foto’s Leon Botha

Die Tiguan Allspace vervang nie die bestaande Tiguan nie, maar bied bloot ’n ekstra keuse aan kopers. En met dié nuweling speel Volkswagen mooi in slepers se kraal, want afgesien van die groter beenspasie vir die agtersitplek is die bagasieruim ook groter – in so ’n mate dat twee opslaansitplekke hierin pas.

Dit maak die Allspace ’n model in eie reg wat nou netjies tussen die gewone Tiguan en die maatskappy se vlagskip-nutswa, die Touareg, inpas. Die Allspace is dus ’n uitstekende gesinsvoertuig waaraan jy met ’n geruste hart ’n wa kan haak – sy turboaangejaagde 2 l-petrolenjin laat nie op hom wag nie.

Kies die model vir jou

Die Allspace is beskikbaar in vier modelle met twee enjingroottes.

Die 1,4 l is die enigste een met ’n sesganghandratkas en hy is ook nie toegerus met 4Motion, Volkswagen se weergawe van allewielaandrywing, nie. Die res – een diesel- en twee petrolenjins – het almal ’n sewegang- outomatiese ratkas (DSG) en al drie is gesertifiseer om tot 2,2 t te sleep.

Jy kan dus bykans enige wa op ons paaie haak. Die 1,4 l se perk is ’n stewige 1,8 t. Die elektriese Westfalia-uitswaaihaak is opsioneel op al vier modelle en kos R7 818 ekstra. Die haak kruip agter die buffer weg, maar dis moeiteloos om hom uit te swaai. Jy trek die knoppie links in die bagasieruim en die haak vou halfpad uit.

Van hier af moet ’n mens die stang met die hand opdruk totdat hy inklik. Vir die terugswaai werk dit dieselfde: Jy moet die stang weer met die hand tot in sy plek terugdruk.

Die ligtesok sit dwars in die nek van die stang en die Tiguan “sien” die woonwa wanneer jy die ligteprop in die harnas druk. Die rekenaar weet selfs wanneer een van die wa se ligte moeilikheid gee, en sal byvoorbeeld ’n waarskuwing gee soos: “Trailer: Please check left tail light.”

Wanneer jy die Tiguan sluit en die alarm aanskakel terwyl die wa gehaak is, hou die rekenaar ook ’n ogie oor sake. As iemand die ligtedraad ontkoppel, sal die alarm afgaan. (Dié funksie werk ongelukkig nie as jou woonwa LED-ligte het nie.)

Die waswaaibeheer is standaard op al die modelle en word outomaties geaktiveer wanneer ’n mens die kar aanskakel. Dié stelsel is gebou om doeltreffend te werk op waens met inloopremme en skop in wanneer ’n mens vinniger as 60 km/h sleep.

Dieselfde geld vir die enjin se outomatiese aan- en afskakelmodus as ’n mens stilstaan in verkeer. Wanneer jy die wa koppel, word hierdie modus gedeaktiveer en die enjin bly aangeskakel in verkeer. As die kar dalk nie die woonwa sien nie, moet jy onthou om self dié funksie te deaktiveer. Die knoppie sit links van die rathefboom. 

Mooi lyne (tot onder die enjin­kap). Die Allspace laat die koppe draai, maar nie alles gaan oor mooi lyk nie: Selfs die enjinkap is prakties en lig maklik met een fris gasstut.

Oë in jou agterkop

Volkswagen is deel van die eerste span met sy trukamerastelsel, veral vir woonwaslepers. Die skerm is ekstrahelder – en buiten die beeld van agter wat op die skerm wys, maak Volkswagen dit nóg makliker wanneer jy tot 30 cm van die koppelstuk af terugstoot.

Die kamera het ’n verstelling waarmee jy die bol en koppelstuk direk van bo af kan sien. Dan wys drie groen halfsirkels op die skerm om die haak wat elk sowat 10 cm voorstel. Jy kan dus presies sien hoe ver die koppelstuk van die bol af is, en boonop strek ’n oranje lyn van die bol af oor die skerm.

Soos jy die stuur draai, krom die lyn in die rigting waarheen jy terugstoot en jy kan presies korrel tot teen die koppelstuk.

Volkswagen neem hierdie terugstoottegnologie selfs verder: Die Tiguan se rekenaar kan die stuur oorneem wanneer jy terugstoot. Druk die Park Assist-knoppie langs die rathefboom wanneer jy die ratkas in trurat sit. Moet van nou af nie aan die stuurwiel raak nie, want dit deaktiveer die outomatiese terugstootmodus. ’n Grys prentjie van die buitelyne van die kar en woonwa verskyn in die instrumentepaneel voor jou en wys die hoek tussen die kar en die wa soos jy stilgehou het.

Druk nou die syspieëls se stelknoppie na die kant waarheen jy wil terugstoot. ’n Ekstra prentjie van die wa in oranje verskyn nou op die grafiek wat wys tot op watter hoek jy met die stelknoppie korrel. Die stuurwiel draai terwyl jy die spieëlknoppie verstel.

Sodra jy die rem los, stoot die Tiguan terug in die rigting wat jy gekies het, en bly aan die rol terwyl die rekenaar die hoek tussen die kar en die wa dieselfde hou – dit is só gekalibreer om te keer dat die wa knipmes.

Nog ’n toevallige voordeel van die funksie is dat wanneer jy in die kar klim en dadelik wil terugstoot, stoot hy terug teen presies dieselfde hoek waarteen jy stilgehou het. As jy dus in ’n reguit lyn stilhou, stoot hy net so reguit terug met die wa.

Die stelsel is soortgelyk aan die een wat ons in die nuwe Land Rover Discovery teëgekom het, maar vir die Landie betaal jy meer as dubbel soveel. In dié marksegment is dit dus uitsonderlik.

Dis die klein dingetjies...

Soos met die meeste ander karre is daar plek vir koeldrankblikkies tussen die voorsitplekke. ’n Mens sien gereeld van die houers wat te groot is vir die kleiner blikkies soos Red Bull, maar Volkswagen s’n het ’n ekstra plastiekskerm wat uitgly om die kleiner blikkies ook stewig vas te hou.

Buiten die gerief van USB-sokke vir die voorste- en agterste insittendes is Volkswagen ander vervaardigers ver voor as dit kom by leesliggies vir die agterste passasiers. As slepers is ’n mens gewoond daaraan om ver ente te sleep en dis nie vreemd om tot in die donker agter die stuur te sit nie.

As die kinders dan agter wil sit en boeklees en die lig bo hulle aanskakel, kan dit steurend wees vir die bestuurder. In die Tiguan sit die agterste leesliggies egter bo die deur en die lig skyn direk op die agterste passasiers – as bestuurder weet jy nie eens van die liggie nie. Volpunte hiervoor.

Die Allspace is 21,5 cm langer as die standaard-Tiguan wat op sy beurt die asafstand met 11 cm verleng. Dit sorg vir 6 cm meer beenspasie vir die middelste ry sitplekke.

Uit die rugkante van die voorsitplekke slaan twee skinkborde plat, amper soos dié in ’n passasierstraler. Buiten dat dit ook ’n koppiehouer het, kan dit teen 45° stel as jy dit wil gebruik as stut vir ’n leesboek.

Nóg slimmer

PRAGMATIES KRY NUWE BETEKENIS. Volkswagen verstaan wat werk vir motoreienaars: Die truskerm het groen indekslyne om van bo af presies te sien hoe ver ’n mens van die wa se koppelstuk af is; die liggies by die agtersitplekke pla nie die bestuurder nie; en die staanplek vir koeldranblikkies tussen die voorsitplekke kan verstel vir standaardtot kleiner blikkies.

Volkswagen gebruik al ’n paar jaar as opsie ’n volledig gerekenariseerde skerm vir die instrumentepaneel wat hulle die Active Info Display noem. Een van die groot pluspunte van die stelsel is dat jy byvoorbeeld die navigasiestelsel se kaart voor jou in die instrumentepaneel kan sien.

Dit beteken jy hoef nie kant toe te kyk na die skerm in die middelkonsole nie. Volkswagen het nou ’n bykomende gerief wat hulle die Head-up Display noem. ’n Deurskynende glasskermpie net kleiner as A5 slaan voor die bestuurder uit die paneel op.

Die glasskerm het ’n rekenaarskerm onder en die gegewens weerkaats dan hierop – dit lyk of die syfers in die windskerm voor jou sweef en wys lesings soos jou spoed en die spoedbeheer. Buiten die watertemperatuur kan ’n mens ook sien hoe warm die olie in die enjin word.

In stadsverkeer (en sonder die woonwa) was die olie 110 ºC en die watertemperatuur 90 ºC. Omtrent halfpad deur die sleeptoets het die olietemperatuur gewissel van 106-113 ºC terwyl die watertemperatuur se metertjie nie geroer het nie.

Pieter sê

Pieter Crous is op sy gelukkigste agter die stuur en voor die wa. Dis wat hy dink.

Dis nou maar een ding van Volkswagen: Hulle voertuie is gesofistikeerd. Dis asof ek in ’n nuwe kar klim, maar eerder moet leer hoe ’n rekenaar werk, want omtrent alles is elektronies.

Die elektroniese navigasieskerm in die middelkonsole is ekstragroot, en ’n mens hoef nie eens aan die skerm te raak om verstellings te maak nie; jy kan jou hand ’n entjie bo dit beweeg en dit sien die beweging raak. Daar is selfs ’n ekstra ikoon in die instrumentepaneel wat aangaan wanneer ’n mens die flikkerligte gebruik om te wys die wa se ligte werk.

Die stuur kan nader en verder van jou lyf stel, en al dink ’n mens teen dié tyd dit werk elektries, moet jy dit met die hand doen.

Ek verkies ’n sagter sitplek, en hoewel dié een taamlik ferm is, is dit darem nie ongerieflik nie.

Die enjin is nie skaam om met die ton aan die haak ordentlik te trek nie. Hy is behoorlik wakker en jy weet nie eens van die woonwa nie. Saam met die supergladde dubbelkoppelaarratkas kan jy beswaarlik vir ’n ratser kombinasie vra. ’n Mens verwag ook nie sulke hoë Newtonmeters op dié grootte petrolenjin nie.

As jy byvoorbeeld aan die ratspaan raak, skakel hy oombliklik oor. Ek het hom net vir die toets tot by 140 km/h (op die odometer) gedruk... en steeds het ek nie van die woonwa geweet nie. Hy is lekker laag op die pad en die vertikale beweging by die haakgedeelte is minimaal. Daar is dus geen wieg oor die wiele nie.

Die Allspace is hard geveer, maar darem nie só dat dit ongemaklik raak nie. Hiermee saam is dit asof die stuur amper te maklik draai teen ’n lae spoed; jy kan die stuurwiel sommer met jou pinkie draai. (Die stuur werk met ’n elektromeganiese stelsel wat dit strammer maak hoe vinniger jy ry.)

Die Tiguan klou wel soos ’n neet in die draaie, en uit die aard van die effense stram vering het hy bykans geen bakrol nie. Jy kan hom maar looi in die slap draaie. Ek hou van die virtuele skermpie wat voor jou opslaan sodat jy onder meer jou spoed teen die windskerm voor jou kan lees. Dis merkwaardig.

Die sleepding

Fabrikaat Invader Model Quattro

Jaarmodel 2018

Gelaaide gewig op die as gedurende toets 1 100 kg

Neusgewig 80 kg

Weg Ry & Sleep het die Invader Quattro by Tygerberg Caravans & Campworld geleen. Bel vir Wesley Dempster by 021 982 4670 as jy die Quattro van nader wil bekyk.  tygerbergcaravans.co.za

Die toets

Afstand 111 km

Topspoed 133 km/h (GPS) Gemiddelde spoed 64,4 km/h (snelweë, agterpaaie en beboude gebiede).

Rytyd 1 uur en 44 minute.

Weer 16 ºC, gedeeltelik tot heeltemal bewolk en ’n noord-noordwestewind van 6 km/h.

Wat sê die boekie?

Brandstof Petrol

Enjin 1,984 l

Silinders 4 inlyn

Krag 162 kW @ 4 500-6 200 r.p.m.

Wringkrag 350 Nm @ 1 500-4 400 r.p.m.

Ratkas 7 spoed-outomaties (DSG-dubbelkoppelaar)

Aandrywing Allewiel, maar hoofsaaklik met die voorwiele.

Tarra 1 680 kg

BVM 2 420 kg

BKM 4 925 kg

Sleepvermoë vir geremde sleepding Tot 2 200 kg

Afmetings 4 701 mm (l); 1 839 mm (b); 1 656 mm (h)

Asafstand 2 790 mm

Spoorwydte 1 585 mm (voor); 1 574 mm (agter)

Grondvryhoogte 201 mm

Brandstoftenk 60 l

Prys (nuut) Vanaf R604 800

Prys (tweedehands) Ons het op autotrader.co.za ’n 2018-model met 200 km op die klok gesien vir R549 500.

VINNIGE FEITE

Die sleephaak Die haak is nie standaard nie en die maksimum-neusgewig wat die bol mag dra, is 100 kg. Volkswagen beveel wel ’n neusgewig so na as moontlik aan 100 kg aan.

Vering Dis asof die Tiguan effens stamperig ry, wat beteken die vering is aan die stram kant. Kyk ’n mens na die 10 mm wat die stert gesak het met die 80 kg-neusgewig van die Invader, maak dit sin.

Wat sê die skaal? 1 960 kg met ’n vol tenk brandstof en die bestuurder in die kar. Die kombinasiegewig (BKM ) was 3 060 kg.

Binneruimte Twee vingers oop bo jou kop op die voorsitplek met die sitplek hoog gestel, en dieselfde ruimte oop bo jou kop op die agtersitplek. Hier pas ’n dwars hand voor jou knieë in.

Spoed Teen 100 km/h op die odometer wys die GPS 96 km/h.

Brandstofverbruik As ’n mens in ag neem hoe gesofistikeerd die Tiguan is met al sy elektronika, is dit vreemd dat ons brandstofsomme soveel verskil van dié van die rekenaar. Die blikbrein meen die verbruik was 14,6 l/100 km (6,8 km/l), terwyl dit eerder nader aan 12,3 l/100 km (8,1 km/l) was – dis darem effens beter!

Afwerking Oorwegend donker, hoekig, stewig en stylvol.

Ekstras Onder meer ’n panoramiese sondak R12 206, die Head-up Display R9 180, Active Info Display R8 675 en Adaptive-spoedbeheer R5 094.

Ander modelle? Trendline 1.4 TSI R463 400; Comfortline 2.0 TSI 4Motion R523 800; Comfortline 2.0 TDI 4Motion R571 100

Weg Ry en Sleep Moenie in die eerste 1 000 km van ’n nuwe Allspace sleep nie. En wanneer jy wel begin, blaas die bande op tot hulle maksimumdruk.