bakgat en hy sal boonop beter as die XC60 in die bos vaar, maar min voertuie kan die netjiese vastrapbeheer van dié Volvo ewenaar.

Die XC60 is ’n gawe ryding, veral op grondpad. Die hoofrede waarom jy hom moet oorweeg, is sy veiligheidseienskappe, maar hou tog ook in gedagte dat geen Volvo ’n watwonderse herverkoopwaarde het nie.

SPESIFIKASIES

Enjin 1 969 cc, viersilinder- dubbele turbodiesel

Krag 173 kW @ 4 000 r.p.m.

Wringkrag 480 Nm @ 1 750 r.p.m.

Ratkas 8 spoed-outomaties (Geartronic)

Topsnelheid 220 km/h

Brandstofverbruik 5,6 l/100 km

Tenk 71 l

Grondvryhoogte 216 mm

Bagasieruim 505 l

Tarragewig 1 904 kg

Maksimumsleepgewig 2 400 kg

Diensplan en waarborg 5 jaar/100 000 km

Diensperiodes Jaarliks/20 000 km

Model getoets D5 Geartronic AWD Momentum

Prys R732 600