Dalk het jy al die kampvuurstories gehoor oor hoe die diere moes help bome plant tydens die Skepping.

Volgens dié Afrika-vertelling was die hiëna lui en nie te slim nie: Hy het die boom onderstebo in die grond gedruk.

Terloops, het jy geweet dié boom is eintlik ’n yslike vetplant? Daarom het dit nie harde hout nie. En as die boom vrek, verbrokkel dit tot ’n klomp gekoekte vesels. Alle bewyse van hoe manjifiek die boom eens was, verdwyn binne ’n paar jaar.

Die kremetart wat ons ken – die Afrika-kremetart (Adansonia digitata) – kom net in Afrika voor. Maar die Adansonia-genus het nog agt spesies, waarvan die Adansonia kilima ook in Afrika voorkom. Dié boom lyk ook soos die Afrika-kremetart, en kom op dieselfde plekke voor, maar verskil geneties daarvan. Ses ander spesies kom net in Madagaskar voor, en een in Australië.

’n Paar bekende kremetartbome dien as bakens regoor die vasteland.

Toeka se ontdekkingsreisigers het dié bome as roetemerkers gebruik en deesdae doen 4x4-entoesiaste dit ook. Party van dié bome staan nog meer uit tussen hulle broers, danksy hulle grootte of unieke vorme, soos Baines se kremetarte in die Makgadikgadigebied.

Toe die Engelse kunstenaar en ontdekkingsreisiger Thomas Baines in 1862 hier deurgereis het op pad na die Victoriawaterval, het hy op die randjie van die Nxai-pan in die Makgadikgadi kamp opgeslaan, onder ’n staning van sewe manjifieke kremetartbome.

Hy het ’n bekende skildery van dié bome gemaak.

Baines se reisgenoot, James Chapman, het ook ’n kremetart in die gebied wat na hom genoem is: Chapman se kremetart, naby die dorpie Gweta op die randjie van die Makgadikgadi-panne.

Dis interessant om die bome vandag met Baines se skildery van meer as 155 jaar gelede te vergelyk. Die bome het skaars verander!

Om die ouderdom van ’n kremetart te skat lei dikwels tot debatvoering, met skattings wat wissel tussen ’n paar honderd en ’n paar duisend jaar.