Foto's: Leon Botha

Echo4x4 is een van die grootste boswoonwabouers in die land, en buiten hulle boswareeks kan ’n mens ook tussen drie boswoonwaens kies.

Ander boswoonwavervaardigers gebruik hoofsaaklik aluminium, staal of ’n kombinasie van die twee om hulle waens te bou, maar Echo is een van die min wie se romp uit een stuk veselglas bestaan – ’n stof wat nie net omtrent heeltemal bestand is teen verwering nie, maar ook een van die sterkste materiale is wat ’n mens kan gebruik.

Verder word Echo se waens van kop tot toon bykans self vervaardig: van die veselglaswerk en kragstelsel regdeur tot al die seilwerk en koeltrokslotte. Van die drie boswoonwamodelle – die Kavango, Namib en Chobe – is die Chobe nie net die nuutste toevoeging nie, maar ook die kleinste.

Hy is nommerpas vir paartjies, maar ’n mens kan ’n ekstra dubbelbed by bestel. Te oordeel na die Chobe-verkope het Willie Grobler, die eienaar, ’n aar raakgeboor met dié ontwerp, want hulle sukkel om voor te bly. Dis dus glad nie ’n verrassing nie dat die Chobe tans Echo se topverkoper is. 

Verder word Echo se waens van kop tot toon bykans self vervaardig: van die veselglaswerk en kragstelsel regdeur tot al die seilwerk en koeltrokslotte.

Trek vir staan

Echo gebruik een van die oorspronklikste soorte hoekstutte wat ons al gesien het. Twee los stutte pas op die hoeke agter die wa. ’n Ronde buisgedeelte druk in die buitenste gedeelte van die onderstel met die poot – ’n vierkantbuis wat tot op die grond staan – daaraan vas.

’n Gordel (amper soos ’n sitplekgordel) span oor die kop van die vierkantbuis en is vas aan ’n sperrat (ratchet), ook by die kop van die poot. Soos ’n mens die rat se arm trek, wen die gordel op, en soos dit oor die kop van die poot span, druk dit die poot verder af grond toe.

Die gevolg is dat die wa gelig word amper asof ’n hoogligdomkrag aan die werk is – en die wa staan stewig.

Lig die hoed

Die opwipdak lig ’n goeie 75 cm, maar word voor en agter met knippe en nylongordels in plek gehou. Die voorste deel van die opwipdak het ’n lip wat oor die kant van die toegeslaande bedgedeelte pas.

Die dak knip hier met twee knippe vas aan die bedgedeelte. Dié twee knippe het elk ’n veiligheidshakie wat jy eers moet druk voor jy die knip kan oopmaak. Daar is dus nie ’n kans dat die knip op sy eie kan losspring en die opwipdak in die ry oopspring nie. Soos op die meeste boswoonwaens van dié grootte sit die deur aan die agterkant. Die los leer het twee trappe en sy bêreplek is buite teen die deur waar dit in plek gehou word met een swaaiknip (anti luce fastener).

Haal die trappie af en pas dit onder die deur waar dit op twee staalarmpies rus. Die twee gordels wat die dak aan die agterkant vastrek, maak los by die deur. Met die afgeslaande dak moet ’n mens buk om in te klim.

Druk nou die dak op met jou rug. Dit lig maklik en gee ’n vloer-tot-dakhoogte van 1,91 m. Twee H-rame stut die dak links en regs van jou, en om seker te maak dit swik nie, swaai ’n soortgelyke veiligheidsknip as by die neuskant van die opwipdak oor op elke been van die H-arm.

Elkeen het ’n hakie wat vastrek en die dak staan soos hy moet. Jy moet weer buk om uit te klim, want die deur is net oor ’n meter hoog (111 cm). Dis laag, maar tipies van dié grootte wa.

Slimkrag

Echo bou sy eie kragbokse en ’n mens kan sien die maatskappy hou by met die tegnologie, want die boks het ook twee USB-sokke. Die boks sit binne die wa, direk regs van die deur.

Buiten al die smeltdrade, stroombrekers, skakelaars vir die pomp, geiser en ligte is die kragproppe ook hier: een twee- en een driepuntprop. Rondom die kragboks is ’n hele paar pakhokkies in die romp ingebou wat nogal herinner aan ’n kar se mossienes, maar sonder ’n deurtjie.

Weerskante binnekant


Die linkerpaneel binne is een groot kas met verskeie seildeurtjies wat wegrits voor die afsonderlike kassies. Hier is genoeg plek sodat twee mense elk ’n paar hokkies vir hulleself kan toeëien sonder dat jou sokkies en Ma se nagklere pakplek moet deel.

Oorkant is ’n soortgelyke dog effens kleiner kas (dis opsioneel). By die deur – langs dié kas – is ’n bankie met ’n kussing daarop. Dié kas val weg as jy die model met die tweede bed bestel. Dit slaan uit die ruimte na buite oop.

Bo-op albei kaste is ’n soliede plat gedeelte wat as ’n oop rak kan dien waarop ’n mens byvoorbeeld ’n staanwaaier, jou verkyker of selfs ’n opgevoude donskombers kan neersit. Die enigste binnelig sit net bo die kragboks. ’n Lig by die koppenent sal welkom wees, en so ook pakplek.

Jy moet jou selfoon en karsleutels onder jou kussing bêre as jy wil seker maak dis naby. Maar as jy omdraai en voete eerste inklim, is die rakke bo die kaste naby genoeg. Dit geld ook vir die lig.

In en uit vir die bed

Die bed slaan oop oor die A-raam – iets wat vandag standaard is op heelwat boswoonwaens. Maar Willie moes sake ’n bietjie aanpas, want die neuskas is groot en staan omtrent die hele disselboom vol. Die bedgedeelte rus dus steeds op die disselboom, maar stut direk op die neuskas.

Sodra die bed oopgeslaan is, moet jy dit aan die kopgedeelte nog verder na jou toe trek. Die bedbasis verleng ’n verdere 35 cm weg van die romp af. Die tentgedeelte wat oor die bed span, is ook vas aan die basis van die bed.

Om die U-raam onder die seil op te slaan moet ’n mens by die koppelstuk staan. Druk jou hande deur die weggeritste venster waar dit plat lê. Die U-raam het gasstutte wat dit regop slaan en in plek hou; dit slaan ook sonder sukkel op. Vier veerbelaaide latte wat langs mekaar onder rekbandjies op die bedbasis vasgemaak is, is ook by die venster.

Die bed slaan oop oor die A-raam – iets wat vandag standaard is op heelwat boswoonwaens.

Haal hulle uit en span die boseil op die hoeke van die bed asook aan die kante. Klim weer terug in die wa. ’n Tweede U-raam slaan op oor die middelste deel van die bed en vorm die nok bo die slaapkant. ’n Houtblad pas in die gaping tussen die bed en die romp waar dit van mekaar weggetrek is. (In die nuwe modelle is ook dié blad van veselglas.)

Sit nou die matras oor die bed en jou slaapplek is gereed. Die bed is 1,785 m lank en 140 cm breed by die koppenent. By die voete is ’n stuk van 45 cm wat 172 cm breed is. 

Neuskas met twee gate

Die neuskas is enorm as ’n mens die grootte wa in ag neem. Dit het ook ’n deur aan albei kante, wat beteken jy kan dit van enige kant af pak.

Dis ruim genoeg vir bonkige kampgoed soos opgevoude stoele en jou geweefde grondseil. Aan elke deur se buitekant is ’n plastiekwaterkan in ’n houer. Die deure werk, net soos die kombuisdeur, met ’n koeltrokslotmeganisme.

Op boswoonwaens is dit een van die beste en sterkste maniere om die deure toe en geseël te hou.

Aan die koskant

Die twee deure in die linkerkant van die romp is vir die kombuis. Die groter deur is bo die wiel en slaan plat om die werkblad te vorm. Die hele gedeelte in die romp agter van waar die blad wegslaan, is verskeie rakke vir die breekgoed en kruideniersware.

Die koppies en glase pas onder meer in die linkerkantse rakke waar dit uitgevoer is met ’n soort skuimrubber met pasvorms. Dit hou die breekware veilig sodat dit nie teen mekaar stamp op ’n slegte pad nie. Die tweeplaatgasstoof is dwars en links op die blad vasgesit, maar jy moet ook die gasbottel nader dra.

Dié is in ’n eie kassie agter die wiel. Omdat die stoof dwars sit, kan ’n mens nie kla oor die oorblywende deel van die werkblad nie. ’n Mens moet wel net versigtig wees as jy albei plate gebruik, want jy kan jou maklik brand oor die voorste pot. Willie verdien ’n toekenning vir die oppervlak van die blad. Dit lyk soos ’n gepoleerde laag veselglas en het nie rande nie – en dis maklik om skoon te hou.

’n Lig in die kas (met sy eie skakelaar) maak lig oor die blad, en ’n entjie hoër teen die romp is ’n soortgelyke lig. Die ys-vrieskas trek op sy glyraam uit die linkerkas. ’n Los aluminiumraam haak op die punt van die glyraam langs die ys-vrieskas in – dis die plek vir die plastiekwasbak en -droograk.

’n Gemonteerde kraan langs die ys-vrieskas swaai oor die wasbak vir die water. Heel bo teen die romp vou die stoepdak soos ’n vlerk oop tot oor die agterdeur. Dis slim ontwerp en jy gaan nie water opgaar wanneer dit reën nie. Dit slaan in ’n japtrap oop en is hoog genoeg dat jy regop daaronder kan staan.

Spieëltjie, spieëltjie...

In die regterkant, teenoor die ys-vrieskasgedeelte van die linkerkant, is een kas met twee rakke waarin ’n mens slaapsakke of komberse kan pas – en selfs ekstra kruideniersware. ’n Klein vierkantige spieël is aan die binnekant van die deur, maar jy moet buk om jouself daarin te sien.

Die tegniese goed

Lengte 4,15 m

Breedte 1,88 m

Hoogte 2,08 m

Nokhoogte binne-in 1,91 m

Neusgewig 115 kg (standaardtoegerus, voor ’n mens laai).

Netto gewig 760 kg

Dravermoë 740 kg

BVM 1 500 kg

Prys Vanaf R225 000

Plus:

  • Die stoepdak kan nie makliker oopslaan nie en is lekker hoog bo die grond.  
  • Die twee hoekstutte is uniek en werk goed.  
  • Die gladde werkblad sonder sy rande is ’n slim plan. Die opwipdak slaan maklik en hoog op.  
  • Meer as genoeg rakke en pakplek vir twee mense.

Minus:

  •  Die deur se bokant is laag.  
  • Die stoof sit dwars en jy kan jou maklik teen die voorste pot brand.  
  • ’n Lig by die koppenent sal werk.  
  • Die spieël in die regterdeur is te laag vir ’n volwassene.  
  • As ’n mens die ekstra bed bestel, is die kaste aan die yl kant. Weg Ry & Sleep het die Echo Chobe by die vervaardiger geleen.
Handelaarsnetwerk

Hoofkantoor is in Centurion met 3 takke asook 19 handelaars landwyd, insluitend Namibië.

Kontak 012 345 3333; echoacc@echo4x4.co.za; echo4x4.co.za