Op Donderdag 10 September 9 nm. kan kykers inskakel vir die loodsepisode van Die Broer Toer op kykNET (DStv-kanaal 144), met die akteur Bennie Fourie en sy twee broers. Vir dié episode van Die Broers Toer pak die drie broers die Tankwa-Karoo aan op motorfietse. Ons het met die broers gesels oor Die Broer Toer, wat die toekoms inhou, en watter moeilikheid hulle al op menige reis ervaar het... 

Wie is die Fourie-broers?

Die korrekte antwoord is die seuns van Ben en Susan Fourie, van Pretoria. Wat ons wel graag wil hê ons kinders moet dink, is dat ons 'n kruising is tussen Kingsley Holgate, Tolla van der Merwe en Maretha Maartens. Op Die Broer Toer kan julle self besluit wie het die meeste karaktereienskappe van die onderskeie helde! 

Op ’n ernstiger noot: Ons is pastoriekinders - dit moet al baie sê, niks fancy nie, maar ons het nog altyd 'n onuitblusbare lus gehad om die lewe saam te geniet, ervarings saam te beleef en altyd mededingend te wees.  

Vinnige feite:

Bennie het 'n slaapprobleem en kan aan die slaap raak terwyl hy Red Bull drink. 

Reynold is die ouboet en dink hy is altyd in beheer, maar hy is nie.

Wilbrie kan nie nee sê nie.

Wat het julle laat besluit om saam as gesin só ’n reeks te doen?

Die eerlike antwoord is Reynold en Wilbrie wil Bennie se bekendheid misbruik. Maar ons is ook goeie vriende en glo só ’n reeks sal ander gesinne en sibbe inspireer om beter oor die weg met mekaar te kom en dinge saam te geniet.

Ons glo ook dat daar 'n behoefte is aan ’n humoristiese, waaghalsige, gesinsvriendelike werklikheidsreeks wat mense saam kan geniet. 

Die loodsepisode van Die Broer Toer vind plaas in die Tankwa-Karoo. Watter soort uitdagings pak julle hier aan?

Die bekoring van die Tankwa is dat daar amper niks is nie. Dieselfde niks raak ’n uitdaging as jy 'n probleem het.... Bennie se motorfiets het gesorg vir genoeg meganiese probleme vanweë sy hoë ouderdom (die motorfiets s’n, nie Bennie s’n nie...). 

Ons wou deur die uitdaging bepaal wie die beste onder druk kan teikenskiet en ’n baan binne die vinnigste tyd kan kafdraf.  

Waarna kan kykers uitsien indien die loodsepisode suksesvol is – wat wag daarna?

Die plan is om ’n vollengte reeks te doen van die Kaap tot in die Noorde van Namibia by die Kunenerivier. Dit sal ’n eerlike werklikheidsreeks wees wat verhoudings toets, met hope natuurskoon en baie interessante uitdagings. Ons het al só baie uitdagings dat daar te min episodes sal wees vir alles wat ons beplan.

Julle reis gereeld saam. Wat is die onvergeetlikste avontuur wat julle al saam aangepak het?

Daar was al ’n hele paar (waarvan twee artikels al in Weg en Weg Ry & Sleep verskyn het), maar die mees onvergeetlike sal seker wees dat ons met bromponies* (die soort waarop tienermeisies ry) die Soutpanne van Botswana deurkruis het. Dit was terselfdertyd mal, lekker en onvergeetlik. Ons roei ook gereeld saam op die Oranjerivier!

Wat is die meeste moeilikheid waarin julle al op ’n reis beland het, en hoe het julle dit oorkom?

Ons het Mamili in Namibië besoek en een van die berugte houtbrûe aangedurf, die brug het gebreek met my pa se woonwa bo-op en seekoeie onder die brug... Dit het dae se swem en sweet gekos om die brug te herstel en die voertuie almal weer veilig oor te kry.  Ons moes letterlik die brug weer bou. ’n Artikel hieroor het in Weg Ry & Sleep verskyn.

Wat is die een ding waarsonder geen reisiger moet reis nie?

Reynold: ’n Leatherman.

Wilbrie: ’n Ordentlike koelboks.

Bennie: ’n Slaapmasjien.

Wat is julle beste kampwenk?

Hou dinge eenvoudig en pak lig. Sorg altyd dat jy droog slaap.

Watter plek in Suid-Afrika sal nooit teleur stel nie – julle sal altyd soontoe terugkeer?

Hombré-manskoshuis se klubhuis, by die Potchefstroom-kampus van NWU... maar as dit kom by toer, die Oranjerivier. Tussen die uitgestrekte dele van die Noord-Kaap en Richtersveld kan ’n mens altyd vry voel en waar daar water is, is daar lewe, die mooiste natuurskoon en pret. 

Watter plek wil julle die graagste nog besoek?

Wilbrie: Ek wil die Amasone met klein rubberducks tem.

Reynold: Ek sal graag landwyd wil toer op een trip.  As ek ’n plek moet kies, die Liuwa-vlaktes in Zambië.

Bennie: Daar waar Reynold en Wilbrie gaan!


Skakel Donderdag 10 September 9 nm. op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir die loodsepisode van Die Broer Toer.

Lees die Weg-artikel oor die rit deur die Soutpanne van Botswana op bromponies hiér.

Die Broer Toer
Die Broer Toer