Foto's Cyril Klopper

Klein sportnutsvoertuie, soos die Suzuki Jimny en Ford Ecosport, is ’n plesier in die stad waar jy deur smal straatjies en in knap parkeerplekke kan wikkel, maar as sleepvoertuig skiet dié buksies – en ander soos hulle – ver tekort.

Jan Venter van Custom Canopies het die behoefte aan ’n bekostigbare liggewig- boswa raakgesien en die Lion’s Cub gebou, juis vir dié ligte sleepvoertuie. Jan sê hy het dié wa se tarragewig op ‘n skamele 250 kg vasgestel.

Ons het hom in Limpopo staangemaak en vier dae lank in hom geskuil teen die Bosveld se gietende donderstorms en versengende hitte.

Regs, voor- en bolangs

Die Lion’s Cub het nie ’n neuskas nie. Om gewig te spaar en die lengte te beperk is daar eerder ’n rak waarop ’n volgrootte 14”-noodwiel en twee gasbottels vasgemaak is.

Die linkerkantste gasbottel voed die stort aan die agterkant van die Cub en die regterkantste bottel is vir die gasstoof in die uitvoukombuis. Die grafie bo die noodwiel is nie vir wanneer ’n skielike behoefte aan tuinmaak jou beetpak nie.

’n Kragkoppelpunt is op die regtersy, voor die as. Agter ’n paneel wat oor bykans die hele lengte van die regterkant strek, lê ’n kassetbed.

Deur twee knippe los te maak en aan twee handvatsels te trek kom die kassetbed moeiteloos uit die Cub se romp te voorskyn. Aan dié paneel is ook ’n venster wat oopskuif en ’n opvoubare wasgoedlyn.

Aan die voorkant van die dak is ’n 120 W-sonkragpaneel wat elektrisiteit aan die batterystelsel lewer. Agter die sonkragpaneel is ’n drarak wat groot genoeg is vir minstens vier sakkies hout of ’n bank jerrykanne.

Die dak wip maklik omhoog met die hulp van gasstutte – maar om die dak weer plat te kry verg meer moeite. Met die een hand moet jy aan ’n lang strop trek wat die dak halfmas laat sak, en met die ander hand aan die vensterraam druk wat die hele struktuur platvou. Dis maklik vir lang kêrels, maar as jy soos Danny DeVito lyk, gaan jy sukkel.

Agter die dak is ’n lang gereedskapskas van aluminiumriffelplaat – net die plek vir hamers, ekstra tentpale en los onderdele. 

Agter, links en onderlangs

Die Cub se deur is links aan die agterkant en jy klim maklik met ’n uitvoutrap in. Die nommerplaat is onder die trap vasgebout en is slegs sigbaar wanneer die trap opgevou is.

Langs die trap is ’n koperkraan wat aan die ingeboude 60 l-watertenk gekoppel is.

Regs van die deur is ’n sluitbare kas waarin jy ’n pompaangedrewe 5,5 l-gasstort (ook gekoppel aan die watertenk) sal vind. Bo die deur en stort is ’n LED-lig waarvan die kleur van wit na geel na rooi verander namate jy die skakelaar druk.

Op die Cub se linkerflank is ’n aluminiumtafel wat teenaan die romp platvou en vasknip. Langs die tafel, bo die as, is ’n gesplete deur waarvan die boonste deel opwip om ’n tipe dakkie te vorm en die onderste deel horisontaal gaan lê. Hier is twee gasstoofplate op die onderste deur.

Die uitvoukombuis is netjies uitgelê – daar is borde, glase en eetgerei vir twee – maar daar is geen LED- dakliggie nie. Daar is wel ’n 12 V-Hellasok in die paneel links bo die uitvoukombuis.

Langs die kombuisdeure is ’n derde deur wat na links oopswaai – hier kry jy die vrieskas op ’n glyraam. Aan die agterkant van die deur is ’n opvoubare raam wat ’n wasbak en ’n droograk dra. Daar is ’n seildak wat uitrol met sypanele sodat jy selfs in eendeweer kan kosmaak.

Die vier hoekstutte vou jy uit deur aan ’n rooi ring by elkeen te trek. Dit is maklik om hulle met die wielmoersleutel te verstel totdat die Cub waterpas staan.

Hoe sleep hy?

Ons het die Lion’s Cub met ’n Volkswagen Amarok V6 gesleep (totaal oorbodig, ons weet).

Danksy die Cub se geringe massa het hy nie inloopremme nodig nie, en met die lae profiel kom jy skaars agter dat daar ’n wa op die haak is, selfs as die wind waai. Jy voel die gewig slegs wanneer jy rem, maar dit voel nie soos ’n swaar sleepwa wat jou stoot nie; meer soos vyftien sakkies sement agter op ’n bakkie.

Op snelweë gedra die wa hom goed en dis slegs wanneer jy ’n slaggat teen hoë spoed tref dat die Cub effentjies bokspring.

Op grondpaaie moet jy versigtiger wees, want die Cub is geneig om esse te kap as jy té vinnig om ’n draai ry.

Kom gerus binne

Agter die deur is ’n reeks seilvakkies vir toiletpapier, flitse en duikbrille. Direk agter die deur, onmiddellik na links, is drie rakkies wat elk groot genoeg is vir ’n paar skoene of ’n badkamersakkie. Daarna volg drie groter holtes waarvan twee ’n seildeurtjie het wat met klitsritsstroke toemaak. Hierdie holtes is ruim genoeg vir ’n week se voorraad klere en handdoeke. Volgende in die ry is ’n kleinerige grimeerspieëltjie wat ongelukkig té laag is om werklik van nut te wees.

In die middel van die boswa se binnemuur is nóg ’n reeks seilvakkies vir tydskrifte, veldgidse, selfoonlaaiers, en dies meer. In die verste hoek links is ’n laaikas met twee deursigtige plastiektrommels. Agter die laaikas is ’n holte vir linne en tafeldoeke (die batterymonitor is ook in hierdie ruimte vasgebout).

Aan die voet van die laaikas is agt 12 V- en agt 220 V-sokke. Voor die laaikas is ’n oppervlak waarop ’n skootrekenaar kan staan sodat jy saans na jou gunstelingflieks kan kyk.

Dit dien ook as ’n bedkassie. Bo hierdie oppervlak is ’n LED-leeslamp. ’n Flouer LED is heel bo onder die nok van die dak.

Goed, die Cub is aansienlik kleiner as ’n tipiese boswoonwa, maar daar is oorgenoeg ruimte sodat een mens vir ’n paar weke vakansie kan hou. Twee mense gaan dit moeilik uithou as hulle saam in die Cub moet skuil teen ’n Kaapse reëntjie wat soms dae lank kan aanhou. Maak liefs beurte om in die Cub rond te loop of aan te trek – tot slapenstyd. 

Kry jou lê

Wanneer die kassetbed uitgetrek is, word die enkelbed in ’n dubbelbed omskep. Die een wat agter teen die venster lê, kan nie regop sit nie weens die kassetbed se lae plafon, maar die ou wat die naaste aan die deur lê, het oorgenoeg beweegruimte.

Onder die strandmatrassies is drie luike wat lei na ’n 60 l-watertenk, ’n 12 V-waterpomp, asook die batterystelsel.

Hier is ook ekstra bêreplek vir ’n houtkameelperd en seepklipseekoei wat jy by ’n stalletjie op pad terug van Sodwana af gekoop het.

Die watertenk se vulgat is onder die bed, wat beteken jy moet die kassetbed uittrek, ’n luik oplig en ’n tuinslang nader sleep om vol te maak.

Die feit dat die vulgat direk onder die kassetbed se glyraamspar lê, maak dinge effens moeilik. Die binneruim is met sagte mat uitgevoer.


Die tegniese goed

  • Lengte 3,5 m Breedte 1,7 m
  • Hoogte 1,8 m
  • Hoogte met dak opgeslaan 3,3 m
  • Vloer-tot-dakhoogte binne in met dak opgeslaan 2,4 m
  • Tarragewig 250 kg
  • BVM 750 kg
  • Prys R125 000 (volledig)


Plus   

  • Slim en praktiese ontwerp.   
  • Daar is oorgenoeg pakplek.   
  • Ruim genoeg om regop te staan binne.   
  • Die ooraanbod van 220 V- en 12 V-kragsokke is welkom.   
  • Hy’s lig genoeg om met die hand rond te stoot.

Minus   

  • Die ingang is klein en lang ouens sukkel om uit te klim.   
  • Die ingang kan doen met ’n gaasgordyn.   
  • Die uitvoukombuis het ’n LED-liggie nodig.   
  • Die trappie na die ingang val soms in die ry oop.   
  • Die watertenk onder die bed is moeilik om vol te maak.

Weg Ry & Sleep het die Lion’s Cub by François Meyer, een van Custom Canopies se klante, geleen. Die wa is nie splinternuut nie en François het ’n klompie van sy eie veranderings aangebring.

Weg Ry & Sleep sê Die Lion’s Cub is ’n veilige wa wat uitstekend agter ’n Suzuki Jimny of ’n Peugeot 3008 sal aard.


Handelaarsnetwerk

Custom Canopies is ’n eenmansaak in Silvertondale, Pretoria.

Kontak 083 281 7800; customcanopies.org