Sal ek dit kan maak?

Moenie die Camino met ’n reeks halfmarathons verwar nie. Jy stap baie stadig. As jy tans ’n 10 km kan stáp, is ek vol vertroue dat jy dit sal kan maak. En gebruik die oorblywende weke tot September en Oktober om een keer per week ’n stewige stappie in te kry. Hier is oefenprogramme.

Wat as ek dit nie kan maak nie? Of beseer word?

Dit gebeur! Maar onthou: Hierdie is nie ’n army-opneuk nie. Daar is nie ’n sammajoor wat met ’n sweep agter jou gaan staan nie. As jy moeg is of beseer word, laat kom jy ’n taxi. Maar die kern van die Camino-ervaring is dat jy stap – ook as dit nie lekker is nie. ’n Taxi is dus altyd die laaste uitweg. En as jy ’n Compostela (’n sertifikaat wat bewys dat jy dit gestap het) in Santiago wil hê, moet jy die hele afstand te voet aflê.

Jy het die hele dag om die afstand te stap – dit is nie ’n marathon wat jy binne ’n afsnytyd moet voltooi nie. As jy swaarkry, rus … en stap stadig verder aan. Maar die ervaring gaan oor die ure wat jy op die pad deurbring. En dis heerlik!

Jy het die hele dag om die afstand te stap – dit is nie ’n marathon wat jy binne ’n afsnytyd moet voltooi nie

Het julle ’n ouderdomsbeperking? Is ek te oud of te jonk hiervoor? 

Verlede jaar was ons jongste stapper 16 en die oudste 76. En albei het dit gemaak!

Ek stap stadig. Ek is bang dat ek die groep terughou.

Ons reis as ’n groep, maar elkeen stap teen sy eie pas. Op die eerste dag spring ons saam weg, maar daarna besluit jy self hoe laat jy soggens in die pad wil val. Jy sal vinnig ’n stapmaat of twee kry wat teen jou pas stap. 

Ek hoor by vorige pelgrims dat die herberge vuil is. Is dit waar?

Die herberge waarin ek gebly het, was almal skoon. Maar onthou dat die Weg-toere nét van hotelverblyf gebruik maak. Dit gaan nie vyfsterkamers wees nie, maar jy (en jou maat) gaan altyd jul eie kamer en badkamer hê. Dit sal baie beslis skoon wees. Moet jou dus nie aan die bangmaakstories steur nie. 

camino
Kom stap die Camino saam met Weg

Ek het die paklys gesien en het darem nie lus om elke dag dieselfde klere te dra nie. Mag ek regtig net 6 kg se gewig by my hê? Mag ek byvoorbeeld ’n haardroër saambring?

Die Weg-toere het ook gereël dat jou bagasie elke dag vooruit gestuur word na die volgende slaapplek. Jy dra dus net ’n dagsak by jou. Jou tas mag tot 20 kg weeg. My raad aan jou sal egter steeds wees om die minimum saam te neem. Jy wil nie elke dag ’n uit- en inpakkery hê nie en niemand gee om wat jy dra nie.

Die idee van die Camino is dat jy loskom van jou gewone roetine en luukses sodat jy tyd het vir dink. Spoel dus smiddae jou staphemp uit en dra dit môre weer. Saans eet jy in restaurante, maar niemand “trek aan” om uit te gaan nie. Jy mag dus 20 kg by jou hê, maar dis nie nodig nie. (Die hotelkamers sal ’n prop hê vir ’n haardroër en jy is welkom om dit saam te bring, maar myne bly tuis.)   

Die idee van die Camino is dat jy loskom van jou gewone roetine en luukses sodat jy tyd het vir dink

Ek is nie ’n groepmens nie en die idee van ’n groepsreis sit my af. Moet ek die hele tyd in die groep bly?

Die Camino-ervaring is ’n intens persoonlike ervaring en ons resepkteer dit as jy nie lus het vir die groep nie. Ons doen die reisreëlings omdat ons weet baie mense het nie tyd om toere te reël nie of is bang dat hulle ingeloop word.

Ons reël ook groepsaktiwiteite tydens die reis vir die mense wat nie lus het om dit op hul eie te doen nie. Maar ons gaan nie snaaks dink of skinder as jy jou eie koers wil inslaan nie. Jy het jou eie kamer, wat dit makliker maak om alleentyd te hê. 

Hoe besluit ek watter roete om te doen? Watter een is die maklikste?

Die Portugese-Camino is die enigste een van die drie wat ek [Gerda Engelbrecht] nog nie gestap het nie. (Ek gaan saam met daardie groep stap.) Die ander twee roetes is nie een baie moeilik nie. Camino-Finisterre het een kort, maar moeilike bult, en die roete vanaf Sarria het ’n paar kleiner bulte. Albei roetes is pragtig! 

Die laaste 100 km vanaf Sarria is die roete wat deur die meeste pelgrims van die res van die wêreld gestap word. Jy gaan dus baie internasionale mense hier ontmoet en kans kry om met hulle te gesels. Dis ’n groot ervaring om oor Mount Joy te loop en Santiago binne te stap tot by die katedraal.

Camino-Finisterre eindig ook baie spesiaal – wanneer jy in die strand op Finisterre aankom. Dis beslis ’n stiller roete as die ander twee. Ek is bly ek hoef nie te kies nie, want dis almal baie spesiaal.

Dis ’n groot ervaring om oor Mount Joy te loop en Santiago binne te stap tot by die katedraal

Hoe duur is dit? Is daar verskuilde koste?

Die toere kos as volg:

Camino-Finisterre: R27 590 p.p. wat deel

Sarria tot Santiago: R23 580 p.p. wat deel

Portugese Weg: R32 120 p.p. wat deel

Dit sluit in jou vliegkaartjies; vervoer na en van die lughawe en wegspringplek; verblyf in hotelle; ontbyt elke dag en drie aandetes.

Jy moet nog betaal: ’n Schengen-visum; jou peuselgoed deur die dag en die res van die aandetes. Jy kan dit vergelyk met ander toere wat geadverteer word en sal sien dat hierdie regtig nie ’n geldmaakding is nie. 

Vir die volledige besonderhede oor wanneer, waar en hoe ver, lees hier


As jy wil bespreek, stuur ’n e-pos na weg@flightsite.co.za

Het jy ’n vraag wat nie hier beantwoord word nie, vra vir Gerda by gerda.engelbrecht@media24.com; of kontak Lise Coetsee by 087 350 1372