Die sesde geslag Patrol is in 2010 al in Dubai bekend gestel, maar Nissan Suid-Afrika het onlangs eers besluit om hom hierheen te bring. As hy bekend lyk, is dit omdat hy tot onlangs plaaslik as die Infinity QX80 bemark is.

Jy het die Patrol ook dalk op TV en YouTube gesien as die VN-magte se gunstelingpatrollievoertuig en ryk Midde-Oosterse oliebaronne se gunstelingsandspeelding. Die QX80 het luukser afwerkingsvlakke en ’n ander sierrooster as die Patrol gehad, maar verder was hy basies dieselfde ryding.

MODDERBAD. Die Patrol is ’n groot ryding en hy klouter maklik teen die skuinstes uit, en sy grondvryhoogte is heelwat meer as wat dit met die eerste oogopslag lyk. Die standaard-Bridgestonebande is meer vir die stad bedoel, maar hulle vaar heel goed in die bos.

Buitelangs

Die Patrol lyk makker as sy voorgangers, maar jy moet hom beslis nie vlak kyk nie.

Die stilering mag dalk effens futloos wees, maar onder daai logge lyf skuil ’n Herkuleaanse leerraamonderstel en fris dubbele mikvering op elke wiel wat verbasend baie artikulasie en beweegruimte toelaat.

Die bakwerk lyk dalk swaar en laag, maar die grondvryhoogte van 272 mm is beter as baie van sy mededingers s’n. (Die Land Cruiser 200 staan byvoorbeeld 230 mm in sy sokkies.)

Teen 2 m breed en meer as 5 m lank staan die nuwe Patrol ’n parkeerruimte heeltemal vol en jy gaan beslis nie naby ’n inkopiesentrum se hoofingang staanplek kry nie. Sy 1,9 m hoë dak troon hoog bo jou kop uit en die groot 18”-wielvellings lyk piepklein in die wielboë.

Die klein sondak lyk effens beteuterd, so asof hy by ’n Nissan Juke gegaps is. ’n Groot, panoramiese glasdak sou stukke beter gelyk het.

Die bakwerk lyk dalk swaar en laag, maar die grondvryhoogte van 272 mm is beter as baie van sy mededingers s’n.

Binnelangs

Die Patrol se binneruim is ewe enorm. Dit voel meer soos iemand se sitkamer as die binneruim van ’n voertuig. Trouens, die valshoutinsetsels in die kajuit herinner sterk aan ’n sitkamersuite wat ’n mens by Bradlows sou teëkom.

Die middelste sitplekke het genoeg beenruimte om jou bene reguit te strek en jy kan boonop die rugleuning skuins stel sodat Ouma en Oupa ’n uiltjie kan knip.

Die derde ry sitplekke is breed genoeg vir drie, maar daar is slegs twee veiligheidsgordels.

Tussen Ma en Pa se sitplekke is ’n yskassie wat ruim genoeg is vir ’n pakkie rooiworsies en vier koeldrankblikkies. Die deksel van hierdie yskassie kan aan die voor- én agterkant oopgemaak word.

IN SY EIE KLAS. Die agterligte en binneruim lyk aansienlik anders as enige van Nissan se ander produkte. Nissan-goedgekeurde veldrytoerusting, soos hierdie bosbreker, is reeds beskikbaar in Suid-Afrika. Dié Patrol kort net ´n snorkel en ´n dakrak om hom wilder as die wildtuin te maak.

Veiligheid

Daar is ’n ooraanbod van veiligheidstelsels. Die Patrol sal jou waarsku wanneer jy van baan verander en ’n voertuig in jou blindekol is, en die kruisspoedbeheer sal die volg- afstand tussen jou en die motor voor jou hou.

Sensors in die stuurwiel en petrolpedaal kan aanvoel as jy moeg raak – en dan word jy aangemoedig om te rus. Die Patrol sal vanself rem om ’n ongeluk te voorkom as jy dit nie self doen nie, en sommer vooraf jou veiligheidsgordel stywer trek. Die Patrol weet ook as jy té na aan die sperstreep ry en sal self terugkeer na die middel van jou baan.

Die truspieëltjie kan die trukamera gebruik om ’n onverstoorde sig na agter uit te beeld.

En die beste van alles? Ál die funksies kan jy aan- en afskakel net wanneer jy wil.

Onder die enjinkap

Nissan se groot 4,2 l- en 3 l-dieselenjin is iets van die verlede. Daar was geen manier dat hulle hedendaagse teenbesoedelingregulasies kon slaag nie. Die Patrol is dus slegs beskikbaar met ’n 5,6 l-V8-petrol.

Gekoppel aan die enjin is ’n 7 spoed- outomatiese ratkas met sogenoemde “Adaptive Shift Control” en “Downshift Rev Matching” wat ratwisselings gladder maak en ook brandstof bespaar.

Dis ’n bul van ’n enjin wat 298 kW en 560 Nm uitstoot. Moet dus nie verwag dat die 140 l-brandstoftenk lank gaan vol bly nie.

Só ry hy

Die 18”-wiele is meer sindelik as die amper onbruikbare 20”-bielies waarmee die Infinity QX80 toegerus is. Die ekstra rubber op die wielvellings stel jou in staat om déúr slaggate te ry eerder as óm hulle.

Die hidrouliese vering help ook om die bakwerk regop te hou as jy om ’n skerp draai ry. Sodra druk op die een kant van die voertuig geplaas word (soos wanneer jy swenk), beweeg vloeistof outomaties na daardie kant om die vering stywer te maak. Dis ’n eenvoudige stelsel, maar dit werk.

’n Ritmodusknop naby die rathefboom het vier modusse – vir sand, rotse, sneeu en gewone toestande. Dieselfde knop skakel ook tussen hoë- en laestrek oor en beheer die agterste ewenaarslot. Die middelste ewenaarslot stuur die meeste van die enjinkrag onder normale omstandighede na die agteras, maar krag kan eweredig tussen die asse verdeel word.

Die V8-enjin se gemurmel is aandoenlik en die versnelling as jy die petrolpedaal wegtrap glad nie te versmaai nie. Die Patrol is geensins ’n renmotor nie, maar dis duidelik dié meneer sal ’n dubbelaswoonwa of dubbelromp- hengelboot lag-lag teen ’n bult uitsleep.

In ’n neutedop

Die nuwe Patrol in standaardgewaad het nie ’n voorkoms wat die koppe laat draai nie, maar hy kom tot sy reg sodra jy 33”-modderbande, ’n bosbreker en dakrak vasbout.

As jy die Patrol vergelyk met die Land Cruiser 200 4.5D V8, betaal jy R50 000 minder én jy kry ’n paar katoeters wat die Toyota nie het nie. Die probleem is dat die Toyota uit die boks uit slaggereed is om óm die wêreld te ry, terwyl die Patrol die indruk wek dat hy ’n paar veldry-onderdele nodig het.

Maar dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, want dis immers lekker om jou trokkie “op te doen”.

SPESIFIKASIES

Model getoets 5.6 V8 LE 4WD 7AT

Enjin 5 552 cc, V8-petrol

Krag 298 kW @ 5 800 r.p.m.

Wringkrag 560 Nm @ 4 000 r.p.m.

Brandstofverbruik 18 l/100 km

Tenk 140 l

Maksimumsleepgewig 3 500 kg

Nader- en vertrekhoek 34° en 26°

Tarragewig 2 746 kg

Waarborg 6 jaar/150 000 km

Diensplan 3 jaar/90 000 km

Diensperiodes 15 000 km

Prys
5.6 V8 LE 4WD 7AT .....R1 299 000