Dis vanjaar die vyfde jaar wat WegRy sy jaarlikse 4x4 van die Jaar-kategoriewenners aanwys. Ons toekennings is anders as dít wat elders in die bedryf gedoen word en is uniek om die volgende redes:
  1. Ons neem alle voertuie in ag. In gewone Motor van die Jaar-toekennings word daar slegs gekyk na voertuie wat die vorige jaar bekend gestel is. Ons glo dis nie realisties nie, want wanneer ? koper in ? ryding belangstel, kyk hy of sy nie na die heel jongste model nie, maar na alle voertuie in ? gegewe segment, selfs dié wat twee of drie jaar tevore bekendgestel is.
  2. Ons vergelyk appels met appels. Ons dink nie dis reg om byvoorbeeld ? sedan, ? sportnutsvoertuig, ? dubbelkajuitbakkie en ? sportmotor teen mekaar te laat meeding nie, want hulle is op totaal verskillende kopers gerig. Daarom vergelyk ons byvoorbeeld bakkies met bakkies, en sportnutsvoertuie met sportnutsvoertuie.
  3. Ons neem verskeie faktore in ag. Dis een ding om ’n voertuig te bestuur. Maar wat van sy prys, toerustingvlakke, die tegnologie wat hom uniek maak, of sy betroubaarheid?
  4. Ons werk vir ons teikenmark. Ons kyk na voertuie se geskiktheid vir ons lesers en die breër Suid-Afrikaanse publiek.
  5. Ons is onafhanklik. Ons besluite word intern geneem en ons as redaksie het 100% beheer daaroor. 

Volvo XC90 T8 Twin Engine


Dis nie aldag dat WegRy met die Suid-Afrikaanse Motorskrywersgilde saamstem oor ’n motor van die jaar nie. Want met die soort mark waarvoor hulle kyk, het die gilde die afgelope drie jaar ’n Porsche gekies. En voor dit ’n Hyundai Elantra!


Maar vanjaar het hulle die Volvo XC90 sportnutsvoertuig as hulle Motor van die Jaar vir 2016 aangewys, nes ons dit ons Weelde-4x4 van die Jaar aangewys het. En nadat ons vroeër vanjaar die nuwe hibriede model, die XC90 T8 Twin Engine gery het, is ons dit eens dat hierdie voertuig ook ’n pryswenner moet wees. 

Die T8 Twin Engine is van meets af rondom sy aandryfstelsel ontwerp. Hy het twee enjins – ’n 2 liter-petrolenjin en ’n elektriese motor. Die petrolenjin dryf die voorwiele aan met ’n fris 235kW en 400Nm, terwyl die elektriese motor die agterwiele aanpor met 65kW en 200Nm. Dit gee ’n allemintige kombinasie van 300kW en 640Nm wringkrag – meer as ’n Land Cruiser 200 4,5-liter V8!

Met individuele enjins voor en agter is daar geen dryfas van voor na agter nie. Dus sit die batterye in die middel onder die romp, eerder as agter onder die kattebak. En met geen bonkige batterye daar onder die vloer nie, het die T8 plek vir ’n derde ry sitplekke. Dis dan toevallig ook die eerste hibriede sewesitplek-nutsvoertuig ter wêreld.

Die T8 is weliswaar ’n weeldewa en nie ’n hardebaard veldryer soos ’n Cruiser nie, maar hy het ’n veldrymodus wat beide enjins gelyktydig aktiveer vir aandrywing na al vier wiele, sowel as afdraandremming en ’n beperkte-gly-ewenaar agter. Daar is ook opsionele lugvering waarmee jy die reeds goeie grondvryhoogte van 238mm met nog 40mm lig.

Nes sy voorgangers het die T8 Twin Engine amper meer tegnologie as ’n militêre hommeltuig. Wel, dalk inderdaad meer, want die Volvo kan homself tot op 130km/h bestuur. Solank hy ’n voertuig het om te volg (soos in die verkeer of op die snelweg) kan die voertuig met ’n kombinasie van aan boord-radar en –kameras versnel, rem en draai. 

En sy brandstofverbruik maak selfs Prius-eienaars jaloers. Volvo meen jy kan so min as 2,1 liter/100km verbruik as jy hom reg bestuur. Ek het oor ’n paar hoofweë en erge stadsverkeer 3,5 liter/100km gekry. Byna te goed om te glo vir ’n voertuig wat 0-100 km/h in 5,6 sekondes kan klap.


* Onthou: Hierdie is 'n lys van wat ons dink die beste voertuie in hulle onderskeie segmente is. Dit beteken nie dat die ander voertuie in hierdie segmente gemors is nie. In sommige segmente – en hier dink ons veral aan dubbelkajuitbakkies – is die verskil 'n polonieskildikte (tydens 'n depressie en 'n droogte) en moes ons hare kloof om 'n wenner aan te wys.

Hou ons webwerf en Facebook-blad dop vir die ander segmente se wenners.