Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Ek en my vrou, Di, het in Maart vanjaar op ’n twee maande lange kamptoer na afgeleë dele van Namibië en Botswana vertrek en het selde toegang tot die nuutste inligting oor die Covid-19-pandemie gehad. Ons het by die Mahangu Safari Lodge in die Zambesistreek in Namibië uitgevind ’n staat van inperking het in Suid-Afrika begin.

Ons het die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Windhoek gekontak en is ingelig dat die grens net vir ’n kort tydjie sou oop wees vir reisigers om terug te keer huis toe.

Ons het byna 1 700 km binne twee dae gery net om by die Noordoewer-grenspos weggewys te word: Ons name was nie op die lys van mense met toestemming om oor die grens te beweeg nie. Ons het in die Amanzi-rivierkamp op die oewer van die Oranjerivier in Namibië gebly totdat ons aansoek goedgekeur is. By Vioolsdrift, die Suid-Afrikaanse kant van die grens, was almal baie behulpsaam.

Polisiebeamptes het ons na die Nababeep-hospitaal vergesel vir ’n vinnige ondersoek en vandaar is ons na die Springbok-woonwapark langs die N7 suid van Springbok geneem. Alle reisigers uit Namibië moes hier onder toesig van die polisie en weermag in kwarantyn bly.

Dit was ’n wonderlike plek om 14 dae te verwyl. Ons het ’n groot, oop omgewing gehad vir rondstap en ons het saam met mense gekamp met dieselfde belangstellings as ons. Ons het uiteindelik ’n permit ontvang om huis toe te gaan en ons is drie keer op pad daarheen voorgekeer, maar die polisie- en weermaglede was oral vriendelik. Ons het ons hart verloor op die kampplek in Springbok, en ons sal beslis weer by Amanzi bly.