Dit is somer in Slowenië en ons snel deur die beboste voetheuwels van die Alpe. ’n Spierwit stofstreep sleep soos ’n lint agter ons Mercedes-Benz X-klas aan en die V6-enjin brul deur die draaie.

Skielik bars ons uit die woud en beland in ’n lowergroen vallei. Voor ons lê die dorpie Sveti Ožbolt op ’n grasvlakte (bevolking: 78). Ons tik die ratwisselpedale om spoed te verminder.

Sveti Ožbolt is ’n nedersetting nes honderde ander in dié onherbergsame streek. Langs elke huisie met sy spitsdak staan ’n reusehoutstapel ter voorbereiding van die ysige wintermaande wat nader kruip.

Mans en vroue benut die sonnige weer deur in hulle tuin te werk, en ’n meisie in ’n T-hemp en sjoebroek flikvlooi met die bure se seun – hy’s moontlik die enigste outjie van haar ouderdom op dié plattelandse dorpie.

SKOONSKIP. Die binneruim is dramaties, maar nie opgesmuk nie. Die plastiek­panele is kliphard – die voordeel hiervan is dat dit maklik is om skoon te vee. Daar is geen onnodige knoppies op die instrumentepaneel nie; elkeen het sy doel.

Almal stop waarmee hulle besig is en gaap ons X-klas aan. Met al die houtaandraery en tuinmaak sou ’n mens verwag hierdie moet bakkiewêreld wees, maar in die twee dae wat ons Slowenië met die X-klas verken, sien ons slegs drie ander bakkies: ’n VW Amarok en twee Ford Rangers.

Europeërs, veral diegene uit die voormalige Sosialistiese Oos- Europa, is nie bakkies gewoond nie. Maar dinge is aan die verander en in Duitsland, byvoorbeeld, het bakkieverkope tussen 2014 en 2017 met 57% toegeneem. Dis dié dat Mercedes-Benz vertroue in sy X-klas het, veral die V6-weergawe.

Ons het die V6 hard gedruk op knap bosboupaaie in die Sloweense Alpe, en die X-klas se vastrapbeheer het verhinder dat ons die pad byster raak.

Binne en buite

Buitelangs is daar weinig verskil tussen die 350d V6 en die 250d waaroor ons in Weg Ry & Sleep #12 geskryf het – selfs die wielvellings is identies. Die enigste manier om die V6 uit te ken is deur middel van ’n “V6 Turbo”-chroomkenteken op die modderskermpaneel en ’n diskrete X350d-kenteken op die agterklap.

Binnelangs is die verskille selfs minder. Al wat hier anders is, is ’n ritmodusknop langs die ritrekenaarknop en ’n ander viertrekknop wat nie ’n 2WD-modus bied nie omdat die V6 heeltydse vierwielaandrywing het.

Wanneer die V6 in die eerste kwartaal van volgende jaar in Suid-Afrika land, sal hy in twee afwerkingsvlakke verkoop word: Power en Progressive. Eersgenoemde spog met duurder materiale soos leersitplekke en aluminiumpanele in die binneruim, want hy’s uiteraard die vlagskipmodel in die X-klasreeks.

Hoe ry hy op teer?

Die verskil in ritgehalte tussen die 250d en 350d V6 is opvallend. Álles voel anders danksy Mercedes se eie kragoordragstelsel – van die enjin na die wiele.

Mercedes se 3.0-turbodiesel lewer 550 Nm vanaf ’n lae 1 300 r.p.m. en dié wringkragsyfer bly onveranderd tot by 3 200 r.p.m. Dié enjin pas ook goed by Mercedes se 7G-Tronic Plus-outomatiese ratkas wat nie met lang tussenposes in kraglewering sukkel gedurende ratwisseling nie.

Jy kan die ratte ook met jou vingers verwissel deur middel van twee spane agter die stuurwiel. Daar is vyf Dynamic Select-ritmodusse om uit te kies: Comfort, Eco, Sport, Manual en Offroad. Die modusse verander die gedragspatroon van die ratkas en enjin.

Wanneer jy die sleutel draai, is die ritmodus outomaties op Comfort gestel wat die ratkas opdrag gee om geleidelik eerder as haastig ratte te verwissel. In die Eco-modus wissel die outomatiese ratkas vroeg om brandstof te bespaar, maar in Sport bly die ratte langer ingehaak en die enjin reageer vinniger op insette van die versnellerpedaal.

In Manual het jy volle beheer oor die ratkas en jy móét die ratwisselspane gebruik. Die tussenposes in kraglewering tydens ratwisselings is kort  in enige ritmodus, maar in Manual wissel die ratte in ’n oogwink.

Op papier spog die V6-weergawe van die X-klas en VW Amarok met soortgelyke syfers, maar in die werklikheid voel die Mercedes se rit lewendiger as dié van die Volkswagen, en dit is deels te danke aan stywer vering wat beter padhouvermoë aan die X-klas gee.

O KRAGTIE. Die enjinkompartement is ruim genoeg vir ’n V8, ons sê maar net. Toe ons vra of Mercedes ’n X63 AMG sou oorweeg, het die witjasse gegrinnik en beaam dat so iets beslis oorweeg sal word as die aanvraag daar is.

En op ’n grondpad?

Die X-klas se 4Matic- permanente viertrekstelsel gebruik ’n tweefase-oordraratkas uit die G-klas en Mercedes-Benz se eie asse. Die middelste ewenaarslot versprei die enjinkrag in ’n 40-60-verhouding, wat die agterwiele bevoordeel. ’n Opsionele ewenaarslot op die agteras help as toestande uitermate taai raak.

Jy kan in die ry van hoë- na laestrek oorskakel (onder 40 km/h) deur die viertrek-modusknop na die laestrekposisie te draai en die rathefboom vlugtig in neutraal en dan weer terug in D te druk. Jy kan selfs teen ’n steil skuinste na laestrek oorskakel, want die viertrekstelsel sal keer dat die X-klas bergaf tuimel as jy die ratkas in neutraal sit.

Ons het die V6 hard gedruk op knap bosboupaaie in die Sloweense Alpe, en die X-klas se vastrapbeheer het verhinder dat ons die pad byster raak. Die vastrapbeheer saam met die voltydse allewielaandrywing het ook gekeer dat ons die bakkie se agterent kon uitswaai om dwars deur ’n draai te skuif.

Op ’n hindernisbaan naby die dorp Medvode, sowat 20 km noord van Slowenië se hoofstad, Ljubljana, het ons die vastrapbeheer afgeskakel en laestrekratte ingehaak. Die X-klas se viertrekstelsel stel hom in staat om ’n G-klas oor feitlik enige hindernis te volg; wat hom wel terughou, is sy kleiner nader-, vertrek- en oorbrughoek – iets waarmee alle dubbelkajuitbakkies sukkel.

Slotsom

X-klas of Amarok... watter een is die beste? Mercedes-Benz voel ’n veer vir sy mededinger se pogings om ’n ewe kragtige en luukse bakkie te bou. Die voertuigvervaardiger van Stuttgart weet dat mense wat ’n Mercedes-salaris verdien, altyd ’n Mercedes bo enigiets anders sal kies.

Is die X-klas die begeerlikste bakkie ter wêreld? Dis ’n persoonlike saak, en die meeste Suid-Afrikaners gaan aanhou om ’n Hilux of ’n Ranger te kies.

As jy egter gelukkig genoeg is om ’n X-klas te kan bekostig, moet jy jou solank staal teen snedige aanmerkings. Troos jou egter daarin dat die meeste bakkie-aanhangers by uitstek jaloers is op jou.

SPESIFIKASIES

Model X350d 4Matic

Enjin 2 987 cc, V6-turbodiesel

Krag 190 kW @ 3 400 r.p.m.

Wringkrag 550 Nm @ 1 400 r.p.m.

Ratkas 7 spoed-outomaties

Grondvryhoogte 222 mm

Nader- en vertrekhoek 30° en 25°

Oorbrug- en oorleunhoek 22° en 49°

Waaddiepte 600 mm

Tenk 73 l

Brandstofverbruik 9 l/100 km

Gewig 2 285 kg

Dravermoë 965 kg

Versnelling (0-100 km/h) 7,5 s

Topsnelheid 205 km/h

Diensplan en waarborg 6 jaar/100 000 km

Pryse Teen druktyd was die pryse vir die V6 nog nie beskikbaar nie, maar ons reken hy gaan omtrent R100 000 meer kos as sy naaste mededinger, die VW Amarok V6 (R791 300).

Om dié bitter pil makliker te laat afgaan sal Mercedes hopelik ’n paar ekstras verniet weggee wat andersins opsioneel sou wees.