Sit op Tuindag, vanjaar op 21 Oktober, ’n slag die gereedskap neer en maak die tyd om die vreugde van ’n tuin te geniet – maak nie saak hoe groot of klein hy is nie.

Dis maklik om deel te neem: Besluit hoe jy jou tuinspasie saam met familie, vriende en bure wil vier en laai dan hierdie gratis Tuindag-uitnodiging af. Laai dit af en druk dit uit of stuur dit digitaal aan jou mense en nooi hulle om op 21 Oktober saam te kom kuier.

Wat doen ’n mens op Tuindag? Hier is vier planne:

1. Hou ’n blommekranspartytjie

Ontspan saam met jou vriende terwyl julle saam blommekrone maak. Gebruik vars blomme en groenigheid uit jou tuin. Kyk hier na Blomboy en Suzelle se video’s vir ’n stap-vir-stap-gids oor hoe om dit te maak.

Nog ’n opsie is om ’n kroon te maak by ’n blommekranssstasie by een van dié markte:

  • Neighbourgoods-mark, Woodstock, Kaapstad: 13 Oktober
  • Oranjezicht-plaasmark, Kaapstad: 20 Oktober
  • Neighbourgoods-mark, Braamfontein, Johannesburg: 20 Oktober

Al die materiaal word voorsien en dis gratis – registreer net vooraf hier

Maak jou eie blommekrans of doen dit by een van die gratis stasies op 13 en 20 Oktober.
’n Blommekranspartytjie is ’n vrolike manier om Tuindag te vier.

2. Stig ’n plantklub

’n Plantklub is amper soos ’n boekklub: Jou gaste bring elk ’n interessante plant en julle ruil dit onder mekaar uit. Só kan julle Tuindag vier, selfs al het jy net ’n klein balkon of ’n paar potplante as tuin. Jy leer ken nuwe plante en jou tuinspasie kry ’n nuwe plant by! 

Dit maak nie saak as jou tuin uit potplante bestaan nie – jy kan steeds Tuindag vier!

3. Hou piekniek

Wat is dan nou lekkerder as om buite in jou tuin te eet! Dis maklik: Gooi ’n kombers oop en laat almal iets te ete bring – doopsouse, brood, kouevleis en peuselhappies. Julle kan dit in ’n park ook doen as jou tuin nie gaan werk nie. Maak dit besonders deur jou eie doopsouse en pesto’s te maak met kruie uit jou eie tuin.

Nooi jou vriende vir ’n piekniek in die tuin! Agter van links na regs is Lettie Stols, Lynette Olivier en Willie Olivier, en voor is Sarina Engelbrecht en Justin Duckitt.

4. Braai

Reël ’n braaikuier in jou tuin – met vriende musiek en kos. Gebruik van die kruie uit jou tuin om die vleis te geur en versier die tafels met blommerangskikkings. 

’n Braaikuier is een van die maklikste maniere op Tuindag te vier!

Gaan na gardenday.co.za vir nog inligting en idees.