Na raming is tussen 30 en 80 uit elke 100 000 mense wat jaarliks in Suid-Afrika gehospitaliseer word, daar weens ’n slangbyt. En as jy lief is vir die buitelewe, is die kanse groter dat jy gepik sal word.

Voorkoming is die beste behandeling

Die beste manier om ’n slangbyt te behandel is om dit in die eerste plek te voorkom. Gebruik hierdie riglyne:

Hou jou oë oop. Kyk uit vir slange in die natuur en bly so ver weg as moontlik. Wees veral versigtig as jy kamp afslaan – slange kan hulle baie klein opkrul en is lief vir warm, donker plekke.

Bly kalm en kyk. As jy per ongeluk nader as ’n meter aan die slang kom, staan doodstil en hou sy reaksie dop. Die slang sal meer waarskynlik ’n ontsnaproete probeer kry om aan te val. As die slang op die grond seil, sal dit waarskynlik vlug en nie aanval nie. Maar as dit sy kop lig en bakkop maak, wil dit aanval.

Sta-a-a-dig. As jy nader as ’n meter van die slang is en dit per ongeluk in ’n hoek vasgekeer het, tree versigtig agteruit. Die slang sal jou dan nie as ’n bedreiging ervaar nie. Staan opsy. As jy op die slang getrap het, staan so vinnig as moontlik weg.

Verskillende slange en hulle gif

Sitotoksies

Slange soos die pofadder se byt veroorsaak Pynlike Progressiewe Swelling (PPS). Dit beïnvloed eerste die area om die wond en kan lei tot nekrose (weefseldood). Sommige kobras, soos die Mosambiekse spoegkobra, spoeg sitotoksiese gif in jou oë. Dit lei tot akute inflammasie van die oog-area.

Neurotoksies

Hierdie slange, soos die swartmamba en Kaapse kobra, versprei gif wat die senustelsel direk aantas en tot Progressiewe Verswakking (PV) lei. Dit veroorsaak verswakte verstandelike vermoë, spierverswakking, verlamming en asemhalingsprobleme.

Hemotoksies

Dié gif word in slange soos die boomslang aangetref. Die hemotoksiese effek belemmer die slagoffer se bloedstollingsvermoë, wat tot onreëlmatige neusbloeiing, en bloed in die urine en braaksel lei. Die simptome word nie dadelik gesien nie en kan dae neem om te verskyn. 

NEUROTOKSIESE GIF

Die druk-immobilisasie-tegniek

Wanneer die slagoffer ’n neurotoksiese bytplek op ’n ledemaat het, pas die drukimmobilisasie-tegniek toe:

1. Pas druk toe, verkieslik met ’n rekverband. As alternatief kan die hele ledemaat in ’n (heel) langmouhemp toegedraai word. Dit is egter jou laaste uitweg aangesien dit moeilik is om druk toe te pas met ’n nie-rekbare materiaal, en een hemp sal dalk nie lank genoeg wees nie.

2. Begin die verband opsit tussen 5 en 10 cm bo die bytplek (dus tussen die wond en die hart), en draai die verband om sodat die stukke oorvleuel. Beweeg óp in die rigting van die hart, en dan weer ondertoe en oor die wond (in die rigting van die hand of die voet).

3. Immobiliseer die ledemaat, en as dit moontlik is, ondersteun dit met ’n slingerverband of ’n spalk.

4. Sien toe dat die verband styf sit, soos met ’n geswikte enkel. Dit moet egter nie die bloedvloei  afsny of ongemaklik wees nie. As dit ongemaklik is, sal die persoon onbewustelik die ledemaat probeer beweeg, wat die immobilisering ongedaan sal maak. 

5. Merk die ligging van die bytplek aan die buitekant van die verband.

6. Moenie paniekerig raak as jy swelling om die wond sien nie. Dit is ’n natuurlike gevolg van die behandeling.

Die swart mamba is neurotoksies en tas die senustelsel aan.

SITOTOKSIESE GIF

Hoewel die meeste lokale gevolge direk deur die sitotoksiese gif veroorsaak word, sal bakterieë dalk ook via die bytplek toegang tot die wond kry. Die risiko’s vir lokale infeksies vergroot as die wond met ’n onsteriele instrument gesny is of op ’n manier in kontak was met besmette artikels.

1. Maak die wond skoon met ’n antiseptiese middel.

2. Vermy verbande by alle sitotoksiese byte. Omdat die wondplekke opswel, sal dit die slagoffer seermaak. Moet nooit ’n toerniket gebruik nie! Dit kan iskemie veroorsaak (verswakte bloedtoevloei weens die swelling) en selfs gangreen as dit vir langer as 1½ uur toegepas word

3. Maak net blase oop as dit lyk of dit kan bars.

4. Sien toe dat die geaffekteerde ledemaat so gemaklik as moontlik is, maar moenie dit uitermate lig as daar baie swelling is nie. Dit verhoog die risiko van iskemie.

5. Moenie self ’n teengif toedien nie. Dit moet verkieslik in ’n mediese sentrum toegedien word waar ’n dokter ’n moontlike allergiese reaksie kan behandel wat deur die teengif veroorsaak word. Die hoeveelheid ampules van teengif wat nodig is, kan tussen 8-20 wissel.

Die pofadder se gif is sitotoksies en kan tot weefseldood lei.

SLANGBYTBESTUUR

As iemand in jou groep wel gepik word, vergeet van al die tuisrate en ouvroustories oor koutisering (naaldterapie), bloedlating, die amputasie van die geaffekteerde lid of die “ontsmetting” van die wond met petrol.

1. Kry die slagoffer so vinnig moontlik by ’n mediese sentrum (bel vooruit om te sê julle is op pad).

2. Probeer die slang identifiseer, maar moenie die risiko van verdere byte loop nie. Spesie-diagnose is belangrik, maar jy kan ook maar ’n foto van ver af neem! In die meeste gevalle sal die noodsentrum die simptome, laboratoriumtoetse en kliniese data in ag neem voordat daar op die behandeling besluit word.

3. Probeer die slagoffer kalmeer.

4. Verwyder alle stywe klere of juwele naby die plek waar die slangbyt was, want dit gaan moontlik opswel.

5. Hou die slagoffer stil. Beweging sal die harttempo laat versnel en die gif vinniger deur sy gestel laat versprei.

6. Gee pynpille, indien nodig: Parasetamol (acetaminophen) of parasetamol/kodeïen-kombinasies werk die beste.

7. As die slang nie geïdentifiseer is nie, stel ek voor dat die slagoffer vir 12-24 uur vir waarneming opgeneem word en as daar geen simptome is nie, kan die persoon ontslaan word.