Heelwat vernuwing by Jurgens Ci

Jurgens Ci, die grootste wavervaardiger in die land, het behoorlik onder sy reeks waens ingeklim en spog met heelparty nuwe modelle.

Gypsey Lite kry ’n opwipdak

Lite Impi
Predator
Predator

Die Gypsey Lite is Jurgens Ci se ligste woonwa en is gemik op slepers met ’n gewone rybewys (kode B). Sy brutovoertuigmassa (BVM) is 750 kg en hy kan in jou gewone motorhuis pas. Die Lite Impi het ’n opwipdak teenoor die vaste dak van die standaardmodel.

Die opwipdak het ’n skarnier bo die A-raam en lig net aan die agterkant, waar die deur is. Die seil tussen die dak en romp het ekstragroot gaasvensters en ’n rek span in die middel rondom die gaas wat keer dat dit tussen die dak en romp vasknyp wanneer jy hom weer laat sak.

Die uitleg binne lyk presies soos die vastedakmodel s’n en sluit in ’n eilandbed en twee bankies agter wat platslaan vir die tweede bed. (Die Lite is wit en beskikbaar met groen, blou en grys paneelafwerking.) Die syfers Gypsey Lite Impi R175 900, BVM 750 kg.

Tomcat en Predator vir grondpad

Jurgens Ci se boswareeks het óók ’n nuwe baadjie aangetrek. Die nuwe reeks bestaan uit twee modelle: ’n kleiner Tomcat en die groter Predator.

Die Tomcat is soortgelyk aan die ou XT75-model, maar die neuskas en gasbottels is nou standaard. Die Tomcat Deluxe kry ekstra kaste aan weerskante van die wa.

Die Predator is nou Jurgens Ci se grootste boswa (teenoor die XT160 van voorheen) en is ’n kleiner weergawe van ’n kombinasie tussen die XT160 en die XT140. Die Predator het ’n gemonteerde daktent met ’n seilafdak wat soos ’n vlerk 270° koelte rondom die wa gooi. Dit het plek vir ’n ys-vrieskas van tot 60 l.

’n Ankerpunt is agter aan die onderstel vasgesweis as jy met die wa vasval en moet herwin.

Die syfers XT Tomcat R52 900, BVM 1 200 kg; XT Tomcat Deluxe R62 900, BVM 1 400 kg; Jurgens Predator R169 900, BVM 1 600 kg.

Baba Bonzai

Jurgens Ci is ook besig met ’n teardrop-wa en het ’n konsepmodel by die skou uitgestal. Die Bonzai is tipies teardrop met die kombuis agter en die deur voor. Hy is volledig toegerus met onder meer ’n mikrogolfoond, 12 V/220 V-kragstelsel en ’n pomp met ’n watertenk.

Prys ± R80 000.

Nuwe reeks op ys

Intussen is Jurgens terug na die tekenbord met sy nuwe woonwareeks – die wit vierkantige padwaens – en gaan nuwe lewe in sy vorige reeks blaas. Dit skop af met ’n opgadering van die vorige geslag Penta, wat sal spog met luukshede soos ’n ingeboude raakskerm vir die kragstelsel. Die wa kry ook ’n herontwerpte voor- en agterkant.



Venter se jongste

Venter het sy Mossie-wa, ’n klein platbak met relings aan die kante, aangepas tot ’n kampwa. Die nuwe Mini Camper is een van die kleinste kampwaentjies op die mark en pleks van die relings kry hy ’n doelgemaakte Howling Moon-daktent wat bo-oor die bak pas.

Met die tent oopgeslaan is die onderkant van die bed net ’n meter bo die grond. As dit effens te hoog is vir jou, kan jy die drietrapleertjie gebruik om tot op die koningingrootte bed te klim.

Die daktent se onderkant het ’n skarnier aan die regterkant en lig soos ’n deksel op om al die pakruimte onder die tent by te kom. Die skarnier kan ook uithaak as jy die daktent eenkant wil sit om die wa op sy eie as vragwaentjie te gebruik.

Syfers R37 999, BVM 700 kg.

Kontak  011 826 1529; sales@venterboksburg.co.za


Travelstar kry Thule-afdak

Travelstar bou twee 4x4-ryhuismodelle waarvoor jy ’n kode C- rybewys nodig het: die Vega en die Capella.

Hierdie ryhuise kom voortaan met ’n Thule-afdak wat jy met ’n slinger uitdraai, asook ’n handreling by die deur, ook van Thule.

Die syfers Vega R1 640 000; Capella R1 699 000.

Kontak  044 382 1516; jan@travel-star.co.za; travel-star.co.za


 

Summit se Andes mik hoër

Summit Trailers het sy Andes-model hersien en in ’n nuwe boswa omskep. Die wa se ontwerp laat ’n mens nou dink aan ’n reusegaapskulp.

Die skarnier sit by die A-raam en die dop lig aan die agterkant. Die binneste bestaan uit ’n enorme bed wat die grootste deel van die binneruim beslaan. Die deksel lig hoog genoeg dat ’n mens regop van agter af kan inklim. Seilpanele met gaasvensters span tussen die romp en deksel, en jy kan die natuur uit jou bed bekyk.

Die nuwe Andes is ligter as sy voorganger omdat die panele nou van aluminium is. Die onderstel is van vlekvrye staal.

Jy het ook meer pak- en werkplek in die kombuis, en selfs ’n uitglyrak waarin koeldrank- en wynbottels regop kan staan.

Bo die neus is ’n oop rak ingebou wat so breed is soos die wa met hoë rande op die kante. Verder pas ’n fietsrak en sonpaneel bo-op die deksel.

Die syfers Vanaf R216 600, BVM (nie beskikbaar).

Kontak  012 803 6535; info@frantelholdings.com


Drie-in-een ryhuis

Maxmo is die nuutste handelsnaam in Suid-Afrika se ryhuisbedryf en rig enigiets van ’n Volkswagen Caddy tot ’n Volkswagen Kombi in as ’n ryhuis. Sy vlagskip is die Tourer, wat in die Fiat Ducato ingerig word.

Vir die Tourer kan ’n mens uit drie binne-uitlegte kies: Die Britse ontwerp (twee enkelbeddens wat in ’n dubbelbed omskep word, plus ’n leefgedeelte en ’n badkamer); die Agter-sitkamer (wat soortgelyk is aan eersgenoemde, maar die bed is agter by die deur); en die model met Flexi-uitleg wat weerskante ’n glydeur het.

(Eersgenoemde twee het net een sydeur.) Die binnekant is ingerig om in drie verskillende konfigurasies op te slaan – van ’n ordentlike slaapkamer tot ’n reusekombuis of ’n badkamer wat sy gelyke nie ken nie.

Die gedagte is dat jy minstens twee dae heeltemal selfvoorsienend met die Tourer kan toer. Hy spog onder meer met ’n 250 l-watertenk en ’n 460 A-3000 W-omskakelaar.

Die syfers Afhangend van die model R860 000 tot R1,4 miljoen, BVM 3 500-4 200 kg.

Kontak  082 899 9999; leon@maxmo.life


Rooimier opgedollie

Bush Lapa het sy kleinste model, die Rooimier, heeltemal vernuwe.

Die standaardmodel is basies en sluit geriewe in soos ’n uitglykombuisrak met ’n gemonteerde tweebrandergasstoof. Toerusting soos die watertenk, afdak en yskas kan jy aanskaf soos dit jou sak of behoefte pas.

Die neus is anders as die vorige model s’n en het ’n dwars kas bo die A-raam wat so breed is soos die wa self. Hierdie kas se deksel lig boontoe en het hope pakplek op ’n gemaklike hoogte.

Die Rooimier het slaapplek vir twee mense en, soos Bush Lapa se groter waens, ’n konvensionele opwipdak.

Die syfers R215 460, BVM 1 500 kg.

Kontak  021 870 1277; martin@bushlapa.com


/

Conqueror brei Platinum-reeks uit

Conqueror se Platinum-reeks is nou ook beskikbaar vir sy boswaens, nadat dié luukse weergawe voorheen net op boswoonwaens te kry was.

Conqueror stel die pakket eerste beskikbaar op sy grootste boswa, die Comfort. Hy staan hoër van die grond af en die standaard-skuifbladvere maak plek vir oog-tot-oog-bladvere, soortgelyk aan dié wat ’n mens op karre sien.

Al die staal wat nie deel vorm van die wa se romp nie – soos die laaie – word nou van aluminium vervaardig. Die A-raam is met 30 cm langer en die gasbottels skuif van agter af vorentoe. Nog ’n nuwigheid is die laai met ’n Weber Q 1 000-braaier wat uit die neuskas gly.

Die daktent werk met ’n 12 V- elektriese katrolstelsel en jy slaan hom met die druk van ’n knoppie oop. Conqueror gebruik dié plan ook in die kombuis. Jy druk bloot ’n knoppie en die kombuis met sy laaie stoot aan die agterkant van die wa uit.

Hoewel ’n Platinum-opgradering rondom R60 000 sou kos, is die Comfort Platinum net R6 000 duurder as die standaardmodel. Die syfers R177 726, BVM 1 500 kg. Kontak  016 349 6533  info@conqueror.co.za; conqueror.co.za 


Kleiner en groter vir Aloe

Warm waentjie

Aloe het ook sy oog op slepers sonder ’n kode EB-rybewys en het sy Peri Peri-model by die skou bekend gestel.

Al is dit ’n klein wa vergeleke met die res van Aloe se reeks, gebruik die vervaardiger steeds dieselfde materiale. Dit sluit in die raamwerk van aluminium en die afwerking van aluminiumplaat. Die modulêre onderstel is van gegalvaniseerde staal.

Die deur sit agter en die werkblad slaan links van die deur plat. Die 220 V-yskas is binne links van die deur en die kombuiskaste oorkant dit. Die res van die binneruim bestaan uit drie konfigurasies vir die bed, bankies en laaiplek.

Óf ’n mens gebruik die hele ruimte as ’n tamaai bed óf dit kan opslaan met bankies teen die kante af en ’n opslaantafel in die middel. Verder kan die regterkantse bankie wegslaan, wat nog ruimte skep as jy byvoorbeeld ’n bergfiets of twee wil inlaai.

Die syfers Peri Peri R159 900, BVM 750 kg.


Excelsa maak sy buiging

Buiten die Peri Peri het Aloe nóg ’n wa by sy reeks van vier – die Camperi, Ferox, Striata en Lebombo – gevoeg.

Die Excelsa is ’n verlengde Striata en het nie net ’n aparte badkamer binne nie, maar ook ’n eilandbed, wat beteken hy is nou Aloe se grootste enkelaswa.

Intussen het Aloe sy waens by drie bestaande woonwahandelaars beskikbaar gestel nadat dit voorheen slegs by die fabriek in Johannesburg verkoop is: Tygerberg Caravans in die Wes-Kaap, Natal Caravans & Marine in KwaZulu-Natal en Camp Guru in Gauteng.

Die syfers Excelsa R385 662, BVM 1 800 kg.

Kontak  011 892 1100; allan@aloecaravans.co.za


Armadillo kry ’n voorkamer

Armadillo se 270°-afdak is iets van die verlede en hy gebruik nou ’n meer konvensionele stoepdak. Twee arms op die hoeke van die wa swaai oop om die kante van die dak te vorm, met pale wat in plek pas vir die nok. Jy gebruik dan verstelbare pale vir die pote.

En as die 3 m-ruimte langs die Armadillo nie genoeg is nie, kan jy ’n tweede dak bestel. Die ekstra dak gee jou ’n verdere 2,5 m onderdakruimte.

Die syfers Ekstra afdak R4 800.

Kontak  021 981 5999  info@ekoveldgear.co.za; ekoveldgear.co.za


/

Mobi Lodge bou kleinboet

Mobi Lodge is bekend vir sy besonderse ontwerp waar die slaapkamer uit die regterpaneel skuif om ’n reuseleefvertrek in die wa te skep.

Die vervaardiger het nou dieselfde benadering met sy nuwe Mobi X gevolg en ’n wa in dieselfde vorm gebou, maar amper die helfte kleiner. Hy word ook van veselglas gebou en is omtrent net ’n dubbelbed op wiele.

Pleks van die slaapkamer wat uitskuif, skuif die hele agterpaneel as een groot rak uit. Hierop staan die gasbottel, ammokiste en ys-vrieskas. Die geiser is in die deur en op die rak is bêreplek vir jou kassettoilet wanneer jy sleep.

Die deur sit links voor en jy kry jou sit van buite af op die voorste gedeelte van die matras en swaai dan jou bene in. Die kombuis is links van die wa met ’n klomp oop rakkies in die teenoorstaande paneel. Die rakkies is van so ’n aard dat jy kan dit van buite én binne die wa kan bykom.

’n Gaasgedeelte span aan die binnekant voor die rakkies as jy saans nóg meer vars lug soek. ’n Daktent pas bo-op die wa ingeval jy moet plek maak vir nog twee mense.

Dit het ’n soortgelyke 12 V/220 V-stelsel as sy grootboet en dieselfde geld vir die 2,5 t-as en 150 l-watertenk. Die Mobi X kom volledig toegerus met selfs kampstoele, beddegoed en ’n braaier. Net die daktent is opsioneel.

Die syfers Vanaf R198 000, BVM 1 500 kg.

Kontak 082 899 9999; leon@mobilodge.com


Kinderbed vir die Shumba Cub

Tuff Cats se Shumba Cub-boswoonwa het nie soos sy groter Shumba-model ’n bed wat oor die A-raam uitslaan nie. Die Cub se bed slaan uit die regterpaneel en is bedoel vir twee mense.

Die vervaardiger het nou ’n deur dwars bo die skuinste van die neuskas ingebou wat oopmaak soos die enjinkap van ’n kar. Dit skep ekstra ruimte in die wa vir ’n kinderbed.

Die syfers R241 195, BVM 1 600 kg.

Kontak 083 609 6947; jaco@tuffcats.co.za; tuffcats.co.za


Overlander se kombuis oorgedoen

Die kombuis van die Overlander-boswa, ’n produk van LeBusha, is herontwerp en sluit nou ’n werkblad van 85 x 53 cm in.

Vier laaie trek onder die blad uit waarvan twee groot genoeg is vir die inhoud van ’n standaardammunisiekis.

Nog laaie is onder die bed ingebou, en die watertenk wat voorheen onder die romp gesit het, is na binne geskuif.

Die syfers R136 800, BVM 1 500 kg.

Kontak  083 416 7157; sales@lebushatrailers.com; lebushatrailers.com


 

Loftus voer Swifts in

Loftus Caravans in Randburg het die regte bekom om die swierige waens van Swift, Brittanje se grootste wavervaardiger, na Suid-Afrika uit te voer.

In die prysklas van net onder ’n halfmiljoen rand is daar min plaaslike vervaardigers wat met Swift-waens kan meeding wat weelde betref. Die binne- en buitepanele bestaan uit veselglas en hout is slegs gebruik vir van die binnekaste. Hulle het ook ’n waterskadewaarborg van vyf jaar.

Twee modelle is beskikbaar: die Atlantic (enkelas) en Coastline (dubbelas). Albei waens het soortgelyke sitkamers in die voorkant. Die Atlantic se eilandbed is omtrent in die middel van die wa met die badkamer heel agter. Die Coastline se badkamer is in die middel en jy moet hier deurstap na die slaapvertrek met sy eilandbed. Albei het ’n binnekombuis langs die sitkamer.

Buiten die puik afwerking – waaronder dubbelgeïsoleerde vensters – is die waens onder meer met ’n bluetooth-stelsel toegerus waarmee jy heelwat van die wa se elektroniesbeheerde toestelle sommer met jou slimfoon kan verstel – van die ligte se helderheid regdeur tot die verhittingstelsel en yskas. Die afleweringstyd is rondom ses weke as Loftus nie voorraad het nie.

Die syfers Swift Atlantic R469 000, BVM 1 500 kg; Swift Coastline R495 000, BVM 1 800 kg.

Kontak  011 792 1446; woody@loftuscc.co.za


Destination... sterk soos ’n boot

Destination-woonwaens, wat vir die eerste keer sy swierige waens gewys het, het omtrent die oog getref met puik afwerkings en ’n minimalistiese dog stylvolle benadering.

Die moedermaatskappy van Destination, Sensation Boats & Living, bou ook Sensation-bote. Die Destination-waens se struktuur is soortgelyk aan dié van seiljagte, en vir sterker en meer duursaam gaan ’n mens ver moet soek.

Die syfers 6 modelle wat wissel van R465 000 tot R750 000; BVM 2 000-2 750 kg.

Kontak 016 366 163; sales@destinationcaravans.co.za; destinationcaravans.co.za


In ’n ander klas

Motorhome-World is bekend vir sy Discoverer-reeks, maar hy spits hom ook toe op die bou van pasgemaakte ryhuise met spesiale versoeke van klante.

Vir R2,5 miljoen kan jy ’n allemintige Iveco Daily 4x4 Xtreme laat bou soos dié een wat op die skou was.

Hy is vir ’n skrywer ontwerp en die hele linkerpaneel van die rompgedeelte slaan plat om ’n stoep te maak. Die binnekant se oop ruimte het genoeg plek vir die kombuis, kantoor en badkamer agter.

Teen slaaptyd druk jy ’n knoppie en die dubbelbed sak uit die plafon grond toe.

Kontak  021 577 3863; info@motorhome-world.com 


Bed op ’n skinkbord

Al die beddens van Afrispoor se boswoonwaens slaan oop oor die A-raam, maar nou kry kopers die opsie van ’n uittrekbed.

Die bed se basis trek uit die wa – soos ’n glyraam (steeds oor die A-raam).

Die neusgedeelte van die romp wat op die standaardwaens sou platslaan vir die bed, trek nou saam met die bedbasis uit en vorm die bed se koppenent.

Prys Uitglybed R15 000.

Kontak  031 569 4323; afrispoor@absamail.co.za; afrispoortrailers.co.za


Lees nog nuusbrokkies uit ons April-uitgawe hier.