Sanparke het vandeesweek aangekondig dat verblyf in die meeste van ons nasionale parke oopmaak vir besprekings op 14 Augustus. Jy sal ook vir wildritte in safari-voertuie kan gaan sodra die regulasies hiervoor in die staatskoerant gepubliseer word. 

Ander parke se besprekings vir akkommodasie maak soos volg oop: 

• Addo-olifant-, Kamdeboo-, en Karoo- nasionale park: 17 Augustus 

• Bergkwagga- nasionale park: 20 Augustus  

Dit kom ná die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, se onlangse aankondiging dat reis en oornagverblyf binne jou provinsie toelaatbaar is. Lees al die jongste regulasies vir die toerismebedryf hiér. Besoekers van buite ’n park se provinsie sal steeds weggewys word, sê Sanparke.

Fundisile Mketeni, die hoof- uitvoerende beampte van Sanparke, sê: “Ons sal verseker dat die oopmaak van akkommodasie volgens die strengste gesondheidsmaatreëls voldoen om ons gaste en personeel te beskerm. Akkommodasie sal nie teen volle kapasiteit beskikbaar wees nie, maar sal in fases oopmaak. Daar sal dus aanvanklik beperkte verblyfopsies beskikbaar wees, met ’n stelselmatige toename in opsies binne die volgende paar weke.” 

Die volgende maatreëls geld:

  •  Oornagbesoekers sal ’n bewys van adres moet verskaf wanneer hulle bespreek en wanneer hulle by die park opdaag. 
  • Nie meer as twee mense per eenheid nie, buiten ouers en hulle kinders. 
  • Selfryvoertuie is beperk tot 70% kapasiteit, en ’n kwotasisteem vir dagbesoekers geld steeds. 

“Ons sien uit daarna om ons gaste terug te verwelkom. Geniet die parke, en volg asseblief alle gesondheids- en veiligheidsmaatreëls,” sê Mketeni. 

Ek wil bespreek!
Jy kan aanlyn, telefonies of op e-pos bespreek: reservations@sanparks.org; 012 428 9111 of www.sanparks.org/bookings/

Verblyf in Wes-Kaapse natuurreservate maak dié Vrydag oop 

Sederberge
Die Sederberge. Foto: Evan Naudé.

Kaapse Natuurbewaring het aangekondig dat akkommodasie vir selfsorgverblyf, kampplekke en sekere oornagstaproetes Vrydag 7 Augustus oopmaak – net betyds vir die langnaweek! Kyk hier na die lys opsies wat beskikbaar sal wees, ingevolge die nuutste vlak 3-regulasies. Verblyf maak oop in fases sodat alle veiligheids- en gesondheidsmaatreëls in plek is. 

Lees nog antwoorde op algemene vrae hiér, asook Kaapse Natuurbewaring se vyfstap- veiligheidsprosedure vir oornagbesoekers – dit sluit ’n vraelys vir besoekers in. 

Bespreek by booking.capenature.co.za of 087 087 8250.