Foto's: Toast Coetzer

Dis Maartmaand en omtrent elke middag net ná twee bars die hemel bo Kasane oop met oorvloedige, warm somerreën. Vlakvarke vleg deur die verkeer in die hoofstraat voor die Spar. ’n Man (doenig op sy selfoon) systap ’n waterplas en dan ’n vlakvark, klim in sy BMW en ry straataf. Agter die dorp steek ’n trop olifante die deurpad tussen die grensdorp Kazangula en die Chobe- nasionale park oor. In die agtergrond, wakend oor Kasane se vullishoop, rol ’n honderd maraboes hulle oë: Vir hulle is dit niks nuuts nie.

Dalk wil die olifante gaan water drink in die Choberivier. Hoewel Kasane deesdae snel uitbrei (nuwe winkels, ’n Nando’s, ’n derde mall...) is hier steeds ’n paar gangetjies oop waardeur die olifante (en saans: buffels) kan beweeg om by hulle gunstelingrivier uit te kom.

’n Trop olifante steek die hoofdeurpad oor wat agter Kasane verbyloop en die Chobe- nasionale park verbind met die nabygeleë grensdorp, Kazungula.

Dis skaars 12 km van Kazungula (waar die bedrywige grensposte met Zambië en Zimbabwe geleë is) tot by Kasane se westekant, waar die dorp aan die Chobe- nasionale park grens. In hierdie 12 km is lodges, winkelsentrums, plase en woongebiede én wilde diere. Die druk op die diere neem toe, en met die bou van die nuwe brug oor die Zambesirivier (dis nog nie klaar nie), het die twee dorpies se bevolking vinnig gegroei.

Maar vir nou bly Kasane (en Kazungula) een van die wildste dorpe in Botswana – selfs al kan jy met ’n Hyundai i20 tot hier ry. Ja-nee, jy stap nie sommer snags rond in Kasane nie – ek het een aand langs die hoofstraat amper in ’n seekoei vasgeloop. En jy moet gedurig aan krokodille dink as jy naby die rivier staan.

Kom ontmoet van die inwoners wie se dag soms begin met leeus wat ’n buffel in hulle straat vreet...

Oreilwe Ndolo

President van die Kasane-BMW-klub

Ek het op Nata grootgeword en werk by die departement van waterwerke. Ons het die BMW-klub in 2017 gestig. Dis ook ’n gemeenskapsprojek waarmee ons items soos klere of seep skenk. Ons het tans sowat 20 lede – jy moet natuurlik ’n BMW hê om lid te wees!

Duitse karre is die beste, en maklik om te onderhou. Die persepsie is dat ouens wat ’n BMW bestuur, net vinnig wil ry – maar ons wil dit verander. Ek het my BMW – dis my tweede – laasjaar in Francistown gekoop vir P65 000 (R87 000). Hy’t nou 95 812 km op die klok. Baie van die tweedehandse BMW’s word ingevoer en kom eers na Suid-Afrika deur die Durbanse hawe voor hulle in Botswana herverkoop word.

RY JY ’N BMW? Kontak vir Oreilwe by ondolo@wuc.bw

Waterlikkewaan
Seekoeie in die Choberivier.

Sue Burnie, Chris du Plessis en Anna van Wyk

Hierdie drie sibbe het in die omgewing grootgeword. Anna en haar kinders bedryf Thebe River Safaris op Kasane terwyl Sue op Pandamatenga woon, en Chris in Gaborone werk.

Chris: Ons is in Suid-Afrika gebore, maar ons ouers het in 1954 Kazungula toe getrek toe ons klein was. Ons pa, Kruger du Plessis, of Doep soos die Engelse mense hom genoem het, en ma Anna het ’n rysprojek bestuur langs die Zambesiriver naby die Botswana-Zimbabwe-grenspos – dis waar ons huis ook was. Die rys het goed geaard, maar die voëls, veral eende, en seekoeie het dit vernietig.

Anna: Hulle was entrepreneurs en het ná die rysprojek ’n netwerk van winkeltjies begin. Hulle sou krokodilvelle koop, of droë vis, en dit op die mark in Livingstone gaan verkoop. My pa het ook wyd gereis om beeste te koop...

Sue: ...wat dan tot by Kazungula gebring is waar hulle deur die Zambesirivier na Zambië moes swem! Hulle is dan verder geneem na die slagpale in Livingstone.

Anna: Dit was iets om te aanskou – mans in mokoro’s het die beeste op koers gehou terwyl hulle swem.

Chris: Soms het die krokodille ’n bees of twee gevang.

Anna: Of net ’n stert afgebyt! In die vroeë 1960’s het ons getrek na Serondela, daar waar die piekniekplek in die Chobe- nasionale park vandag is. Die park is in 1967 geproklameer, en toe moes ons weer trek. Maar die jare by Serondela was besonders. Daar was twee strate. Op die oewer was vakansiehuise wat aan mense van Bulawayo behoort het. Dit was bekend as Whiskeystraat. Ons huis was in die enigste ander straat: Ginstraat 1.

Daar was net drie gesinne wat permanent daar gewoon het. Langs ons het ’n oom Ledeboer, die bosbouer, gebly. Hy het net een arm gehad. Ek dink ’n leeu het sy arm afgebyt, maar ek is nie seker nie. Dan was daar die Loizides, ’n Griekse gesin.

Chris: Hulle was eintlik van die eiland Ciprus. Hulle het ook winkels bedryf.

Anna: Dit was ’n vakansieplek in daardie jare, maar net voor ons daar was, was dit ’n saagmeule.

Chris: Ons het in die Choberivier geswem en leer ski. Daar was destyds minder krokodille en seekoeie weens al die jagtery.

Sue: Dit was nie heeltemal veilig nie, maar ons het daai kans gevat...

Chris: Jy het vínnig leer ski – jy’ t skaars geval of jy was weer op!

Bly hier

Thebe River Safaris het kampplek en netjiese kamers, asook ’n gawe restaurant waar jy dalk vir Anna en haar kinders, Franci, Jannie en Louis, kan ontmoet.

Koste Kamp kos P125 (R168) p.p. en kamers vanaf P2385 (R3214) per nag vir 4 mense wat deel, met ontbyt ingesluit. Die nuwe, luukse lodge (op dieselfde perseel) is ook nou oop – doen navraag. theberiversafaris.com

Waar? As jy van Kazungula af ry en regs draai op die hoofpad na Kasane, lê Thebe sowat 400 m verder, op regs langs die Choberivier.

Tshugofatso “Puff” Monyoro maak enige ding uit seil. Sy winkeltjie is by die Kasane-bushalte.
Tshepang Motseothata van Caracal berei ontbyt voor vir drie nagapies, twee skilpaaie en een visarend.

Piet en Rici van Graan

Visboere, Chobe Bream

Ek en Rici het lank met brahman-beeste geboer in die Tzaneen-distrik, maar in 2005 Kaap toe getrek en ’n vulstasie oopgemaak. Maar ek het die boerdery gemis. Ons het vriende in Botswana se Ghanzi-distrik en het daar gaan kyk na plase, maar die grond was te duur.

Ons het toe begin dink aan visboerdery, al het ons niks van dié bedryf geweet nie. Met visboerdery kan jy soveel meer proteïen produseer op ’n veel kleiner stuk grond. Dis meer intensief – amper soos ’n melkery wat 24 uur lank aandag verg. Jy moet dus ’n liefde hê vir die saak.

Hierdie stuk grond tussen Kasane en Kazungula was die regte plek om te begin. Eendag het ek vir Rici gesê ek haak nou my Conqueror-boswoonwa agter die Cruiser en ek ry Botswana toe. Dis hoe dit in 2013 begin het. Daai jaar het ek niks SuperRugby gekyk nie, net gewerk! Ons bly nog in die Conqueror hier agter in die bos op die eiendom, maar bou nou ’n huis. Hier is min misdaad. Vanaand los ek die sleutel in die Cruiser wanneer ek hom parkeer.

Hier is baie geleenthede in Botswana; jy moet net hard werk. Die voormalige president, Ian Khama, het vir my gesê toe hy na die visplaas kom kyk het: “You know, Pieter, we need more people like you in Botswana.” Tans lewer ons 3-5 ton vis per maand, maar ons wil dit oor sowat 5 jaar tot 50 ton verhoog. Die proteïenmark gaan net groei.

Ek kan ook nie sonder my vrou nie. Rici is die yster agter alles. As dit nie vir haar was nie, het ek lankal weggehol.

Koop vis

Besoek Chobe Bream en koop vars vis vir die pan. chobebream.com

Waar? As jy van Kazungula na Kasane ry, lê die plaas op linkerhand, sowat 5 km van die Engen in Kazungula af.

Bobbejane in die Chobe- nasionale park.


Tim Frayne

Sakeman, Kasane

Ek het in Suid-Afrika grootgeword, maar het in 1996 in Kasane kom werk. In ’n stadium het ek by die Chobe Safari Lodge gebly en saans het die luiperds in my tuin se waterbak kom drink. Een aand was daar drié luiperds wat ’n hond gevang en in die tuin gevreet het...

Luislange is ook algemeen in die dorp. Een slag moes ons ’n 2 m lange luislang uit iemand se tuin red. Ons het hom in ’n stuk pyp laat inseil en toe op die bakkie gelaai en bos toe gevat – maar toe wou hy nie uitkom nie! Ons het uiteindelik die pyp daar gelos sodat hy op sy eie kon uitseil.

’n Ander keer het my vriend se dogter my kom roep: ’n Luislang het iemand se hond gevang. Dit was ’n hengse slang. Ek kon die hond uitkry, maar hy was ongelukkig al dood.

Ek het my vrou, Miriam, in Kasane ontmoet. Sy is van Slowakye en werk vir ’n toeragentskap. Ons sesjarige seuntjie, Sam, gaan skool in Slowakye. Van die ander kinders in Kasane gaan na die laerskool net oor die grens in Vic Falls. Party word elke dag heen en weer gery, maar ander is in die koshuis.

Kyk hoe die son sak

Chobe Safari Lodge se Sedudukroeg is een van die beste plekke vir ’n skemerkelkie in Kasane (en Tim se gunsteling; dalk ontmoet jy hom daar). chobesafarilodge.com

Waar? Aan die westelike punt van Kasane.

’n Vlakvark in die middedorp.


Emiele en Claire Bouwer

Bestuurder en kampebestuurder, Spar

Claire: Ek is in Zambië gebore, my ma was Iers, ’n nooi Gaffney. Op ’n Dinsdag, vyf jaar gelede, stap ek eendag in die Spar in Gaborone in en sien die bestuurder...

Emiele: Ja, ons het in die Spar ontmoet! Ek is gebore op Smithfield in die Vrystaat, maar ons familie het in Lesotho gebly – ek was op Ficksburg op skool. My familie het destyds die Fraser’s-winkelgroep besit. In 2001 het ek op Maun by die Shoprite begin werk, toe by die Sefalana-winkelgroep en toe by Spar. Nou is ons al vier jaar op Kasane. Omdat ek op klein plekkies grootgeword het, geniet ek Kasane. Ek hou nie van die stad nie.

Claire: Ons dogtertjie, Emily (3), ken elke wildsbok op die naam, maar geen “mak” diere nie! Wilde diere is al wat sy sien...

Emiele: Sommige aande is hier olifante agter die Spar, in die parkeerterrein tussen ons en die rivier. Ons moet soms die vlakvarke by die winkel se voordeur keer.

Soms is hier swartmambas ook. Net gister het ons ’n 1,8 m lange Anchieta se kobra uit die stoorkamer gehaal.

Ons huis is bo in die dorp naby die teerpad wat na die ingang van die Chobe- nasionale park toe loop. Daar is gereeld ’n hoop olifantmis voor die hek... Nou die aand, drieuur die oggend, het drie leeumannetjies ’n trop buffels sowat 80 m van ons in die straat af gejaag. Later, op pad werk toe, so kwart voor ses, het ek hulle aan die buffel sien vreet!

Doen inkopies

Indien jy kruideniersware vir jou vakansie wil bestel, kontak die Spar in Kasane sowat twee weke vooruit. Hulle sal dit mooi verpak en dan kan jy dit net kom optel. 00 267 625 2437; kasane@spar.co.bw

Waar? In die sakekern van Kasane (vra sommer vir enige vlakvark).

Dr. Lena Patiño van die Caracal-dieresorgsentrum met ’n grootkolmuskeljaatkat.
Dr. Sanath Muliya van Caracal met ’n Anchieta se kobra.


Nicolas Simasiku

Gids, Pangolin Voyager

Ek het langs die Chobe grootgeword. Ek woon op die Impalila-eiland aan die Namibiese kant en het al 16 jaar ervaring op die rivier.

Danksy my werk is ek elke dag buite in die natuur. Die olifante is my gunstelinge om dop te hou omdat hulle sulke sosiale diere is. Dis ook goed om soveel mense van reg oor die wêreld te ontmoet wat almal hier na die Chobe kom om die diere te sien.

Vaar saam

Sonsondergangvaarte Dis dié klassieke ding om te doen wanneer jy langs die Chobe kuier. Vaarte kos tussen P340-P410 (R463-R559) p.p., parktariewe ingesluit. Die beste waarde vir geld is om die oggend saam met die lodge waar jy bly in die park op ’n begeleide wildrit te gaan, en dan die middag saam met dieselfde operateur die sonsondergangvaart te doen, want dan betaal jy net een keer die parktarief.

Saam met ’n operateur is die parktarief P70 (R95) p.p., maar as jy in jou eie voertuig die park ingaan, kos dit P120 (R163) p.p. plus P50 (R67) vir jou kar.

Fotovaarte Die Pangolin Voyager is duur, maar jy kry eksklusiewe toegang tot die park.

Omdat jy op die rivier slaap, kan jy teen sonsopkoms (wanneer die lig op sy beste is vir foto’s neem) op die water wees in ’n kleiner bootjie (met Nicolas agter die stuur) en naby aan die diere en voëls kom.

Jy het ook deurentyd ’n fotografiegids aan jou sy om te help met tegniese goed. Dit kos vanaf US$450 (R6 500) p.p.p.d. met als ingesluit, maar hulle bied ook oggend- en middagvaarte vanaf US$130 p.p. (R1 874 – vir hierdie vaarte word kameras en lense verskaf). pangolinphoto.com

’n Kleinwitreier haas hom in die rigting van ’n padda in die Chobe.
Die Kazungulapont karwei voertuie en mense oor die Zambesirivier tussen Botswana en Zambië.

Segomotso Matengu

Bestuurder, Coffee Buzz

Die Duitse vleisrol – fleischkaese – is ’n gunsteling op ons spyskaart, en ons biefburgers en koffie is die beste op die dorp.

Ek is gebore in ’n klein plekkie genaamd Logothwana, naby Kachikau, wes van Kasane. Ek is gewoond aan die diere en om so na aan die natuur te leef. Ons leer van kleins af hoe om ons naby diere soos olifante te gedra.

Jy moet die diere respekteer, anders respekteer hulle jou nie. Ek het in ’n stadium die opsie gehad om elders te woon, maar ek verkies om hier te wees. Coffee Buzz is elke dag oop van 8 vm.-4 nm. (Sondae maak hulle vroeër toe as dit stil is.) thecoffeebuzz.co.za

Waar? In Kasane se sakekern, aan die rivier se kant van die hoofstraat (Presidentlaan).

By die gewilde eetplek PPCC (Pizza Plus Coffee & Curry... en ’n klomp ander goed ook!) word jy gehelp deur onder meer Goitse Galeboloke, Motlalepula Mwezi, Lucy Kebadireng, Krishna Kumar en Kealoboga Miti.

Sharon Nel

Bestuurder, Kubu Lodge

Sharon Nel by ’n enorme peulmahonieboom wat langs die Kubu Lodge se woudwandelpaadjie gesien kan word.

Ek en my man, Grant, is albei in Zim gebore, maar woon al 24 jaar in Botswana. Dis moeilik om nié van die leefstyl hier te hou nie. Kubu is een van die drie oorspronklike lodges langs die Choberivier tussen Kasane en Kazungula. Dis al sedert 1985 oop. Ons wil graag goeie werksgeleenthede skep – altesame 40 mense werk hier.

Die Kazungulapont net stroomaf van hier verteenwoordig die ou leefstyl. Hulle is besig om ’n brug te bou en dié sal seker ’n nuwe era inlui. Maar nou ja, ’n mens kan nie vooruitgang keer nie – al sou jy dit ’n bietjie stadiger wou laat gebeur...

Die wilde diere is deel van ons leefstyl. Mense wat in ander dorpe of stede grootword, weet nie hoe om hulle te gedra naby wilde diere nie, en dis dán wanneer dit in konflik kan ontaard. Ons het al ’n leeuwyfie met kleintjies hier gehad, en soms ’n ou dagha boy, ’n buffelbul wat uit die trop gestoot is.

Dis spesiaal om van ’n boot op die Chobe af wild te kyk. Dis asof jy deel van die rivier word. Dis baie kalmerend, veral om die olifante wat kom water suip dop te hou.

Bly hier

Die Kubu Lodge het kampplek in ’n stuk oewerbos en 11 mooi chalets onder enorme bome – jy kan ook bespreek en by die restaurant kom eet.
reservations@kubulodge.net; kubulodge.net

Koste Kamp kos P105 (R142) p.p. Kontak hulle direk vir ander pryse.

Waar? In Kazungula – die afdraai is 1,9 km van die Engen en dit word duidelik gemerk.



Michael Hehir

Direkteur, River View Lodge

Michael Hehir van??die River View Lodge in Kazungula.

Ek het op die myndorp Selebi Phikwe grootgeword, maar ons gesin het in Kasane vakansie gehou. Ons het altyd dieselfde kamers bespreek by Chobe Safari Lodge – nommer 19 en 20. Destyds was die pad van Phikwe na Kasane nog nie geteer nie en dit het twee dae gevat om hier te kom. Dit was ’n wilde tyd... Ons het in die Choberivier geswem en een keer selfs gevalskermsweefseil al langs die Chobe!

’n Familie gebande muishonde kom bly soms vir ’n paar dae of selfs weke onder die dek langs die swembad by River View Lodge. Hulle grawe heeldag wurms en goggas uit om te vreet. Verder stap bosbokkies in die tuin rond, partykeer ’n waterlikkewaan of twee – en soms kom die olifante verby. En jy hoor gedurig seekoeie, en snags roep die nagapies. Kasane is deesdae ’n bestemming vir enigiemand: van sakereisigers tot oorsese toeriste tot Suid-Afrikaanse selfrytoeriste. Party van die wildkykbote het selfs Wi-Fi!

Bly hier

Die River View Lodge bied ruim akkommodasie langs ’n stil deel van die Choberivier. riverviewlodgechobe.com

Koste Dit kos vanaf R4 930 p.n. vir 4 mense wat die gesinseenheid deel, met ontbyt ingesluit. Kinders 12 jaar en jonger kry afslag. Hulle het ook pakkette wat goeie waarde bied: Teen R1 880 p.p.p.d. (wat deel) word etes ingesluit, en teen R2 860 p.p.p.d. (wat deel) word etes plus ’n oggendwildrit in die Chobe én ’n sonsondergangvaart op die rivier ingesluit.

Van 1 Desember to 31 Maart is dit lae seisoen: Doen navraag oor afslag in hierdie maande.

Waar? Die afdraai (na regs) is 1,7 km van die Engen op Kazungula af en word duidelik aangedui.

Op Saterdae in Kasane is sokker die groot attraksie, veral as die Kazungula Young Fighters die Satau Hungry Lions aanvat. Hier doen Biki Letuwane, Kushushe Peto en SK Seikano strekoefeninge. Hulle speel vir die Kazungula Young Fighters. Die sokkerveld is oorkant die pad van Thebe River Safaris.


Mark van der Walle

Medestigter van Caracal (Centre for the Conservation of African Resources: Animals, Communities & Land Use)

Mark van der Walle hou hier ’n nagapie vas by die Centre for the Conservation of African Resources Animals, Communities & Land Use in??Kasane.

Ek het in 1982 van Suid-Afrika na Botswana gekom om navorsing te doen by Savuti en teen 1995 op Kasane begin werk. Ek het my vrou, Kathleen Alexander, rondom dieselfde tyd ontmoet. Sy was die senior veearts in die land.

Ons het ’n ruk lank in die ou veldwagtershuis, wat uit 1965 dateer, in die Chobe- nasionale park gewoon. Mense het gereeld weesdiere na ons gebring. Dikwels vrek die ouers – dalk in ’n motorongeluk – en die kleintjies is haweloos. Ons het onder meer jagluiperd, hiëna, wildehond, bosbok, reuse-ooruil, maraboe, buffel en sebra in ons agterplaas gehad.

Ons het besef dié diere het enorme opvoedkundige potensiaal. Sodra mense na die diere kom kyk, het jy hulle op die regte plek om hulle vooropgestelde idees oor wilde diere te verander. Ons het toe Caracal as ’n nieregeringsinstansie begin. Ons pas diere op wat nie weer in die natuur vrygelaat kan word nie – hulle word ambassadeurs vir hulle spesie. Met die onlangse skoolvakansie het meer as 3 000 skoolkinders van reg oor Botswana ons besoek. Ons het klubs by 12 laerskole in die omgewing en bied elke week omgewingsleerklasse aan.

Caracal is op Kasane, maar ek en Kathy woon naby in Kazungula. Dis wonderlik om tussen wilde diere te woon – die enigste ander plek wat soortgelyk is, is Skukuza in die Krugerwildtuin. Maar as Kasane en Kazungula teen die huidige tempo groei, sal dinge verander – die diere sal nie bly nie. Hulle het deurgange geskep vir die diere om deur die beboude gebiede te beweeg na die rivier, maar niemand het die diere daarvan vertel nie. Hoe moet hulle dus weet waar om te loop?

By Caracal was daar in ’n stadium ’n jong waterbok en bosbok in ’n kamp. Een naweek bel ’n personeellid en sê hy staan in die kombuis en hier buite sit ’n luiperd en kyk vir hom! Die luiperd het onderdeur die heining gegrawe en die bosbok gevang en opgevreet. Ons kon die luiperd uitkry, maar toe kom hy daai selfde aand terug... en vang die waterbok ook!

Leer oor diere

Selfbegeleide toer: P35 (R47) p.p. (halfprys vir kinders jonger as 12 en gratis vir 6 jaar en jonger). Begeleide toer: P65 (R88 p.p., afslag vir kinders). Jy hanteer onder meer diere soos ’n luislang en ’n nagapie. caracal.info

Waar? Aan die westekant van Kasane loop ’n teerpad teen die heuwel op in die rigting van die pad wat na die lughawe en Chobeparkhek lei. Caracal is halfpad teen die heuwel op linkerhand.


KASANE 101

Hoe kom ek daar? Dit is so ’n dag en ’n half se ry van Gauteng af (heelpad teerpad; jy kan met enige kar ry), maar jy kan ook direk van Johannesburg na Kasane vlieg.

Wat is die beste tyd vir ’n besoek? Winterskoolvakansies is die gewildste (bespreek vooruit), maar elke seisoen bied sy plesiere. Hoogsomer (Desember-Februarie) is warm, maar verblyf is dikwels goedkoper.

Wat kan ek doen? Jy het minstens drie dae nodig. Gebruik een voldag om die Chobe- nasionale park te verken, en nog een om ’n dagbesoek na die Victoriawaterval te doen (bespreek dit by jou verblyfplek – jy word met ’n bussie soontoe en terug geneem).

Koop ons gids!
Die nuutste uitgawe van Weg se Botswana-reisgids is te koop vanaf 1 Oktober. Dit kos R61 en kan bestel word by winkel.weg.co.za