Waar is die beste blomkykkolle?

Die Skilpaddeel van die Namakwa- nasionale park is altyd ’n goeie roep, asook die kusgedeelte tussen Hondeklipbaai en Groenriviermond in die park.

Wat is lekker roetes om te ry?

Ry van Springbok af (gaan draai eers by die Goegap-natuurreservaat) oor die Messelpad- en Wildeperdehoekpas. Draai ongeveer 10 km ná die pas links na Soebatsfontein en ry dan van daar af Hondeklipbaai toe – mik dan weer terug na die N7.

Wat is ’n lekker dagplan?

Ry die 5 km-sirkelroete deur Skilpad en mik dan vir die Goegap-reservaat by Springbok – dis ongeveer 70 km ver.

Ouens met ’n 4x4 kan ná Skilpad aanry na die Spoegriviergrotte in die park. Slaan middagete by die grot aanmekaar.

En as ek vir ’n naweek kom?

Ry die sirkelroete deur Skilpad en mik dan na Goegap by Springbok soos hierbo uiteengesit. Slaap oor op Hondeklipbaai.

Ry die volgende oggend in die rigting van Garies en draai af by Wallekraalplaas na die Sarrisamplaas. Draai hier links en ry al langs die Groenrivier verby die plase Soutfontein en Sabies tot by die N7.

Vir watter blom kan ek my oë oophou?

Hier is twee spesies aardrose in Suid-Afrika, waarvan een – Cytinus sanguineus – in Namakwaland voorkom. Gaan soek rondom Hondeklipbaai se vliegveld vir dié blom – hulle blom teenaan die grond, is bloedrooi en het geen groen takke of blare nie.

Waar slaap ek?

Die Baai se Bekstrandhuis is naby die see en hier is plek vir die hele gesin.  072 219 2452.

En dan die Honnehokke, natuurlik! Hier is 6 chalets met slaapplek vir 2 tot 6 mense.  082 564 5471; honnehokke.co.za.

Nóg wenke vir blomkykers?

1. Koop 'n blommegids.

2. Reis met die son agter jou sodat jy die blomme se gesiggies kan sien.

3. Die blomme maak eers oop as die son lekker skyn so ongeveer van 10 uur die oggend en dit warm genoeg is met die temperatuur bo 18°C.

4. Klim uit jou kar en beleef die blomme.

5. Gaan na die naaste dorp se inligtingsburo en vind uit waar die beste blomme is.

6. Maak seker jou kamera (of selfoon) se batterye is gelaai.

NUTTIGE NOMMERS

  • Namakwa- nasionale park 027 672 1948; sanparks.org
  • Garies-toerismestal 027 652 122
  • Goegap-reservaat 027 718 9906
ONS SOEK JOU BLOMFOTO'S
Die foto hier bo is in 2016 geneem. Het jy 'n foto van hoe die blomkykkol nou lyk? Stuur jou blomfoto’s na digitaal@weg.co.za!


* Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #141 (Julie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.